Nuuskommentaar: “’n Spietkop sien jy mos altyd te laat”

Minister Mildred Oliphant

“’n Spietkop sien jy mos altyd te laat”… so lui die opskrif van ‘n rubriek in Die Burger vanoggend.

In ‘n wêreld waar toekomskundiges, of futuroloë die vermoë ontwikkel het om verwikkelinge in die toekoms haarfyn te bereken, is sekere uitkomste steeds regtig onvoorspelbaar.

‘n Reuse klomp inligting word as “input” in die model gevoer, dit word deur verskeie prosesse bereken, en die uitkoms word bepaal en is dikwels in ‘n mindere of meerdere mate in die kol. In die fisika word verwys na die wet van oorsaak en gevolg.

Maar, met al hierdie kundigheid bly dit nog dikwels onvoorspelbaar wanneer die verkeersbeampte agter die bosse gaan uitspring en die ellendeling se, soos die rubriekskrywer Petro Hansen dit onverbeterlik stel, maandbegroting saam met die briekmerke op die teer sneuwel.

Maar dit is al moontlik om te bepaal dat ‘n vreemde uitspraak deur ‘n politikus die rand/dollar-wisselkoers negatief kan raak, met die gevolglike styging in die brandtofprys.

Maar soms loop ‘n regering skynbaar oop oë in ‘n ramp in.

Waarskuwings aan die regering dat ‘n drasties verhoogde minimumloom vir plaaswerkers tot werksverliese in die landbousektor gaan lei, kom nie van gister af nie. Kort na aangekondig is dat die minimumloon van R69 per dag tot R105 per dag verhoog word, het die eerste berigte van gevolglike afdankings begin inkom. Dit klink op die oog af na ‘n kliniese proses van oorsaak en gevolg, en soos Cosatu se Tony Ehrenreich vuur spoeg hieroor, of daar ‘n element van weerwraak in is om deur afdankings die vinger in die vakbonde en drukgroepe agter die onlangse staking se oë te druk. Ehrenreich meen   die plase moet afgeneem word van dié wat nie hul grond (doeltreffend) kan gebruik om die nuwe minimumloon te kan bekostig nie.

Besef Ehrenreich watter hopelose teikens hy aan swart beginnerboere en die regering se grondhervorming plaas?

Uit die reaksie op Maroela se Facebook-blad blyk egter ‘n ander gesig van trauma – die trauma van boeregesinne oor jarelange getroue werkers wat nou noodwendig afgedank moet word. “Die arme mense, waar gaan hulle weer werk kry?” skryf ‘n boervrou. Ander probeer improviseer – verminder die werkweek sodat die minimumloon betaal kan word, maar uiteindelik bly die inkomste ongeveer dieselfde.

Bloed kan nie uit ‘n klip getap word nie.

Maar die regering se optrede herinner aan Hompie Kedompie wat hom in flarde van die muur geval het. Al die koning se manne en al die koning se perde kom arme Hompie nie weer aanmekaar gesit kry nie. Of te wel, al die regering se adviseurs, al die regering se konsultante, en al die regering se ontplooide kaders kan die breekspul waarvoor die politici siende blind was, nie weer aanmekaar gesit kry nie.

Nie eens die string motors wat van voor af gekom en ligte geflits het was aanduidend genoeg dat die spietkop agter die bosse skuil nie.

En die belastingbetalers se geld sneuwel saam met die blouligbrigade se geloei van sirenes. By wyse van spreke.

En dan is daar die mynindaba waar minister Susan Shabangu vertroostende woorde oor die kwessie van nasionalisering probeer spreek het. Inderdaad het die ANC in Desember ‘n resolusie aanvaar dat die nasionalisering van myne nie beleid is nie, maar die kwessie is nie so eenvoudig nie. Die persepsie dat die myne steeds die gans is wat die goue eiers lê blyk steeds uit kwessies soos ‘n beoogde spesiale mynbelasting.

Shabangu se reputasie is reeds erg ge-hompiekedompie toe sy laat verlede jaar te kenne gegee het sy het eers met die Marikana-skietery van Amcu se bestaan gehoor het – maande na Amcu groot stakings in die platinumedryf veroorsaak het wat tot ‘n tydelike styging in platinumpryse gelei het, en na sy selfs ‘n afspraak met Amcu uit haar dagboek laat haal het.

En toe haar skadelike vloermoer oor Anglo Plat se voorneme om vier skagte met die verlies van 14 000 werksgeleenthede te sluit. Dit het haar skynbaar ontgaan dat die ander mynreus, BHP Billiton, jare gelede reeds oor die ANC se verwarrende uitsprake besluit het om geen nuwe beleggings in Suid-Afrika te doen nie. Die Burger wys in ‘n hoofartikel, Shabangu se tirade los SA in verleentheid daarop dat Anglo, anders as Billiton, voortgegaan het om in 12 jaar R 173 miljard in die land te belê.

David Gleason skryf in Business DLive onder meer soos volg: “Finally, there was the intemperate response of Mineral Resources Minister Susan Shabangu to the announcement by Anglo Platinum that a year-long review of its operations had signalled the need to close shafts, a move that would throw as many as 14,000 mineworkers out of work. Given that the Department of Mineral Resources has earned a reputation for its hard-nosed approach — and has been accused of gross deviousness in the issue of licences — Shabangu’s attitude either needs to be softened or she should be moved to another position. The mining industry in South Africa is too fragile at present for hectoring, bullying and inefficiency.”

Na afloop van gister se verrigtinge by die mynindaba verkondig ‘n deelnemer op nasionale TV dat die regering gereeld die regte geluide maak, maar dat iets heel anders in die praktyk gebeur.

Dit is nie net tipies van die ANC nie, maar van regerende partye reg oor die wêreld. Suid-Afrika het die spel van politieke bogpraatjies en korrupsie nie ontwerp nie, net vervolmaak.

Anders as die spietkop, buig die internasionale spietskops teen onverantwoordelike regerings nié voor hardkoppige en buffelagtige regeringsoptredes nie. Daardie spietkops se “boetes” kom in die vorm van ekonomiese realiteite soos dat Suid-Afrika se groeikoers nou veel laer as Afrika se gemiddeld is. En beleggers sien dit raak, al probeer die president die wêreld oortuig dat dit wat in Suid-Afrika gebeur, die normale gevolg van demokrasie is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.