Nuuskommentaar: Nkosazana Kliptown se klip in die skoen?

Foto: Denis Sinyakov / Reuters

“Taal lê aan die hart van ons begrip en ons uitkyk op die lewe, en taal is verweef met ons kultuur, ons menswees en ons menswaardigheid. Elke mens op aarde koester woorde, emosies, idees en gedagtes wat vry wil wees. Die sleutel tot daardie bevryding is taal. Dit alles is waar vir ons wat Afrikaans koester as ons moedertaal. Maar ook vir al die taalgebruikers van al die inheemse tale van Suider Afrika – en alle wêreldtale.”

Terwyl sowat ‘n duisend afgevaardigdes by Kliptown koppe oor nasionale kohesie bymekaar sit, is hierdie woorde in ‘n buurland geuiter. Aan die woord was oud-pres. FW de Klerk wat ‘n Afrikaanse privaat skool in Windhoek toegespreek het.

By die beraad op die plek waar die Freedom Charter beslag gekry het, het die minister van Binnelandse Sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma minderhede verwyt omdat hulle nie bloot by die meerderheid integreer nie. In wese het sy die opneem van minderheidsregte met ‘n gevoel van meerderwaardigheid gelyk gestel.

Kulturele en ander minderheidsregte, waaroor Maroela al ruim verslag gedoen het, is wêreldwyd nié die manifestasie van iets konserwatief of regs nie. Minderheidsregte word deur die volkereg as ‘n essensiële deel van menseregte, naas individuele regte beskou, en word deur verskeie internasionale verdrae beslag gegee waarvan Suid-Afrika ‘n mede-ondertekenaar is. As voormalige minister van Buitelandse Sake behoort Dlamini-Zuma dit te weet. Oud-pres. Nelson Mandela het in die vorm van sy beeld van ‘n reënboognasie ook lippediens daaraan bewys.

Minderheidsregte is nie outyds of regs nie. Toe oud-minister Max van der Stoel onlangs oorlede is, is hierdie man in Nederland waar hy eens as Joop den Uyl se regterhand die veldtog teen apartheid gelei het, eerder onthou vir sy lewe wat hy aan die regte van minderhede gewy het. Om ‘n lidland van die Europese Unie te word, moet lande voldoende selfbeskikking aan minderhede soos die Baske, Kataloniërs en die Skotte gee. Dlamini-Zuma is uit pas met moderne internasionale reg en denke.

Dlamini-Zuma se opmerkings was klaarblyklik ‘n reaksie op die toespraak van dr. Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus wat ‘n ministerie vir Minderhede bepleit het, en toe deur ‘n groot deel van die gehoor gekoggel en uitgelag is. Mulder het uit die aanhef van die grondwet aangehaal:  “Ons, die mense van Suid-Afrika, glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.”

Die woorde kom amper woordelik ook in die Freedom Charter voor wat op die einste plek beslag gekry het. Mulder het voorts ander dele van die Charter aangehaal om sy stellings te motiveer.

Dit is so dat die Vryheidsfront Plus, selfs onder die mense wat dit graag wil verteenwoordig, ‘n klein party is. De Klerk wys daarop dat Afrikaans die moedertaal van sowat 7 miljoen Suid-Afrikaners, of te wel 13 persent van die bevolking is. Die VF Plus se steun by die stembus draai rondom een persent. Moontlik geniet buiteparlementêre partye saam ook ongeveer soveel steun. Word die kwessie egter los van die politiek gemaak en na die burgerlike samelewing en burgers self geneem, is dit duidelik dat ‘n baie groot deel van die Afrikaanse gemeenskap sterk oor minstens kulturele regte voel. In vandag se Beeld skryf dr. Danny Titus, die ATKV se uitvoerende direkteur van kultuursake onder meer soos volg: “Uit die Soweto-konferensie sal seker blyk dat ons mekaar se kulture moet verstaan en respekteer om ’n suksesvolle Suid-Afrika te verseker.”

Dié woorde is heel duidelik geskryf voor Dlamini-Zuma haar woorde geuiter het. Titus se artikel behandel onder meer wat ‘n prominente ANC-leier onder die term “African” verstaan, en wat dit nog meer duidelik sal maak oor hoekom die minister se opmerking in baie ore wanklankig sal klink. (Die artikel kan gelees word by http://www.beeld.com/Rubrieke/Gasrubriekskrywers/Aan-die-grense-van-ons-kultuur-20120704

Dit is jammer dat ‘n uiters belangrike beraad soos hierdie reeds op die eerste dag so ‘n pap wiel moes opdoen. As die land polarisasie te bowe wil kom, is dit eerstens nodig dat die mense in Suid-Afrika die waarheid vir mekaar moet kan sê – eerstens op ‘n manier dat dit nie kwes en die temperatuur opjaag nie, maar net so belangrik gehoor kan word sonder om in loopgrawe terug te tuimel en blindelings te begin woorde skiet.

Pres. Jacob Zuma het ‘n goue geleentheid verpas om die versoeningspad te begin loop toe hy nie optredes soos dié van Ronald Lamola buite orde gereël het nie. Hy het ‘n versugting oor die euforie van die Wêreldbekersokkertoernooi uitgespreek, terwyl die harde werklikheid is dat as die onderliggende omstandighede nie in pas met die euforie gebring word nie, verval die gemeenskap na so ‘n bedwelmende euforie in ‘n post euforiese depressie, of trauma. Suid-Afrika is na die toernooi is ‘n teksboekgeval vir politieke sosioloë, wat ook voor die toernooi vergeefs gewaarsku het oor die aanblaas van die euforie.

Dlamini-Zuma se uitlating en die gehoor se reaksie is egter ook terselfdertyd ‘n vermaning aan diegene wat meen die Afrikaner se selfbeskikkingsdrang word ten beste deur polarisasie gevoed. Solank motiewe gewantrou word, so lank gaan geen staatkundige of grondwetlike bedeling – van integrasie tot sesessie – sonder baie weerstand en selfs bloedvergieting realiseer nie. Dr. Tjaart van der Walt, eertydse president van die RGN se vermaning lank voor 1994 wat Titus nou deels aanhaal is vandag nog net so waar: “Geen grondwet, selfs nie die beste in die wêreld, sal hoegenaamd kan werk as die mense mekaar nie verstaan en vertrou nie.”

Intussen sal Suid-Afrika ernstig moet besin oor die wenslikheid om Dlamini-Zuma se kandidatuur as hoof van die Afrika-Unie se sekretariaat te bly bevorder. Verskeie Afrikalande is pas in sy jaarverslag deur die International Human Rights Group gestriem oor die bedenklike wyse waarop met minderheidsregte omgegaan word. Met die gesindheid wat sy nou in Kliptown geopenbaar het sou haar keuse wees soos om ‘n slang in ‘n duiwehok los te laat.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

H J Bester ·

Ons het hier in Namibië deur dieselfde wroeging gegaan naamlik om mekaar, as verskillende ras- en taalgroepe, te leer verstaan en te vertrou – dit het plaasgevind op die vooraand en tydens die skrywe van ‘n grondwet vir ons land.

‘n Uitdrukking of slagspreuk wat wyd tydens toesprake en inligtingssessies deur die leiers gebruik is, was dat die grondwet slegs betekenis kan hê as dit ook in die harte van mense geskryf is. Alhoewel hierdie uitdrukking bykans kinderlike betekenis gehad het, is dit tog wyd verstaan en aanvaar so asof ellende ons voorland sou wees indien dit nie aanvaar word nie.

‘n Groot deel van die onderlinge vertroue, vrede en stabiliteit wat steeds in ons land heers, is resultaat daarvan dat die inskripsie van ons grondwet in die harte van mense, steeds blywend is. Ons land se grondwet is een van die min amptelike dokumente wat ook in Afrikaans vertaal en beskikbaar is – so belangrik word dit geag dat daarby slegs by een geleentheid ‘n geringe wysiging aangebring is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.