Nuuskommentaar: NuusNou nou nie meer

Op 6 September, ongeveer ‘n jaar na die eerste uitgawe van NewsNow / NuusNou die lig gesien het, gaan die laaste uitgawe ter perse.

Slimmighede oor wat NuusNou reg, of verkeerd gedoen het sal daar nou baie wees. Vrae sal gevra word oor die akkuraatheid van die marknavorsing waarop dit geskoei was.

Die feit is dat Afrikaans ‘n belangrike voet in die aktualiteittydskrifwese kwyt is. Dat NuusNou vir die aktualiteitsmark gemik het,  blyk uit die onlangse advertensie vir ‘n nuusredakteur waarin uitstekende kennis van nuus en aktuele sake as voorvereiste gestel is. Of dit werklik dié mark met nuuskeuse en nuusformaat aangespreek het, of te veel bloot gedupliseer het met wat ander publikasies en veral die internet in ieder geval gebied het, is deel van die lykskouing wat nou gehou sal word.

Die feit is dat ‘n leemte in beginsel ontstaan en dat ‘n kombinasie van faktore dit bitter moeilik gaan maak om die proses te herhaal. Onder die probleme wat in die gesig gestaar word is die ekonomiese koste van die gedrukte media, wat wêreldwyd weer druk verplaas om minder ervare joernaliste, dus goedkoper, in diens te plaas, juis terwyl nuusmededinging ‘n groter premie by ‘n deel van die leserskorps plaas wat nuusaanbieding van goeie insig verlang. Kry die leser dit nie in sy eie publikasie nie, gaan lees hy dit gewoon op die internet in die Christian Science Monitor of ‘n spektrum Nederlandse en Vlaamse publikasies. Goeie aktualiteitspraktisyns kry steeds wêreldwyd platforms om hul eiertjies te lê.

Nie twee meningsvormers soek hul aktualiteitsnuus presies dieselfde nie. Word egter na die beleidsrigtings van die vernaamste politieke partye in Suid-Afrika gekyk, lyk dit of die hoofstroomdenke baie dieselfde is. Maar sou die Afrikaanse teikenmark werklik meer homogeen in ideologie wees as byvoorbeeld die Amerikaanse, waar peilings daarop dui dat die twee presidentskandidate kop aan kop loop? Waar die sittende president sterk pro-aborsies en verwante beleidsrigtings is, het die Republikeine se kongres pas besluit die party is formeel teen aborsies op aanvraag en gay huwelike.

Geoordeel aan die “hoofstroommedia” is dit wat die Republikeinse Party aanvaar bykans afwesige sentimente in die Afrikaanse gemeenskap. ‘n Vorige redakteur van een van die groot Afrikaanse koerante het selfs ‘n paar jaar gelede in ‘n hoofartikel geskryf aborsies is nie meer deel van die openbare debat nie. Maar hoofstroomkerke en ook die Islam is daarteen gekant, en die Amerikaners het hom met mening verkeerd bewys. Bygesê, die redakteur se opvolger het ook nie sy mening gedeel nie.

Hoewel dit op die oog as vir ‘n Afrikaanse publikasie onwys sal wees om te fokus op die bevordering van die liberale agenda, sal dit ook onwys wees om alles vir almal te wees. Daar is na al die kante randakkers wat net te ver van die hoofstroomdenke lê.

Ironies het adjunk-president Kgalema Motlanthe pas aangedui dat die “behoefte” aan ‘n mediatribunaal vervaag het omdat koerante nou beter is. Met die stelling sal baie lesers waarskynlik saamstem juis omdat die hulle op die oog af, en soms selfs wat die Afrikaanse koerante betref op eie aanspraak minder politiek korrek is.

Die uitdaging sal juis nou op ander Afrikaanse publikasies, hoofstroom en andersins, toeneem om die leemte te vul. Die internet is ‘n goeie alternatief, maar ongelukkig word ‘n deel van die Afrikaanse gemeenskap – ook intellektuele – dan uitgesluit wat nie die selfvertroue het om hul vingers op die toetsbord die praatwerk te laat doen nie. En so groot is die poel van aktualiteitspraktisyns ook nie dat breinkrag weens tegnologie op die speelveld kan verdamp nie.

Dit bly ‘n verleentheid dat Afrikaans nie ‘n behoorlike aktualiteitspublikasie op die rolpers kan hou nie. Die kundigheid is beslis daar al kan almal nie ‘n Leopold Scholtz, Rhoda Kadalie, Gert Coetzee, Susan Maré of ‘n rits ander wees nie.

Afrikaans verdien ‘n behoorlike analise oor wat NuusNou in die hek laat duik het sodat bo alle twyfel vasgestel kan word of daar nie tóg plan gemaak kan word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Vernita Mundell ·

Ek dink mense lees gratis nuus op die internet, soos bv Beeld, News24, City press online…. en Channel 403 op DSTV…. Die Mail & Guardian weeklikse koerant is amper R15 en hulle kom die mas op…. Dit neem jou ‘n week om M&G te lees. Daarom is dit snaaks dat NuusNou nie gewerk het nie. Ek dink die feit dat koerante online beskikbaar is, het wel ‘n groot invloed.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.