Nuuskommentaar: Myn-Armageddon tot lorrie-aborsie

Dié vragmotor is Donderdag op die M2 naby Germiston vermoedelik deur stakende vragmotorbestuurders aan die brand gesteek. Foto: EWN

Die Marikana-skietery het die fokus goed op arbeidskrisis in die mynsektor geplaas, terwyl talle motoriste nou verontrief word deur die staking deur vragmotorbestuurders, en waarskuwings reeds uitgereik is dat brandstoftekorte kan ontstaan.

Stemme vanuit regeringskringe dat die land van die mees progressiewe, en dus in hul oë, beste arbeidswetgewing ter wêreld het, het min of meer stilgeraak.

Wat nie stilgeraak het nie, is die geweld waarmee stakings en optogte in die land gepaard gaan. RSG het onlangs berig dat ‘n peiling getoon het die meeste Cosatu-lede glo stakings moet met geweld gepaard gaan. Die ironie is dat die geweld en vandalisme wat stakings kenmerk, dikwels die publiek se gesindheid téén die oproermakers draai, al was die saak ook hóé geregverdig. Die howe se beslissing dat die vakbonde aanspreeklik gehou kan word vir skade wat hul lede tydens stakings aanrig, word dus wyd deur die publiek verwelkom. Dit is daarom ook te verstane waarom Satawu ontken dat dit sy lede is wat vir die vernielsug verantwoordelik is.

‘n Mans kan maar net wonder wie Satawu meen dan vir die intimidasie, viktimisasie, aanrandings en vandalisme verantwoordelik is.

Solidariteit en struktuursosioloë waarsku al lank dat die mynbase na die Marikana-slagting ‘n presedent geskep het wat wye implikasies gaan inhou deur buite-om die arbeidsregtelike strukture om te onderhandel. Daardie presedent het baie gou klone opgelewer, met stakers wat nou die vakbonde, veral die Casatu-geaffilieerde NUM, wegjaag en onderhandelaars uit hul eie geledere kies om met die mynbesture te onderhandel.

Die NUM is die ruggraat van Cosatu, en die leierskap daarvan is pro-Zuma. Wat nou gebeur hou dus ‘n ernstige terugslag vir die geloofwaardigheid van pres. Jacob Zuma se veldtog in om die einde van die jaar die ANC se leierskapsverkiesing te oorleef. Zuma se ondersteuners probeer, soos voor Polokwane, Cosatu so ver kry om sy stempel van goedkeuring op Zuma se herverkiesing te plaas, wat tot dusver nog nie kon gebeur nie. Sou die mat volledig onder die NUM uitgeruk word, sal so ‘n besluit in elk geval moeilik uitgevoer kan word omdat van die individuele lede verwag word om binne hul eie ANC-takke steun vir Zuma te monster. Dit herinner aan word in ‘n hondehok soek.

Wat met die NUM gebeur het, dien as inspirasie vir Satawu om nie ook gesien te word as vet vakbondbase wat van hul lede se behoeftes gespeen is nie. In die geweldsklimaat moet hulle min of meer meegesleur word. Popcru se versoek oor die weglating van Die Stem se gedeeltes uit die grondwet, is heel moontlik ook ‘n wilde perd wat opgesaal is om die beeld van radikalisme so lewend as moontlik te hou.

Onderliggend is twee basiese voedingsbronne – werkloosheid met gepaardgaande armoede, en die inkomstegaping, wat ook armoede kol-kol in die hand werk. Nie net voed dit ‘n rewolusionêre klimaat in die omgewing van sosio-ekonomiese deprivasie nie, maar samesweringsteorieë gedy wat die passifisering van onrus baie bemoeilik. Hiervolgens het die korporatiewe wêreld, of die vorige regering, of beide, sekere sleutelleiers uit die ANC geïdentifiseer en gesorg dat hulle skatryk en deel van die korporatiewe wêreld word, maar sleutelposisies binne die ANC bly beklee, en om sodoende te sorg dat korporatiewe belange populistiese druk soos nasionalisering sou oorleef. Name wat genoem word is Tito Mboweni, Tokyo Sexwale, Cyril Ramaphosa en Maria Ramos. Die waarheid al dan nie van dié stories is irrelevant – dis die persepsie van die waarheid wat saak maak. Van die name duik gereeld op in gewilde internetskrywes wat soos veldbrande versprei word, soos ‘n beskuldiging dat Ramaphosa, wat self belange in die myn sou hê, deur die myn gekontrakteer sou wees om mynwerkers te voorsien. Ramaphosa sou R12 500 per werker betaal word, maar die mynwerkers kry in die praktyk net R4 500 per maand daarvan uit.

Dit maak nie saak tot watter mate sulke stories bog is nie, in ‘n omgewing waar gevestigde instellings geloofwaardigheid verloor het, raak enige alternatiewe aanbieding van die werklikheid geloofwaardig.

Die feit dat Suid-Afrika al lank onder die grootste inkomstegapings, indien nie die grootste ter wêreld het nie, tel maar nou eers aan die groot klok gehang word, word ook aan ‘n tipe sameswering toegeskryf. Hoekom, word geargumenteer, sal ‘n LP van haas enige party ‘n verwysing na die inkomstegaping wat navorser in sy toespraak inskryf, in die toespraak los as die LP self by die krip staan en tien keer meer as die navorser verdien? Hoekom sal ‘n redakteur so ‘n brokkie nuus in sy koerant straat toe laat gaan as die loongaping tussen die verslaggewer en die redakteur enorm is, en die redakteur se korporatiewe base nog beter daaraan toe is?

Dit is nie eie aan Suid-Afrika nie. Die Amerikaanse peilingsinstansie, Rasmussen, dra vanoggend in sy daaglikse nuusbrief ‘n artikel oor die aanvalle op die hoofstroommedia. Vanuit die linkervleuel is die beskuldiging dat die media “verswyg hoe groot ondernemings die ekonomie plunder.” Dit staan in die konteks van ‘n verslag  van Sentier Research dat Amerikaners se inkomste sedert Barack Obama aan bewind gekom het met 8,2 persent afgeneem het.

Rasmussen vra dan die vraag hoe die publiek dan weet dat die hoofstroommedia sekere inligting weerhou? Anders as wat verwag  sou word, word die kuberruim nie uitsluitlik daarmee gekrediteer nie, maar Rasmussen bewys met vers en kapittel hoe die grootste media wel hier oor berig het. Die artikel kan hier gelees word.

Die ou wysheid bly waar: Die mens reageer op sy persepsies van die werklikheid, eerder as die werklikheid self. Maar dit is ook nie so maklik om rewolusionêre persepsies hok te slaan as korporatiewe base jaarliks baie miljoene rande verdien, die middelklas toenemend noustrop trek en die werkloses krepeer nie. Selfs in stadiums waar oproerige protes in Suid-Afrika afgeneem het, het navorsing bevind dat dit meer gewelddadig word.

Dit help ook nie dat die ANC so in belangegekoppelde leierskapstryde betrokke is, dat dit moeilik is om die fokus na landsbelang te skuif nie.

En in ‘n land wat ‘n plurale gemeenskap het, is die ontlonting van sake wat tot ontevredenheid lei, nog moeiliker. Die Ditsemblits dra vanoggend ‘n goeie voorbeeld hiervan: “Die president van die Kongres van Tradisionele Leiers (Contralesa), hoofman Phathekile Holomisa, het Suid-Afrikaners aangespoor om ‘op te staan en volgende jaar grond terug te eis van die wit minderheid.’ Volgens Holomisa is grond nie by swart mense gekoop nie, maar met geweld deur blankes afgeneem.”

Maroela Media het gister berig oor hoe die regeringswoordvoerder in wese minagtend na plaasmoorde verwys. Toe die woordvoerder, Clayson Monyela, sy onkunde en ongevoeligheid so uitgestal het, was Zuma in die VN besig om die wêreld, en veral die Weste, te vertel hoe om hul sake te bedryf. Dat hy so aan ander raad kan uitdeel terwyl sake in sy eie land so gaan, is baie dik vir ‘n daalder. Maar sy New Yorkse ekskursie is ook deel van ‘n beeldbou-aksie, gerugsteun deur die SABC, om Zuma se oorlewingskanse die einde van die jaar te vergroot.

Terwyl Rome brand.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.