Nuuskommentaar: Nkandla-gate

Terwyl die omstredenheid oplaai oor die verbeterings van meer as R200 miljoen waarvan die belastingbetaler die leeueaandeel opdok, aan pres. Jacob Zuma se privaat woning te Nkandla, het Zuma besoek gebring aan oud-president Nelson Mandela by sy woning in die landelike Qunu.

Die Qunu-woning is min of meer ‘n replika van die huis op die terrein van die Victor Verstergevangenis waarin Mandela sy laaste dae as aangehoudene deurgebring het. Die huis by Qunu het ‘n soort pelgrimsbestemming van hoë regeringsleiers en afgetrede staatshoofde geword.

Zuma se besoek aan Qunu het klaarblyklik deel uitgemaak van sy veldtog om aan die einde van die jaar tot ANC-president herkies te word, en so nog ‘n termyn as president van die land te kan oorleef. Zuma se steun onder die Xhosas is erg geplunder, en Mandela is ‘n ikon onder die Xhosas en ook ander bevolkingsgroepe in die land.

In die proses het Zuma egter ook die weerlig getrek op die verskille tussen die verwikkelinge in en om Nkandla en Qunu, en ook wie daarvoor opdok.

Oor die Nkandla-woning en die sogenaamde Zumaville is die belastingbetalers onlangs nog gesus met versekerings dat dit deur private ondernemers en Zuma self gefinansier word. Namate dieper gedelf is, is rug styfgemaak met stellings soos dat Zuma nie verskoning sal vra vir landelike ontwikkeling nie.

En toe beland die volle besonderhede van die president se privaat woning in die pers. Dit blyk uit ‘n uiters geheime verslag te kom, en die regering is nou hard besig om die persoon wat vir die lekkasie verantwoordelik was te soek.

Zuma se woordvoerder, Mac Maharaj, maak ook rug styf en probeer die astronomiese uitgawes regverdig. Hy het onder meer aangevoer dat daar nie van die president verwag kan word om uit sy eie sak akkommodasie vir sy veiligheidspersoneel en ander ondersteuningspersoneel te verskaf nie.

Maharaj se argumente oor die ontvang van buitelandse gaste, soos pres. Barack Obama, trek net verdere aandag op die onlogiese argumente. Sedert Obama president geword het, het hy slegs enkele Afrikalande suid van die Shara besoek – Ghana, Benin en Tanzanië. Ghana en Tanzanië klop Suid-Afrika op die persvryheidsindeks. Die Withuis het dit duidelik gemaak dat die keuses van lande wat besoek word verband hou met die lande se verbintenis tot demokrasie. Selfs Kenia, die geboorteland van Obama se pa, is nie besoek nie – Kenia vaar onder meer aansienlik swakker as Tanzanië op die korrupsiepersepsie-indeks.

Kortom, Suid-Afrika sal sy sokkies baie moet optrek voor die land weer ‘n besoek van ‘n dienende Amerikaanse president te wagte kan wees.

Die tweede gat in Maharaj se argument is dat besoekende staatshoofde, soos protokol vereis, hul besoek sal beperk tot een van die president se ampswonings, waaraan ook enorme bedrae spandeer is.

Die derde gat in Maharaj se argument is dat Zuma na die ANC se kongres gedwing kan word om te abdikeer. In dié stadium lyk die kanse skraal, maar dit is ‘n ontsettende hoë prys waarmee belastingbetalers moet dobbel. Boonop het die appèlhof gelas dat die Nasionale Vervolgingsgesag die relevante dokumente aan die DA moet oorhandig wat die inligting bevat oor hoekom besluit is om aanklagte van korrupsie teen Zuma te laat vaar. In beginsel kan Zuma weer voor die hof beland.

Of die uitgawes aangegaan mag word, en of dit moreel regverdigbaar is teen die agtergrond van die land se ekonomiese situasie is ook twee heel verskillende sake. Dit staan boonop teen die agtergrond van die een soortgelyke geval na die ander waar iewers in ‘n fonds gedelf is, na bewering onder meer die polisie se fonds vir bronne, om verbeterings aan privaat wonings aan te bring. En so lank daar nie behoorlike reëls is nie, en die reëls nie toegepas word nie, sal Suid-Afrika op die korrupsiepersepsie-indeks agteruit bly boer, en die ekonomiese herstel al moeiliker bewerkstellig kan word.

Hierdie geval toon ook hoekom dit so belangrik is dat die openbare belang-beginsel verklikkers wat korrupsie aan die lig bring, van vervolging vrywaar. Die beginsels wat tot die klassifikasie van inligting lei, behels onder meer dat dit korrupsie moet voorkom, nie om dit toe te smeer nie.

Soos die redakteur van FA News skryf: Arms-gate, Oil-gate, Travel-gate, Mdluli-gate and Nkandla-gate – om maar net ‘n paar te noem.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Private besit van enige staatshoof of ander hooggeplaaste, bly tog uitsluitlik sodanige beampte se eie verantwoordelikheid. Kan dus hoegenaamde nie verstaan hoekom die Staat enige finansiële insette moet lewer nie.

Die verskoning dat hy ander hooggeplaaste moet ontvang, gaan bloot nie af nie omdat die Staat die nodige geriewe daarvoor verskaf. Daarvoor is daar staatswonings en ander geriewe wat dit vir Staatshoofde en ander hooggeplaastes moontlik maak om ontmoetings te reël.

Hierdie “misbruik” van die ANC-regering aan Zuma se private eiendom moet drasties en daadkragtig bestry word – al is dit ook in die hoogste howe van die land. Afrika-kultuur kan eenvoudig nie in ‘n moderne, demokratiese en Westers-georieënteerde land soos Suid-Afrika toegelaat word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.