Nuuskommentaar: Nasiebouberaad – geleentheid wat die land nie kan verpas nie

In Julie hou die land ‘n nasiebouberaad in Kliptown. Die term “nasiebou” het ‘n gelaaide, politieke term in Suid-Afrika geword, maar dat daar ‘n groot behoefte is aan bydraes om die helingsproses in die land te bevorder, kan nie betwyfel word nie. Die harde werklikheid is dat sonder onderlinge vertroue en goeie gesindhede die ontplooiing van enige staatkundige of politieke bestel – van maatskaplike kohesie soos wat die regering verkondig, tot die toekenning van kulturele regte, tot die ontplooiing van minderheidsregte en selfs partisie baie moeilik ten uitvoer gebring kan word.

Die president se voortydig lys van die redes vir die polarisasie nog voor die beraad gehou is, is effe ongelukkig en is boonop bloot die verwoording van bestaande retoriek wat nie veel met die uitslae van talle wetenskaplike studies wat reeds gedoen is, en stof vergaar, verband hou nie.

Die stand van die onlangse versoeningsbarometer toon dat daar nou daadwerklik plan gemaak moet word. (Lees meer hier )

Tot Zuma se krediet – hy verleen gereeld lippediens aan versoening, al word dit dikwels lomp in die nasieboubegripo ingeforseer. Hy het verlede jaar selfs in ‘n stadium as nasieboujaar verklaar. In die praktyk lyk sake veel anders, en onder die oorsake waarop die regering die blinde oog werp is die aandrang om haatspraakliedjies te sing, ‘n erg skeefgetrekte “afirmative action”, ‘n duidelike aanslag teen Afrikaans, ‘n swygende president as Malema op dieselfde verhoog die blankes misdadigers noem, die regering se reaksie op plaasmoorde, volgehoue uitsprake oor godsdiens wat baie Christene aanstoot gee, geld aan muishondlande bewillig terwyl die Suid-Afrikaanse ekonomie dit nie kan bekostig nie …

Daar vind juis vandag ‘n uiters belangrike beraad tussen rolspelers, waaronder AfriForum, die AB, TLU SA, Solidariteit en die FW de Klerkstigting plaas om op die regering se groenskrif oor grondhervorming ‘n kollektiewe antwoord te formuleer.

Versoeningsprosesse in die land, lomp of kundig, strek ver terug in die geskiedenis. Onder die eerstes tel die manier waarop Jan van Rienbeeck in opdrag van die Here XVII Herrie die tolk in die fort onthaal het. In die meer onlangse geskiedenis het die Verhoudingsaksie hard gewerk, en ook talle privaat inisiatiewe groot werk gedoen. Ongelukkig is ‘n multi-dissiplinêre ondersoek van die Maatskaplike Komitee van die Presidentsraad na gemeenskapsverhoudinge opgeskort.

Hierna het die vredeskomitees sonder die nodige kundigheid ‘n soortgelyke, haastige taak aangepak, maar uiteindelik is die natuurlike proses omgekeer – in plaas van ‘n grondwet as produk van goeie verhoudings is die benadering gevolg van ‘n grondwet om goeie verhoudings te bou. ‘n Goeie grondwet kan hoogstens een van talle ander faktore wees wat polarisasie beperk. In baie opsigte het die land juridies-determinant geword, en die broodnoodsaaklike kundighede van vakgebiede soos politieke sosiologie, politieke wetenskap, geskiedkundiges en interkulturele kommunikasie het as rolspelers bykans verdwyn.

As die beraad ‘n oefening gaan wees om oorsake en oplossings te vind, is dit bloot een van die projekte in Suid-Afrika om die wiel te herontwerp. Die rakke in Suid-Afrika kreun al onder die verslae van Institute, sentrums, komitees en individue hieroor wat stof vergaar, en nog ‘n verslag of twee gaan geen verskil maak nie.

As die beraad ‘n politieke platform gaan wees om bloot politieke retoriek te opper, dan is die kanse goed dat dit polarisasie sal verhoog.

Die beraad kan slegs slaag as kundiges uit alle tersaaklik vakgebiede die feite afstof, en op ‘n fatsoenlike maar eerlike manier stel, en die politici en burgerlike organisasies hulle by die oplossings inbind. Alles in Suid-Afrika staan egter in die konteks van die ANC se leierskapstryd later vanjaar, en die hele onsmaaklikheid wat selfs die naakte afpersing van die City Press insluit, toon dat die speel van die rassekaart om politieke teenspoed teen te werk, nog al te maklik kom.

Die reaksie op die FW-CNN-onderhoud toon hoe diep rou emosies lê, sodat heelwat kommentators openlik niks wou weet van kontekstualisering nie, en bloot blindelings die sambok ingelê het. Hierdie soort benadering gooi egter die baba met die badwater uit, en bemoeilik sake vir die land oneindig. Normale praktyke om diversiteit in lande soos Indië, Nieu-Seeland, Nigerië, Spanje, België, Brittanje, Kanada en elders aan te spreek word hier blindelings as “oorskietkos van apartheid” verwerp. Die internasionale reg hieroor en die verdrae wat Suid-Afrika hieroor onderteken het, word vertrap.

Instansies wat bydraes kan lewer tot die beraad, moet nou hande opsteek en ‘n spreekbeurt probeer beding. Wie ingesluit, en wie uitgesluit gaan word, gaan reeds grootliks bepaal of die beraad die land ‘n aks vorentoe gaan neem. Die tegnokrate en nie die gereelde deelnemers soos biskop Desmond Tutu en dr. Alan Boesak nie, moet ‘n slag die sleutelfeite klinies stel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.