Nuuskommentaar: Neo-apartheid kry vlerke

As iemand nog gewonder het of die regering se transformasiedoelwitte op suiwer rassisme neerkom, het die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) daardie twyfel sonder valskerm uitgesmyt.

Van die 40 gekeurde kadetvlieëniers is nie ‘n enkele een ‘n blanke man nie. Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat die SAL dié stap neem, maar verlede jaar het die lugdiens kop gegee nadat Solidariteit toegetree het. Solidariteit het dus weer met ‘n veldtog begin en onsuksesvolle wit kandidate genooi om die vakbond te nader, sodat ondersoek ingestel kan word ná die moontlikheid om regstappe te neem.

Die SAL verweer hom op bestaande wetgewing, min of meer op dieselfde gronde as wat Woolworths sy rasdiskriminerende aanstellingspraktyke verdedig het.

Dié kwessie kan grondwetlik of polities beoordeel word.

Wat die politiek betref, stel dit dadelik ‘n groot leuen aan die orde, naamlik dat die ANC apartheid afgeskaf het. Die sloping van die apartheidswette is deur die vorige bedeling gedoen, en die heel laaste apartheidswet is meer as twintig jaar gelede uit die wetboek verwyder, naamlik die wet waarvolgens Suid-Afrikaners volgens ras geklassifiseer is. Dit is die ANC-regering wat die afgeskafde rasseklassifikasie steeds benut om maatskaplike manipulasie in die arbeidsmark en die ekonomie te doen, wat tot nadeel van die land beteken die beste mense beklee nie noodwendig saakmakende poste nie, en strem die ekonomie en ontwikkeling.

Met die wêreldwye ekonomiese toestande kan ‘n land met Suid-Afrika se probleme nie werklik bekostig dat ook dié land se ekonomie onderpresteer nie.

Die politieke beheptheid met velkleur het onder meer gelei tot die hofsaak waarin Solidariteit ‘n aantal bruin werknemers van die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) in die Wes-Kaap verteenwoordig. Die DKD probeer openlik sy diskriminasie teen bruin werknemers op grond van nasionale demografie regverdig.

Wat die grondwetlike hoek betref – die bepaling oor regstellende aksie (wat verkeerdelik met “affirmative action” vertaal word), word as “beperking” van ‘n basiese mensereg – die verbod op onbillike diskriminasie, aangetref. Dáár geld die bepaling, ook internasionaal, dat die beperking op ‘n basiese reg nie so uitgelê mag word dat dit die oorspronklike reg wesenlik aantas nie.

‘n Mens moet werklik ‘n baie versteurde sin vir geregtigheid hê om te oordeel dat die diskriminasie teen ‘n groep (waarvoor die grondwet ‘n lang lys voorsien), geregverdig kan wees as daardie groepe volkome uitgesluit is. Hierdie stereotipering, in  hierdie geval rassestereotipering, sluit dit alle individuele toetsing uit. Dit kan daartoe lei dat ‘n swart dogter van ‘n miljoenêr op grond van haar velkleur voorkeur kan kry bo ‘n wit kinderhuisseun, terwyl enige sin vir logiesheid bepaal dat die wit seun in die proses van die wieg tot die graf benadeel word. Dit kan immers nie met selfs die mees verwronge sin vir geregtigheid onder ‘n basiese reg wat onbillike diskriminasie verbied, geregverdig word nie.

So ‘n rasbeheptheid skakel ook ander kategorie voorheen-benadeeldes uit, soos ‘n wit gestremde wie se gestremdheid nie sy vermoë om ‘n puik  vlieënier te wees enigsins benadeel nie. Of iemand wat “in die verlede” onbillike diskriminasie weens sy seksuele oriëntasie ervaar het.

So word die grondwet belaglik gemaak. So word die ANC se aansprake dat dit nie-rassigheid nastreef, belaglik gemaak.

Dit is nie net die SAL wat agter die deur staan nie. Pas het die Sentrum vir Grondwetlike Regte van die FW de Klerkstigting sy steun toegesê aan die Helen Suzman-stigting, wat met regstappe teen die rasbeheptheid van die Regterlike Dienstekommissie begin het. “Although the Constitution requires the judiciary to be representative in general, the JSC’s interpretation of section 174(2) has resulted in the Commission putting too much emphasis on “transforming” the judiciary and its mindset and not enough on appointing the most appropriate and suitable candidates as judges as required by section 174(1). In this regard, the CFCR had previously, as amicus curiae in both Cape Bar Council v the Judicial Service Commission and Another and the subsequent appeal, argued that the JSC’s interpretation of sections 174(1) and 174(2) – and in particular the weight it attached to the provisions of section 174(2) – was wrong.”

Wanneer rasbeheptheid verabsoluteer word kan dit tot belaglike situasies lei. Dit het onlangs aan die lig gekom dat ‘n vroulike Amerikaanse kongreslid, voorheen op grond van haar aanspraak dat sy ‘n Indiaanse voorouer het, ‘n kwota-aanstelling by ‘n Bostonse universiteit gekry het. ‘n Joernalis het gaan bereken dat selfs al sou dit waar  wees, dit daarop sou neerkom dat die vrou slegs geringe Indiaanse bloed in haar are het.

Regstellende aksie is internasionaal van toepassing om minderhede ‘n regverdige kans te gee waar ‘n meerderheid die politieke mag hou. Die enigste uitsondering, naas Suid-Afrika, was Maleisië waar veral Chinese die ekonomiese middele beheer het. Dié voorbeeld word graag gebruik om Suid-Afrika se agterstevoor benadering te regverdig. Maar daar word versuim om te meld dat dit ‘n duidelike sonsondergang geïmpliseer het, en gerig was op toevoeging eerder as ontneming. Ten spyte daarvan dat dit dus nie diskriminerend teen die Chinese minderheid ingewerk het nie, het Singapoer in ieder geval besluit om onafhanklik te wees. Maroela Media het dit reeds verskeie kere bespreek, en dit kan hier en hier gelees word.

Ten spyte van deurlopende aansprake van die ANC dat dit apartheid gesloop het, bly dit ‘n kluitjie. Die werklikheid is dat die ANC ‘n reeks wetgewing en maatreëls ingevoer het wat die lot van mense op grond van hul velkleur van die wieg tot die graf bepaal. Met “token” blankes wat die regte politieke geluide maak inkluis.

En klink dit nie al te bekend nie?

Om dit nie-rassigheid, soos in die Freedom Charter veronderstel is, te noem is ‘n siek grap.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Mike ·

Apartheid is mos met behulp van die ANC as ‘n misdaad teen die mensdom verklaar, hoekom dan nie daardie selfde wetgewing gebruik om hulle aan te kla nie want hierdie optrede is ook apartheid.

As ons net leiers gehad het met “balls” om hierdie tipe goed te kan koordineer maar nou-ja .

Rudi ·

Ongelukkig vat die artikel dit 100% raak.

Wat ‘n moontlike koers van aksie vir die gewone mens betref (omdat ons SAL nie self hof toe kan vat nie), kan ons die lugredery eenvoudig boikot. Ek vlieg lankal nie meer met hulle nie. Kleiner lugrederye, soos Kulula en kie, skroom nie om die beste man vir die werk (ongeag sy velkleur) in diens te neem nie. Stem met jou beursie en kom ons maak SAL irrelevant.

piet ·

MET DIE GESPUIS VAN DIE ANC EN HULLE SLAPGAT WIT BOETIES GAAN ONS NOG VIR BAIE JARE SWAARKRY,

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.