Nuuskommentaar: Nasionale ontwikkelingsplan

Mosiuoa Lekota, Cope-leier. Foto: SABC

“’n Goeie plan, maar gaan dit uitgevoer word?”

Hierdie vraag van Mosiuoa Lekota, Cope se leier, Woensdag in die parlement is waarskynlik die mees kritiese samevatting van die nasionale ontwikkelingsplan, wat gister in die parlement aan pres. Jacob Zuma oorhandig is.

Om die plan in werking gestel te kry, gaan verg dat korrupsie doeltreffend vasgevat moet word, dat die staatsdiens ekonomies-ontwikkelingsgerig moet wees, dat die ministers nie meer aanstellings in hul departemente kan maak nie – ‘n kwalik verskuilde klap in die rigting van kaderontplooiing – en dat die onderwys reggeruk moet word.

Duidelike tydsraamwerke is aan doelwitte soos die vermindering van werkloosheid gestel. Daar sal dus behoorlik gemonitor kan word waar wie verbrou, en as daar ‘n traagheid binne die stelsel is om bottelnekke en blokkasies uit te wys, sal burgerlike instellings soos Solidariteit met sy hoogs bekwame navorsingsinstituut dit wel uitlig.

Trouens, beleggingslande en handelsvennote sal dit ook oordra en nie meer met die gebruiklike diplomatiese versiersuiker nie, soos blyk daaruit dat die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake onlangs tydens haar besoek aan Suid-Afrika die regering se neus behoorlik in struikelblokke gevryf het waarvoor die regering hom tot dusver doof en blind gehou het.

Suid-Afrika het oor dekades reeds geen tekort aan ekonomiese ontwikkelingsplanne gehad nie. Trouens, die land was in ‘n stadium in ontwikkelingstreke opgedeel elke met sy eie Streekontwikkelingsadvieskomitees, bekend as die SOAK’s. Kundiges is op ekonomiese advieskomitees aangestel.

Na 1994 was bykans alles op die HOP gerig, en na dit waarskynlik meer skade as goed gedoen het deurdat min van die ontwikkelingshulp die werklike grondvlakbehoeftes begin bereik het, die Groei- en Ontwikkelingsplan (Gear).

Elke provinsie moes ‘n ontwikkelingsplan opstel. Dat dié planne nie maar afskeepwerkies of ‘n burokratiese gebrabbel kon wees nie, het ook duidelik geblyk toe die destydse president, Thabo Mbeki, se kantoor die Vrystaatse “ontwikkelingsplan” afgeskiet het – na dit reeds met die gebruiklike peperduur funksie en groot vertoon bekend gestel was.

Ongelukkig is die land ook berug vir die wavragte planne deur kundiges opgestel is wat op die rakke beland en bloot stof vergaar terwyl hulle in vergetelheid wegsink. Planne wat die verwagte klimaatsveranderinge verreken wat reeds voor 2030 ‘n beduidende impak gaan hê, vind selde indien ooit neerslag in die ontwikkelingsplanne vir daardie provinsies.

Dat die nuwe plan daarop gemik is om eers teen 2030 ten volle volvoer te wees, dui op die reuse werk wat voorlê. Praktyke wat die afgelope dekade en ‘n half diep gewortel geword het, sal met wortel en tak uit die samelewing getrek moet word.

Die president en ministers moet leer om wagte voor hul mond te plaas. Zuma se onlangse stelling dat die Limpopo-handboekkrisis deur dr. Verword veroorsaak is, skets die beeld van ‘n narreregering, wat nie die nodige vertroue inboesem om ‘n behoorlike administrasie, laat staan nog iets wat strategies bestuur moet word, te kan bedryf nie. Zuma se stelling is pas deur die kommentator Moletsi Mbeki gebruik as voorbeeld dat die president ‘n gebrekkige begripsvermoë openbaar.

In ‘n paar sleutelgebiede sal bestaande ideologie die wyk moet neem. Die huidige groenskrif oor grondhervorming is ‘n duidelike voorbeeld waar stereotipes en ideologie gesonde verstand fnuik, en die TLU-SA nou aangekondig het dat eensydige en ondeursigtige wysigings dié instelling nou noop om sy deelname aan die proses te heroorweeg. Die implikasie hiervan is dat die nuwe ontwikkelingsplan tydens sy bekendstelling reeds ‘n onklaar ratjie opgedoen het.

Die doeltreffende implementering beteken dat reuse golwe volledig omgekeer moet word – Suid-Afrika boer nou met groot spronge op die korrupsiepersepsieindeks, die wêreldwye vredesindeks en die indeks vir mislukte state – die sogenaamde piesangrepubliekindeks, agteruit. Bloot die rem van hierdie momentum gaan ‘n reuse politieke wil en die uitpluk van maatjies met diep wortels behels.

Baie onlangs het minister Trevor Manuel nog by die Universiteit van Stellenbosch die media gestriem en vir die muilbandwetsontwerp in die bresse getree. Met so ‘n gesindheid spring die ontwikkelingsplan met ‘n blok aan die been weg.

Trouens, dit laat die vraag of die ANC die politieke wil en vermoë gaan hê om die plan so te rugsteun dat dit behoorlik geïmplementeer kan word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae