Nuuskommentaar: Nersa maan Eskom

Hartverskeurende verhale word gehoor van veral bejaardes wat saans van kerse gebruik maak in ‘n poging om bekostigbare elektrisiteitsrekenings te ontvang.

Intussen het Eskom aansoek gedoen om kragtariewe oor die volgende drie jaar met 16 persent per jaar te verhoog, en die energiereguleerder, Nersa, het onlangs aan die parlement se portefeuljekomitee vir energie gesê  Suid-Afrika se kragtariewe het die afgelope ses jaar met tot 288 persent gestyg.

Die ironie is dat Nersa vroeër vanjaar ‘n 16 persent verhoging goedgekeur het nadat die verhoging aanvanklik 25,9 persent sou wees.

Die ekonoom, Dawie Roodt, het ook gemaan dat ‘n verhoging van 16 persent per jaar die ekonomie sal skaad, en gemeld dat die syfers wat Eskom gebruik om by sy 16-persent versoek te kom, verdag is.

In ‘n nuwe voorlegging aan die parlement se komitee vir handel en nywerheid het Nersa aangedui dat die land se kragtariewe die punt bereik het waar stygings die land enorme skade kan berokken en talle fabrieke en ondernemings hul deure sal moet sluit.

Nie al die hoë kragrekenings kan voor die deur van Eskom gelê word nie.

Die energie-intensiewegebruikersgroep, EIUG het die vinger na veral munisipaliteite gewys. Munisipaliteite genereer tot 60 persent van hul inkomste uit die herverkoop van elektrisiteit. Munisipaliteite soos Tshwane, Johannesburg en Nelson Mandelabaai hef bo die Eskomtariewe nog heffings wat van meer as 500 persent tot meer as 700 persent wissel.

Veral die sakesektor word as melkkoeie beskou, en dié tariewe maak dat sommige nywerhede nie meer kompeterend is teenoor die tariewe wat mededingers in Frankryk, Meksiko, Duitsland, Pole en Thailand betaal nie.

In Bloemfontein, wie se kragverspreiding deur ‘n maatskappy, Centlec behartig word waarin die munisipaliteit 100 persent aandeelhouding het, is ‘n burgerlike groep bestaande uit meenthuisinwoners op pad hof toe. Centlec hef op sommige meenthuise en ouetehuise industriële tariewe, wat beteken dat inwoners van daardie meenthuise enorme kragrekenings kry. In 2010 het sommige deeltitel-eienaars se rekenings in enkele maande met 300 persent gestyg. Baie inwoners verkoop hul meenthuise of sê die huur op, en agente sukkel om nuwe kopers of huurders te kry.

Centlec hou vol dat die wet hom geen ander keuse laat nie, terwyl Nersa al verskeie kere in die media aangehaal is waarin Centlec daarop gewys word dat dit nie die geval is nie, en trouens op onbillike diskriminasie neerkom wat ongrondwetlik is. Dié hofsaak begin uiteindelik aan die einde van die maand.

Hoewel munisipaliteite elektrisiteit as betreklik maklik invorderbaar beskou, kan bloed ook nie uit ‘n klip getap word nie. Meer as ‘n miljard rand se elektrisiteit word nou jaarliks gesteel, en inwoners van Soweto se kragskuld beloop reeds R3 miljard, en slegs 30 persent van die inwoners betaal vir krag.

Munisipaliteite gebruik dikwels ook ingevorderde kragbetalings om ander gate toe te stop eerder as om, soos veronderstel is om te gebeur, eers hul Eskomrekenings mee te betaal. Kort-kort word ingegryp om te voorkom dat Eskom munisipaliteite se krag weens enorme skuld af te sny. Dit is immers onregverdig dat mense, en ook instellings soos ouetehuise en hospitale wat wel ten volle opbetaal is, se krag ook afgesny moet word. Dit is in baie gevalle lewensbedreigend. Sake-ondernemings en individue kan enorme skade ly as onder meer bevrore vleis sleg word.

Intussen moet Eskom in die uitgebreide vraag bly voorsien, en die finansiering diens. Twee nuwe steenkoolkragstasies kos saam sowat R250 miljard, en die rente daarop alleen beloop R120 miljoen oor vyf jaar.

Intussen is daar kostes aan verbonde om groen energie in te faseer, en ook om dit moontlik te maak vir onafhanklike entrepreneurs om bekostigbaar krag in Eskom se netwerk in te pomp.

Die krisis is minstens deels die gevolg van ‘n agterstand toe uitbreidings gedoen moes wees, maar die regering voete gesleep het. Na bewering het die R30 miljard wat na die omstrede wapentransaksie gegaan het, hierin ‘n rol gespeel.

In die proses is die balans tussen ekonomiese groei en die infrastruktuur daarvoor versteur, en is die inhaal van agterstande nou peperduur – en ten koste van ekonomiese groei en werksgeleenthede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.