Nuuskommentaar: Natuurrampe, hulp en harteloosheid

Veldbrande in Potchefstroom. Foto: ER24

Verskeie mense is reeds dood in die vlae stormweer wat die Wes-Kaap tref. ‘n Boer by Tzaneen het in ‘n veldbrand gesterf. In Iran het meer as 300 mense van ‘n vlaag aardbewings omgekom.

Gewoonlik gaan sulke berigte gepaard met heldedade – met stemme van meelewing deur politici. Hulp stroom in. Konflikte word vir die oomblik vergeet en die fokus val op hulp aan hulle wat skielik in nood verkeer.

Maar nie altyd nie. Terwyl die een storm na die ander bittere ontbering op die Kaap afrol, gebruik molesmakers die geleentheid om paaie te versper deur onder meer brandende bande daarop te gooi. Dieselfde belangrike paaie wat die nooddienste moet gebruik.

Terwyl die akademiese jaar so te sê op sy rug lê en skole selfs na spesiale ingryping nie handboeke het nie, gooi veronderstelde verspreiders oënskynlik steeds boeke in die veld of in riviere.

Terwyl almal wat kan help om verwoestende veldbrande te blus wat in verskeie dele van die land deur stormwind aangedryf word, gaan lê plaasmoordenaars ‘n boervrou wat haar kinders by die skool gaan aflaai het by die plaashek voor, en skiet haar dood.

Terwyl dele van Noordwes-Iran in puin gelê is, en baie van die meer as 300 dooies kinders en vroue is, staak nooddienswerkers hul soektog na vasgekeerdes ongeveer ‘n dag na die ramp. Die nooddienste het na berig word nie eens al die geaffekteerde dorpe bereik voor die reddingsoperasie gestaak is nie. Die Iranse president vertrek na Saoedi-Arabië om die krisis in Sirië te bespreek – terwyl die “aartsvyand” VSA, noodhulp aanbied. Die VSA het die hulp aan die Iranse volk aangebied omdat die twee lande geen diplomatieke betrekkinge het nie.

Intussen het ‘n aardbewing van meer as tien keer sterker as die sterkste van die Iranse skuddings die suidweste van Rusland getref, en is dit so ver as dele van Japan gevoel. Geen tsunami is veroorsaak nie, en geen beduidende skade is aangemeld nie, maar dien as herinnering dat rampe buite die beheer van die mensdom min of meer op enige plek ter wêreld kan voorkom.

Harteloosheid deur leiers kan ook op enige plek ter wêreld voorkom – nie net in die Sirië van Assad en Libië van Ghaddafi nie, waar nie geskroom is om die magte wat die land moes beskerm, op hul eie burgers te draai nie.

Die slagoffers se fokus is dan op hulp, en die laaste wat hulle sal verwag is dat hul eie regering hulle die rug sal toekeer – al is hulle ‘n minderheid soos Koerde of Arabiere wat in spesifiek Iran dikwels maar die kort lootjie trek.

Omdat veral die ANC-jeugliga in die verlede dikwels opmerkings gemaak het met die strekking dat hulle die Wes-Kaap onregeerbaar sal maak, is daar ‘n immer-teenwoordige vermoede dat die oproer wat gereeld in verskeie Wes-Kaapse gebiede voorkom, soos by Grabouw en op die Kaapse Vlakte, minstens deels polities gemotiveer is. Dit is immers vir die ANC ‘n klip in die skoen dat dinge wat dienslewering betref, in die enigste provinsie wat nié deur die ANC beheer word nie, oor die algemeen beter verloop.

Dit laat die ANC se strewe om die Wes-Kaap, soos die organisasie dit stel, te bevry, hol en laf klink.

Die gereelde waarskuwings dat die ANC se interne magstryd die instansie se vermoë lamlê om doeltreffend in algemene belang te regeer, is lank reeds by die punt van opportunistiese politiek verby. Dit word deur die ANC self besef, en baie energie en tyd word spandeer om verdeeldheid in die ANC te lap en besweer.

Intussen het daar egter ‘n groter probleem ontwikkel: Mense wat weens hul bande met die ANC, of posisies in die ANC, gevestigde belange opgebou het, is ook onthuts oor hoe die gereelde uitsprake teen korrupsie, en selfs regstreekse waarskuwings deur hoë buitelandse politici, daardie belange in gedrang kan bring. Op die oomblik lyk dit egter of hulle min te vrese het – dié gevestigde belange het op die oog af te verweef met die ANC se DNS geword.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae