Nuuskommentaar: ‘n Blair-rie verleentheid

Aartsbiskop Desmond Tutu. Foto: SABC

Aartsbiskop Desmond Tutu het gister aangekondig dat hy hom op die nippertjie onttrek van ‘n leierskapsberaad wat dié week in Johannesburg plaasvind omdat hy nie kans sien om die verhoog met die oud-Britse premier, Tony Blair te deel nie.

Tutu se optrede, reg of verkeerd, sou waarskynlik as ‘n optrede van beginselvastheid beskou kon wees, maar op dieselfde dag het die ANC-jeugliga in ‘n verklaring gesê Blair moet met sy aankoms gearresteer word, aan Interpol oorhandig word en voor die Internasionale Geregshof gedaag word om op aanklagte van misdade teen die mensdom tereg te staan.

Meng jou met die semels…

‘n Moslemparty, die Al Jama-ah, het ook aangedui dat hulle hoop om ‘n burgerlike arrestasie op Blair uit te voer oor die “miljoene Irakese” wat tydens die Amerikaans-geleide inval in Irak dood is.

In die veldtog om Saddam Hoerssein te verwyder was die waarheid die eerste ongeval.

Oor min sake word syfers so erg betwis as oor die Irakese oorlog waar die ongevalle van 2003 tot ongeveer 2007 bereken word. Die ongevalle sluit dooies en gewondes in. Die syfers wissel van net onder die 100 000 tot net meer as ‘n miljoen, met die meeste in die orde van 100 000. Een van die bronne, WikiLeaks, het sy syfers uit geklassifiseerde inligting gekry, en stel dit op 109 032 dooies. Hiervolgens is sowat 66 000 burgerlikes dood, 15 000 mense van die gasheerland, 24 000 wat as vyande beskryf is, en 3 700 wat as “vriendskaplik” beskou word.

Slegs die mees onkundige mense sal Saddam as enigiets anders as ‘n bloeddorstige diktator beskryf. Hy is deur die nuwe Irakse regering verhoor en skuldig bevind op aanklagte van onder meer moord teen Sjiïete, en tereggestel nog voor hy op soortgelyke aanklagte, wat die gebruik van chemiese wapens insluit, teen die Koerde tereg kon staan.

Dat hy nie ook op hierdie aanklagte verhoor is nie, is jammer, maar moontlik verstaanbaar teen die agtergrond van die onverkwiklike Koerdiese kwessie in die Midde-Ooste, veral ten opsigte van Turkye wat ‘n Navo-lid is.

Dit bly egter onvanpas om Saddam as St Saddam voor te stel, of as voorbeeldige Moslem. Saddam het ‘n sekulêre staatsbestel bedryf waar onder meer op perde gewed kon word. Dit is baie ver verwyder van die doelstellings van  Al Jama-ah, wat na berig word die instelling van die Sharia voorstaan.

Saddam, en sy faksie van die pan-Arabiese sosialistiese Baath-party het uit die Soenie-vertakking van die Islam gekom. Hulle het ‘n minderheidsbewind gevorm in ‘n land met ‘n Sjiïete-meerderheid, en ‘n groot nie-Arabiese Koerdiese bevolking. Nie-demokratiese stamleiers is deur ‘n komplekse stelsel van korrupsie by hierdie bewind ingebind.

Na die oorlog het Irak ‘n demokratiese, federale bedeling waar die Koerde vir die eerste keer effektief selfbeskikking geniet, en die Soenies en Sjiïete nie deur die ander gedomineer word nie. Die groot, onbedoelde verloorders is die Christen-bevolking, wat uit die tyd van die apostel Thomas dateer en voor die opkoms van die Islam ‘n beduidende invloed gehad het. Na die val van Saddam het optredes teen Christene verskerp, en baie het die land verlaat.

Al het baie mense nog nooit van Al Jama-ah gehoor nie, is dit nie ‘n ignoreerbare party nie. Met die vorige algemene verkiesing het dit na berig word in die Wes-Kaap sowat 9 000 stemme getrek, ‘n rapsie meer as die Vryheidsfront Plus.

Die verwelkoming van Blair sal egter veel meer gemeet word teen die agtergrond van Tutu en die ANC-jeugliga se optrede.

Blair was die argitek en stigter van die Afrikakommissie waardeur hy probeer het om jaarliks $50 miljard te genereer in hulp aan arm lande in Afrika. Pres. George Bush, sy Amerikaanse alliansievennoot in Irak, het sy land se hulp aan Afrika sedert 2001 drievoudig vermeerder tot $4,3 miljard. Suid-Afrika baat baie uit die Amerikaanse African Growth and Opportunities Act (Agoa), wat deur die Bush-administrassie in die lewe geroep is.

Tutu het nooit beswaar gemaak oor dié geld nie. In teendeel, toe dit blyk dat Nederland dalk onder druk sy begroting vir ontwikkelingshulp effens moet inkort, het Tutu ‘n pleidooi gelewer dat dit nié ingekort moet word nie. Nederlandse soldate vorm deel van die Navo-magte in Afganistan.

Die “arresteer Blair”-gier is nie tot Suid-Afrika beperk nie, en ook nie nuut nie. Daar was al in verskeie lande pogings om “burgerlike arrestasies” op Blair uit te voer, en ‘n webwerf, “Arrest Blair” het selfs ‘n beloning uitgeloof vir die arrestasie van dié oud-premier van Brittanje.

Blair het diplomaties op Tutu se onttrekking gereageer. Hy erken dat hy en Tutu nog altyd verskil het oor die noodsaaklikheid om Saddam te verwyder. Hy wys voorts daarop dat die Halabja-slagting pas herdenk is, waar duisende mense op een dag met chemiese wapens deur Saddam om die lewe gebring is …

Die wêreldgewete word immers deur die internasionale regsbeginsel, Verantwoordelikheid om te beskerm, ingebind wat behels dat ingegryp moet word om volksmoord te voorkom as ander middele nie werk nie. Terughouding kan duur aan menselewens word, soos nou in Sirië blyk waar die Assad-dinastie die ander faksie van Baath beheer.

Dis nie altyd so eenvoudig om die skurke en die goeie ouens van die wêreldtoneel te identifiseer nie. Maar Saddam was nie een van die goeie ouens nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sylvia Siemens ·

Blykbaar is hy nie bewus van die duisende, ja duisende mense wat hier in ons land sterf aan die hand van plaasmoorde, kapings, betogings, verkragtings, tik, drank, politiek, ensovoorts, ensovoorts, miskien moet hy eers voor sy eie deur vee, en dan voor ander s’n.

Neil ·

Ek stem 100% saam met Sylvia.

Hoekom word die ANC leierskap nie voor die internasionale geregshof gesleep vir sy onwilligheid om die moord op witmense(uit plein haat) in dorpe en stede, asook plase stop te sit nie?

In so ‘n posisie van leierskap is stilte so goed soos goedkeuring, en die ANC WEET DIT.

Laastens: Tutu is ‘n tweegesig idioot. Geen punt om hom enigsins ernstig te neem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.