Nuuskommentaar: Nommer een op wenslys vir Zuma: en moord-verkragtings

Jacob Zuma. Foto: GCIS

Môre lewer pres. Jacob Zuma sy gebruiklike staatsrede. Die verwagting is dat hy swaar gaan fokus op die nasionale ontwikkelingsplan, en gerusstellende geluide gaan maak.

Dit val min of meer saam met pres. Barack Obama se staatsrede, waar die Amerikaanse regeringshoof ook in sy staatsrede op die ekonomie en ekonomiese herstel gefokus het.

Wat ‘n groot deel van die publiek betref, is die saak wat nou die dringendste op die tafel lê die skrikbewind van verkragtings – dikwels wrede verkragtings en moorde. Onder die sake wat nou die aandag trek is die verkragting, foltering en moord van die 17-jarige Anine Booysen, en die ontvoering van die 11-jarige Ofentse Mogale wat by haar jonger sussie geslaap het, net om later verkrag en vermoor gevind te word.

Gister het die nuus gekom dat ‘n vermeende reeksverkragter van Limpopo ook van poging tot moord aangekla gaan word. Hy het na bewering agt meisies verkrag terwyl hy geweet het hy is MIV-positief. Dié nuus is wyd in kommentare deur die publiek verwelkom, maar in ander kommentare en selfs betogings is geëis dat verkragters die doodstraf opgelê moet word, en dat hulle gekastreer moet word.

Om MIV-poistiewe verkragters van poging tot moord aan te kla, is nie heeltemal nuut in Suid-Afrika nie. Die eerste MIV-persoon wat in Suid-Afrika aan poging tot moord skuldig bevind is na ‘n verkragting, is in 2004 lewenslange gevangenisstraf opgelê. Regter Eben Jordaan het toe tydens sy uitspraak gesê hy moes die Kanadese reg raadpleeg om ‘n toepaslike regspresedent te kry.

Om te bewys dat iemand geweet het hy is MIV-positief, is nie altyd so maklik nie, maar as iemand mediese parool kry omdat hy deur Vigs verteer word, het die persoon geen verskoning nie. Limpopo stel nou ‘n voorbeeld deur alle verkragters vir MIV te toets. Sou hy daarna weer van verkragting aangekla word, is dit heel moontlik om poging tot moord tot die klagstaat toe te voeg.

Heel waarskynlik sal Zuma in sy staatsrede ook hierdie kwessie aanroer. Die herinstelling van die doodstraf en om verkragters te kastreer is reeds deur die minister as buite orde gereël.

Dat daar ‘n nasionale gesprek oor die kwessie van verkragtings moet wees, is ongetwyfeld so, en word ook vandag in Beeld se hoofartikel uitgespel.

Dit kan egter nie die staatsrede so oorheers dat ander dwingende kwessies nie aangepreek moet word nie.

Hoewel staatsredes betreklik onlangs eers as ‘n standaardprakyk uit die VSA oorgewaai het – waar dit self ‘n relatiewe nuwigheid is, het dit gou wêreldwyd in statuur gegroei en ‘n tradisie ontwikkel. Dié tradisionele verpakking van ‘n staatsrede maak dit vir ontleders moontlik om presies te vertolk wat gesê en bedoel is, en hoe dit aangepak gaan word. Uiteindelik het dit so ‘n statuur ontwikkel dat dit ook deur diplomate en ander hoogwaardigheidsbekleërs bygewoon word. Oor Obama se staatsrede het ‘n Nederlandse koerant geskryf dat elke sin simboliese betekenis gaan hê.

Die belangrikste is dat dit as roetekaart moet dien vir wat die regering die jaar beplan.

Dit beteken uiteraard dat die regering eerstens ‘n plan moet hê, en die wil moet hê om die voortspruitende plan uit te voer. Dit beteken ook dat die regingshoof bo die partypolitiek moet uitstyg, en nie in die versoeking moet verval om leë, en veral teenstrydige beloftes te maak nie.

Dit is veronderstel om die nasie se nasionale trots aan te spreek en by elkeen die wil te kweek om die probleme wat bestaan aan te spreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.