Nuuskommentaar: Nasionale reinigingseremonie en Zuma

 

President Jacob Zuma

Na ‘n termyn waartydens verleë Suid-Afrikaners kort-kort nie mooi geweet het waar om hul koppe in te druk oor die prez se jongste breedsprakigheid nie, is pres. Jacob Zuma tydens die ANC se jongste kongres oorweldigend vir nog ‘n termyn verkies.

Versugtinge, selfs uit die hoogste ANC-kringe was volop dat Zuma genoeg uit sy eerste termyn sou leer om die tweede met ‘n wag voor die mond aan te pak. Uit dieselfde geledere is geskryf dat Zuma meer die rol van ‘n seremoniële staatshoof sou inneem, en dat die nuwe adjunk-president die rol van ‘n uitvoerende eerste minister sou inneem.

En toe word Cyril Ramaphosa in dié amp verkies, en die verwagtinge van ‘n regeringsleier wat die land met kundigheid uit die put van openbare vernedering op vernedering sou lei, het hemelhoog geloop.

Met al die verwagtinge het die onbeantwoorde vraag steeds gebly: Weet Zuma van planne vir hierdie nuwe bedeling, en is hy daarby ingebind?

Die aanduidings is minstens net so sterk dat Ramaphosa “ingetrek” is om die aanslag van ontevredenes te absorbeer en adjunkpresident Kgalema Motlanthe polities te elimineer. Ramaphosa is verkies, en Suid-Afrikaners het nog geen idee wanneer hy toegelaat gaan word om sy gesag te begin afdwing nie. En is die meesterplan nie maar dat hy, na hy sy verkiesingsrol in Bloemfontein uitgedien het, soos Motanthe in ‘n politikeke non-entiteit omskep word, waar niks toegelaat word om in Zuma se skadu te groei nie?

En dat Zuma na sy reuse oorwinning met hernude selfvertroue die bokskryt sou betree en sy ritse verleentheidwekkende uitlatings sou voortsit…

Met Ramaphosa steeds so stil soos ‘n pantoffelmuis, laat waai Zuma met sy uitsprake, en veral twee het in Suid-Afrika en in die buiteland opslae gemaak.

Sy omstrede “honde-uitspraak” het oornag ‘n paar miljoen Google-trefslae opgelewer, terwyl sy uitspraak oor die nasionale reinigingseremonie wat deur emeritusaartsbiskop Desmond Tutu gelei moet word ook vir ‘n miljoen trefslae begin aanstap.

Baie oorsese koerante het oor een van die twee uitsprake geskryf, en ‘n paar oor beide.

Vanoggend skryf Beeld en Die Burger skerp in hul hoofartikels oor die president se uitsprake.

Sy honde-uitspraak is oornag snuif getrap, terwyl die nasionale reinigingseremionie met groter omsigtigheid aangedurf, en selfs verswyg word. Een van die redes is dat dalk gewag word vir Tutu om te reageer, en daar groter duidelikheid is oor wat beoog word.

Die algemene verwagting is egter dat dit deel van ‘n animistiese seremonie sal wees, waar beeste waarskynlik op “tradisionele” wyse geslag sal word, en toordokters belangrike dele van sal uitmaak. Die Nederlandse koerant Trouw stel dit duidelik hoe dié koerant dit sien: “Zuiveringsceremonies zijn in sommige Afrikaanse culturen een belangrijk onderdeel van het leven, zoals bij de Zulu’s. President Zuma is een Zulu.“

Dié opvatting val nie uit die lug nie. Sulke seremonies is onder meer gehou voor die aanvang van die wêreldsokkerbekertoernooi in Suid-Afrika, en voor die ANC se verjaardagvieringe die begin van die jaar. Vir laasgenoemde is selfs ‘n spesiale offerplek gebou. Verskeie Christengroepe het gebedsaksies daarteen gehou, en daar was selfs stampvol kerkdienste.

Nog ‘n angel in die Zuma-voorstel is sy opmerking dat mense wat hulle nie laat reinig nie, wrokke koester. Voor daar nie groter duidelikheid is oor wat Zuma met reiniging beskou nie, spreek hy ‘n oordeel uit oor mense wat nié animistiese gebruike in hul godsdiensbeoefening inbou nie.

Die regering se amptelike inligtingsdiens, die GCIS, plaas gereeld foto’s van waar Zuma sulke “reinigings- en heleingseremonies” bywoon, terwyl die regering se nuusdiens, Bua, gereeld berigte dra oor hoe staatsgeld gebruik word waar mense selfs oorsee gestuur word om voorvadergeeste te gaan “vang” en in kartonbokse na plekke soos monumente in Suid-Afrika bring waar hulle losgelaat word.

Daar is verskeie verhandelings geskryf oor hoe die tradisionele godsdiens inslag in veral die onafhanklike en Afrikakerke gevind het. Die “westerse” opvatting van die Christendom word in hierdie vergelykings beskryf as toekomsgerig – op ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. Die Afrika-vertolking waarin die voorvaderverering ‘n belangrike rol inneem word as verlede-gerig beskryf, juis omdat die fokus val op hulle wat nie meer leef nie.

Die Anglikaanse kerk, waarvan Tutu eens die hoof was, word as westers-Christelik beskou, en hoewel baie swart lidmate privaat waarskynlik die voorvader-verering onderhou, was Zuma se versoek aan Tutu moontlik vir die aartsbiskop ‘n reuse verleentheid. Tutu is met verlof “en kon nog nie bereik word nie.”

Agter die skerms word waarskynlik kliphard gewerk om Zuma se lomp, indien nie bloot oningeligte nie, versoek meer aanvaarbaar te kontekstualiseer. Heelwat kerke is waarskynlik in ‘n netelige posisie vasgevang. Hulle weet dat baie van hul lidmate, en selfs kerkleiers in “dogterkerke” soos die VGK, self van die praktyke wat ander lidmate as doodgewoon anti-Christelik en onbybels beskou, beoefen, maar andersins die toonbeeld van pragtige Christenmense is.

Hierteenoor het baie van die wêreld se godsdienste die een of ander reinigingseremonie. Die Christendom ken die doop. Die Afrikaanse susterkerke beskou die doop as een van slegs twee sakramente, met die Nagmaal as die ander. Sakramente word egter nie sommer links en regs uitgedeel nie, en sal dus nie by ‘n nasionale geleentheid ingebind kan word met sterk animistiese trekke nie. In die VSA was daar byvoorbeeld ‘n storm toe pres. Barack Obama tydens ‘n besoek aan ‘n Rooms-Katolieke Kerk toegelaat is om die Nagmaal te gebruik – nie net oor Obama nie self Katoliek is nie, maar omdat hy aborsie voorstaan wat amptelik deur die Katolieke Kerk as moord beskou word.

Sakramente mag ook nie vir politieke uitbuiting gebruik word nie. En die politieke proppe klap reeds. Zuma het as redes vir sy beoogde reinigingseremonie aangedui dat Marikana, moorde op politici en verkragtings  van bejaardes so ‘n reiniging vereis, terwyl kritici dadelik daarop gewys het dat ander sake soos korrupsie ook gelys moes wees. En dadelik was daar ook vrae hoekom Zuma sulke misdade nie ook gelys het nie.

Dit mag wees dat Zuma weer in die ou slaggat getrap het om by ‘n tradisionele saamtrek soos ‘n tradisionele stamkaptein by elke familievuurtjie vir die mense te gaan vertel wat hulle wil hoor. Die stories by die verskillende vuurtjies kan mekaar maar volkome weerspreek, dit word steeds as goeie hoofmanskap beskou want almal is gelukkig. So het Zuma eens op Malema se tuisdorp vir die inwoners vertel dat die jongeling ‘n toekomstige president is. Die lastigheid met dié taktiek is dat die media hom, as president, volg en oor sy sêgoed berig. Die Natal Mercury het aanvanklik oor Zuma se jongste wyshede berig, en binne ‘n ommesientjie was dit wêreldkundig.

Een persoon wat op die internet gereageer het, meen Zuma en van hul ministers se sêgoed in toesprake wat vir hulle geskryf is, is gewoonlik aanvaarbaar, maar wanneer hulle self die woord voer, kom dié onhebbelikhede na vore.

Ongelukkig is daar wye bedenkinge oor die kwaliteit van Zuma se adviseurs, en is selfs in die parlement harde vrae hieroor gevra – wat natuurlik woedende reaksie ontlok het.

Op die oog af lyk dit of Zuma die druk, ook vanuit kerkgeledere, vir ‘n morele herlewing, begin voel. Zuma was immers, voor hy as adjunk-president ontslaan is, die nominale hoof van die nasionale morele herlewingsaksie. Met Zuma se ontslag het dié aksie skynbaar in die stof gebyt.

Dit is egter duidelik dat Zuma, terwyl hy nog daardie taak gehad het, min wysgeword het oor hoe die tipiese kerke se godsdiensbeskouing daaruit sien. As president het Zuma verskeie kere oor sy eie sêgoed oor godsdiens, en ook van sy vernaamste bondgenote soos premier Ace Magashule, onder skerp kerklike kritiek deurgeloop. Onder die kerke wat hom aangespreek het, dikwels meer as een keer, tel die Afrikaanse susterskerke, die AGS en die VGK. Aan dié kritiek het Zuma hom niks gesteur nie, en bloot met sy steurende sêgoed volgehou wat verskeie kere as godslasterlik beskryf is.

Uiteindelik het die SA Raad van Kerke en verskeie ander belangrike kerkleiers kort voor die ANC-kongres in Bloemfontein die mond in ‘n ope brief uitgespoel. Die ANC het woedend reageer. Zuma se reaksie volg waarskynlik hierop, maar sonder adviseurs het groot onkunde weer geblyk.

Suid-Afrika het ‘n morele herlewingsaksie nodig, nie ‘n eenmalige geleentheid onder welke vaandel ook al nie. So ‘n gedagte is nie vreemd nie. ‘n Paar jaar gelede het ‘n groep Europeërs, gerugsteun deur sekere instansies, ‘n jaar van geestelike higiëne verklaar. Die aanvanklike teikens was die politici en die media wat as besonder immoreel uitgesonder is. Kort voor lank het die Wall Street-fiasko gevolg, en het die media as bondgenoot opgetree, en is die fokus na die bankbase verskuif. Die politici is egter steeds onder druk om meer moreel te word.

In Suid-Afrika is ‘n morele herlewingsaksie doodgebore as dit nie tot ‘n duidelike kentering onder sekere politici lei nie.  Hulle moet die voorbeeld begin stel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae