Nuuskommentaar: Nuus wat ‘n volk aangryp

Dit gebeur nie dikwels nie – ‘n nuusgebeurtenis wat die kollektiewe verbeelding van ‘n land aangryp en die nuustoneel oorheers – en in nuuswaardigheid objektief beskou die skynbaar meer belangrike nuus oorleef en by tye selfs oorskadu. Selfs mense wat gewoonlik nie aandag skenk aan nuus nie, volg dit so nougeset soos ‘n gewilde sepie.

Die sogenaamde “monster on the loose.”

Dié keer, so lyk dit, was dit inderdaad ‘n monster wat op vrye voete was, en wat landswyd, en blykbaar selfs anderkant die landsgrense, gesoek is. Uiteindelik is die verdagte wat gesoek is, Johan Kotzé, soos kenners voorspel het, ‘n hanetreetjie van die misdaadtoneel waarmee hy verbind word gevind.

Sielkundiges het selfs die ongewone gedoen om die verdagte sonder konsultasie te probeer diagnoseer, en is geoordeel dat hy ‘n lewensgevaarlike psigopaat is.

Die volgende stap sal nou wees om die breë en intensiewe publieke aandag te “diagnoseer.”

Ander kere is dit nie ‘n monster wat die verbeelding aangryp nie.

‘n Bekende voorbeeld uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis, is die verhaal van Huberta die seekoei. In November 1928 was Huberta net nog ‘n seekoei in St Lucia, maar toe pak sy om ‘n onbekende rede ‘n epiese staptog van 1 600 kilometer na die Oos-Kaap aan, ‘n bestemming wat sy in 1931 bereik het. In die proses het sy 122 riviere oorgesteek, haar pad deur tuine en landerye en oor gholfbane gevreet, in Durban in die see gaan baai, ‘n poging om haar te vang gefnuik en by dié geleentheid ook ’n horde joernaliste van oor die hele wêreld wat haar gevolg het die bome opgedryf.

So groot was die openbare belangstelling dat Huberta tot kroonwild verklaar is – met ander woorde sy was nie elke Jan Rap en sy maat se doodskoot beskore nie. Te midde van al die wêreldaandag is sy uiteindelik in die Oos-Kaap deur drie jagters geskiet en net so gelaat. Toe die jagters onder die reuse openbare druk van ‘n getraumatiseerde gemeenskap opgespoor is, het hulle te kenne gegee dat hulle onbewus was van die hele gedoente, maar die staat het dit nie aanvaar nie en elk is ‘n stewige boete van £25 opgelê. Huberta is in Brittanje laat opstop en word in die Amatolemuseum in King Williams Town uitgestal.

Onder die vernaamste nuusgebeure wat Kotzé, wat daarvan verdink word dat hy sy stiefseun vermoor, en sy gewese vrou deur drie werkers laat verkrag het, oorleef het is die ANC se eeufees, die ma van ‘n voornemende student aan die Universiteit van Johannesburg wat in die laat-inskrywingstormloop doodgetrap is, die eerste gru-nuus oor die voortgesette stroop van renosters in Suid-Afrika, die vakansie se padslagting, die internasionale krieketwedstryde tussen Suid-Afrika en Sri Lanka, 34 dwelmmuile wat in Kaapstad gevang is, die wêreld-ekonomiese krisis en die besoek van Christine Legarde, president van die Internasionale Monetêre Fonds, en vele meer.

Daar was ander opspraakwekkende moorde, ook waar die verdagtes bekendes soos huweliksmaats of familie vermoor het.

Maar deurentyd bly daar een kollektief – die aandag van mense oor die hele spektrum keer maar weer terug na die jagtog na Kotzé.

Selfs ‘n onlangse voorval in België waar ‘n man op omstanders losgetrek en dooies en gewondes agtergelaat het, het doodgewoon nie die aandag getrek en veral nie vasgevang gehou nie. Die internet het behoorlik oor Kotzé gegons en hy is onder meer die allerverskriklikste lot toegewens.

Statisties gesproke is daar vanjaar reeds sowat 600 mense in Suid-Afrika vermoor. Meer as 2 000 mense sou statisties gesproke reeds klagtes van seksuele aanranding soos verkragting by die SAPD gaan lê het, en tussen tien en dertig keer soveel sou verkrag gewees het, maar gaan lê nie klagtes by die polisie nie.

Sielkundiges en sosioloë bestudeer al lank die verskynsel dat die een insident die verbeelding so kan aangryp, en ‘n ander skaars bemerk word… ‘n kenmerk van mense om deur hul werklike omgewing oorweldig te voel, hulle in wese daarvan af te sluit, en dan die energie op ‘n enkele saak los te laat en in die fynste besonderheid te ontleed.

Sommiges beskryf een van hierdie manifestasies van hierdie projeksie weg van die werklikheid as kompulsiewe puritanisme. Die persoon word byvoorbeeld oorweldig deur die verskillende moderne teologiese denke wat buite sy gevestigde gemaksone is, en hy verval in ‘n verbete stryd oor kantlyn-nuanses en verloor perspektief oor die werklike saakmakende godsdienskwessie – verlossing deur genade. In plaas van ‘n beeld van iemand wat die goeie vrugte van die Heilige Gees en naasteliefde dra, kry die buitestander die idee van ‘n ongelukkige persoon wat ander veroordeel as dit patalogiese  afmetings begin raak.

Wat in die Kotzé-geval egter belangrik is, is of die meegevoerdheid die kenmerke dra van ‘n gemeenskap wat die werklikheid op een geval projekteer waar al die emosies soos vrees, haat en die behoefte aan assosiasie saamgefokus word, en of dit ‘n geval is van ‘n groot gemeenskap wat nog diep omgee. Mag dit laasgenoemde wees.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae