Nuuskommentaar: ‘n Land wat omgee?

Een van die grootste probleme waarmee die ANC nou te kampe het, is ongelykheid. Terwyl hele dorpe lank nie water in hul krane het nie, terwyl baie mense in armoede verkeer en werkloos is, het dit rugbaar geword dat die weermag nuwe vliegtuie van R2-miljard vir die president en adjunk-president wou aankoop.

Terwyl die land se ekonomie onder druk geplaas word met hoë Eskom-verhogings, gaan spandeer dié kragreus miljoene rande op partytjies. Terwyl ministers en ander welgesteldes se kinders in goeie privaatskole is, lê boeke wat vir die skole vir armes bedoel is in pakhuise, of word in die veld gestort. Of sommer vernietig.

Terwyl werkers hard moet spook om inflasieverwante verhogings te kry, het die base reeds groot verhogings en reuse bonusse as deel van ‘n vergoedingspakket gekry, wat verskeie koerante nou reeds as banaal beskryf het. Selfs die banksektor kom onder skoot, al is dit deel van die mededingende produktiewe sektor. Die hele debakel rondom Barclays weerspieël een van ‘n indruk dat die bankbase nie heeltemal begrip het vir die publiek se aandrang dat skuldiges aan die man gebring moet word en dat koppe moet rol nie – al was dar ‘n paar hoë koppe wat verantwoordelikheid geneem en bedank het. Die publiek soek strafregtelike vervolging.

Die ANC het die “voordeel” dat dit die kwessie, reg of verkeerd, na ras kan herlei. Die FW de Klerkstigting het onlangse stellings van pres. Jacob Zuma met dié strekking met harde syfers weerlê, en die vraag gevra: Wie bedien die prez met sulke swak data?

Soos amper voorspelbaar, het ‘n ANC-ondersteunende rubriekskrywer, Mondli Makhanya, hieroor die Stigting gelooi asof heiligskennis gepleeg is. Die Stigting het weer met harde syfers teruggekap. Die hoof van die Stigting, Dave Steward, wys onder meer daarop dat die wit aandeel van die boonste 20 % topverdieners van 47 % in 1995 afgeneem het tot 32 % in 2009.

En as die ras-ding nie meer heeltemal goed afgaan nie, dan word oorle apartheid geblameer. Kul jou hier, kul jou daar, en siedaar, die probleem is “opgelos.” Sosio-ekonomiese dispariteit, en veral die kritieke gaping op die grafiek van relatiewe deprivasie speel ongetwyfeld ‘n rol wanneer dit langs sigbare foutlyne loop, maar dit is maar een van talle oorsake vir tussengroepspanning. Boonop het dood ‘n oorsaak, en kan die feit dat Suid-Afrika op die vernaamste indekse afwaarts gly nie voor die deur van strukturele probleme gelê word nie. Wanadministrasie en korrupsie kan wél die oplos van die probleme kelder, of die probleme verdiep.

En daarom moet die regering dringend hand in eie boesem steek en besin oor hoekom die land erg op die korrupsiepersepsieindeks, en ook die persvryheidsindeks teruggesak het. Hoekom tel SA, volgens die wêreldvredesindeks onder van die mees gewelddadige lande op die indeks en boer agteruit? En oplaas, hoekom verswak die land se reeds swak posisie op die indeks vir mislukte state, die sogenaamde piesangrepubliek-indeks?

Die kwessie van inhaligheid deur dié wat het is ‘n wêreldwye probleem, en word reg of verkeerd wyd as een van die vernaamste oorsake van die wêreldekonomiese krisis geblameer. Die Occupy Wall Street-veldtog, wat na verskeie stede in die wêreld uitgebrei het, is ‘n manifestasie van dié verskynsel.

Pas het daar twee interessante berigte byna gelyktydig in die Nederlandse koerant Trouw verskyn. Die een handel oor die Occupy-kamp in die stad Utrecht wat pas opgebreek het, na die stadsvaders gesê het daar gaan weer ‘n hofaansoek gerig word om dié tentdorp op te ruim. Die ander handel oor die verkiesingsmanifeste van die land se vernaamste partye wat volgens die artikel ‘n meer medemenslike aanslag het as voor die vorige verkiesing twee jaar gelede. Verskeie element van die uitreik-ideaal word uitgelig, maar dit kom tog voor dat dit meer na binne gerig is, maw die uitreik na mede-Nederlanders eerder as die in nood elders in die wêreld.

Of hierdie uitreik-benadering deur die Occupy-beweging veroorsaak is, of deur Geert Wilders se onvrede daarmee dat Nederlanders die gordel moet styf trek vir, soos dit gestel is,  ander Europese lande se onverantwoordelike leefstyl, is moeilik te bepaal.

Dit het reeds ‘n impak na buite: Nederland het pas aangekondig dat die aantal lande wat hy met ontwikkelingshulp bystaan, van 33 tot 15 verminder word. Die land het ook die bedrag wat aan dié hulp gespandeer is, vir 2012 na 0,7 % van die BNP verminder. Suid-Afrika is nie op die lys van 15 lande nie. Die moord op ‘n Nederlandse hulpdienswerker in KwaZulu-Natal vroeër vanjaar het waarskynlik bygedra hiertoe. Die kriteria wat Nederland gebruik, is die vooruitsig vir beste resultate, die vlakke van goeie regeervermoë, betrokkenheid van die ministeries en uiteraard die omvang van nood. Voorts verskuif die fokus van hulp na investering, met die fokus op selfstandigheid en wegskram van dit wat afhanklikheid skep, asook na lande wie se behoeftes die beste met Nederlandse kundigheid ooreenstem. Die lande wat steeds ontwikkelingshulp gaan kry, word ook nie meer ontvangerlande genoem nie, maar vennootskapslande.

En ‘n land wat die kreeftegang op indekse gaan, voldoen nie aan hierdie kriteria nie. Die Wilders-faktor het stellig ook bygedra daartoe dat ‘n land wat stamlandverwante stief behandel nie ‘n oop hand sal hê nie. Aan die woord op TV gisteraand was ‘n betoger van die diensleweringsprotes in Bloemfontein: “Ons doen dit as ‘n boodskap aan die ANC. Ons het vir die ANC gestem in die geloof dat hulle sake sou regsien.” Soos die spreekwoord lui: In ‘n demokrasie kry die bevolking die regering wat hulle verdien.

Net jammer dat diegene wat nié so gestem het nie, in ‘n unitêre staat saam die spit afbyt – veral as daardie deel van die bevolking boonop as die gans geskets word wat die goue eiers lê, en daarom vir die pot bestem is.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Abotha

Die wit mense moet weer vir hul wapens aanskaf, as hulle dit mag hê om ons mense uit te moor hoekom nie ons ook nie. Destyds het ek al gesê dat hul die wapenwet ingebring het om die witmense te ontwapen en so dit vir hulle makliker maak om die mense aan te val. Net soos als wat hulle doen n skelm rede het teen die wittes. Mag hulle uitsterf van die honger soos in Etiopië as hulle die boere verjaag en uitmoor.