Nuuskommentaar: Nuwe minimumlone vir plaaswerkers

As daar iets negatiefs teen die georganiseerde landbou gesê kan word na die aankondiging van die regering dat die minimumloon vir plaaswerkers van R69 per dag ot R105 per dag gaan styg, is dit dat die landbou in reaksie klinies ongevoelig klink oor die lot van hul werkers wat teen karige lone kos op die tafel moet plaas.

In hul verklarings wys Agri SA en die TLU SA in geen onduidelike taal nie op die gevolge van ‘n loonvasstelling wat tot ‘n 100 000 plaaswerkers wat nou werk, en dikwels behuising het, eersdaags op straat kan laat sit.

Reeds tydens die gewelddadige Bolandse stakings in die landboubedryf het die vakbonde en ander nie-regeringsorganisasies gereeld gekla dat die georganiseerde landbou te klinies optree en ‘n “ongevoeligheid”, volgens hulle, oor die lot van hul werkers aan die dag lê.

Aan die ander kant – landbou-organisasies soos Agri Wes-Kaap hét reeds mediaverklarings oor onder meer suksesverhale van beginnerboere wat deur die georganiseerde landbou gehelp is uitgereik wat frustrerend min, en soms geen mediadekking nie, geniet. Die beeld wat gevorm word, weerspieël dus nie die noodwendig die werklikheid nie.

Dat die landbou gefrustreerd is, is ‘n gegewe. ‘n Deeglike stuk navorsing oor die bekostigbaarheidsaspekte van die lone is aan die regering oorhandig. Die regering, wat gereeld sy verbintenis tot sy eie groei- en ontwikkelingsplan uitspreek waar die skep van nuwe werksgeleenthede in die landbou prominent genoem word, het egter oop oë besluit om ‘n skoot bokhael in sy eie voet af te trek.

Dié indruk dat die landbou ongevoelig is, is ver van die waarheid. Ja, en die georganiseerde landbou stel dit ook gereeld, daar is vrot appels onder die boere. Maar die georganiseerde landbou besef sy interafhanklikheid met ‘n lojale werkerskorps. Dit is dikwels plaaswerkers wat inligting kry van plaasaanvalle wat op hande is, en alarm maak. Plaaswerkers word dikwels erg verniel omdat hulle tydens plaasaanvalle “die boer se kant vat” en daar was reeds sterfgevalle. Werkers wat na ‘n plaasmoord saam by die graf huil, is algemeen. Die boer moet dikwels peperduur landboutoerusting toevertrou aan plaaswerkers. Kortom, die landbouer is doodgewoon te blootgestel om in ‘n slegte verhouding met sy werkers te leef.

Verhale van boere wat skoolgeboue oprig en kliniekdienste fasiliteer, boervroue wat help skoolklere maak, in natura-vergoeding en vele meer haal van tyd tot tyd die media, maar oor die algemeen geskied dit bloot as ‘n gegewe wat nie aan die groot klok gehang word nie.

Binnekort vind daar ‘n inligtingsdag vir boere buite Bloemfontein plaas. Op die dag se agenda is onder meer terugvoer van verskillende landbouvertakkings oor vordering met mentorskapprojekte en soortgelyk. Een van die temas is, ironies genoeg, hoe landbou deur die nasionale ontwikkelingsplan geraak word en ‘n bydrae kan lewer.

Volksblad draai vanoggend in sy hoofartikel,  Nuwe lone kan lei tot ramp, nie doekies om dat die regering hiermee sy eie ontwikkelingsplan in die wiele ry nie: “Die regering se Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) fokus sterk op die landboubedryf se bydrae tot werkskepping. (Minister Mildred) Oliphant se aankondiging staan lynreg teenoor dié beginsel, maar is in pas met die regering en vakbonde se vroeëre argument ten gunste van ‘ordentlike werk’. Dié beginsel bring mee dat iemand liewer werkloos moet wees as wat daardie mens ’n ‘mindere’ salaris verdien. Suid-Afrika kan dit allermins bekostig dat mense onder die indruk gebring word dat dit te duur is om te werk.”

Volksblad wys nog implikasies uit: Die indruk word geskep dat geweld die gewenste gevolge het, en dat die regering agter die deur staan deur in gevalle sy eie tydelike werkers so min as R30 (sonder byvoordele eie aan die landbou) per dag betaal.

Dat die regering graag die lakens aan die landbou uitdeel en homself daarvan vrystel, blyk onder meer daaruit dat die staat homself van die sekerheid van verblyfreg uitgesluit het.

Die regering kan nie bekostig om die goedgesindheid van die landbou te verloor nie. Pres. Jacob Zuma het baie onlangs nog herhaal dat grondhervorming noodsaaklik is om landelike armoede teen te werk. (Hy het by dieselfde geleentheid die land probeer wysmaak dat swart grondbesit tradisioneel tot die land se droër dele beperk is – ‘n soort (moedswillige?) onkundigheid wat die land se geloofwaardigheid erg knou). Die regering het reeds gesien wat gebeur met grondhervorming as dit sonder die hulp van gevestigde boere gebeur – suksesverhale is skraps en verhale van plase wat verval en mense en diere wat krepeer, is volop.

Boere wat nie die nuwe minimumlone kan bekostig nie, kan die departement nou “in uitsonderlike gevalle” met die nodige bewyse van onbekostigbaarheid vir vrystelling nader. Baie boere sal voel dit gaan ‘n futiele oefening wees omdat oor die nuwe vasstelling, reeds sulke navorsingsverslae oorhandig, maar skynbaar geïgnoreer is. Oor twee jaar is dit weer verkiesing, en die ANC vier sy 20ste jaar aan bewind – die kanse dat hy nou besluite sal neem wat sy kiesers se suigstokkies uit die mond pluk, is bitter skraal. Maar sou die boere wat dit nie sal kan maak nie die departement wel nader, hoe lank gaan dit neem om elke aansoek behoorlik te ondersoek en met antwoorde vorendag te kom wat nié in ‘n hof nek omgedraai kan word nie? Intussen gaan werkers wat reeds die klinkende munt in die sak gehoor het moet wag vir die verhoogde lone met die gevaar dat arbeidsonrus in die sektor weer kan losbars.

Die gevolge vir die land sluit onder meer in:
– Verhoogde inflasie
– Duurder kospryse.  Die lone word die volgende twee jaar teen die VPI vir kwintiel 1 (wat gewoonlik hoër as hooflyninflasie is) plus 1,5 persentasiepunte verhoog.
– Groter werkloosheid  en boere sal nou so ver moontlik meganiseer of na vertakkings oorslaan wat minder arbeidsintensief is
– In natura-vergoeding sal nog verder opgeskort word wat tot ‘n toename in wanvoeding kan lei, terwyl plaaswerkers nou in alle waarskynlikheid vir meer dienste sal moet betaal wat tot dusver gewoonlik gratis verskaf is.
– Na verwagting groter misdaad, want werkloses moet steeds eet.
– ‘n Domino-effek na ander bedrywe wanneer daardie werkers skielik verhoogde kospryse en waarskynlik duurder krag en vervoerkostes moet absorbeer.
– Die gesindheid van die landbou om die staat te help met projekte soos grondhervorming sal nou grootliks verdamp – nie net oor die manier waarop die minimumlone afgedwing word nie, maar ook stellings soos die minister van polisie onlangs dat die boere se veiligheid teen plaasmoorde nie spesiale voorkeur behoort te geniet nie.
– ‘n Provinsie soos die Vrystaat waar die ekonomie van veral die platteland, maar ook deur onder meer skoolkoshuise in groter dorpe en stede, van die landbou afhanklik is gaan swaar getref word.

Die vraag wat deesdae al hoe meer gevra word is of die land die huidige regering kan bekostig. Die antwoord word ook by die dag duideliker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Zondra Hoffmann ·

Dit gaan ook uiteindelik blameer word as afdreiging deur ons Regering. Stakings, oproer en betogings gaan ons land op die ou einde in soveel ellende laat beland dat 60% van die bevolking (behalwe die mense in regeringsposte oral in die land, die gesubsidieerde instellings soos SAUK, TELKOM, ESKOM en SAL, hoofde van al die vakbonde, heerlik agteruit sal sit, gerieflik in hulle poste met hulle top salarisse. Besighede – behalwe die met swart bemagtigings vennote – sal die een na die ander moet vou, want werkers het die oorhand. Ons staatskoffer word so geplunder, dat die fonteintjie sal opdroog, en waar gaan die Regering dan befondsing moet kry? Soos die VSA en meeste lande in Europa en wêreldwyd, sal die Monitêre Fonds maar moet instaan, tot hulle ook nie meer kan nie want die aanvraag is meer as wat daar beskikbaar is. Die boere het geen keuse as om af te skaal nie. Dit is die uiteinde van al die geplundery, beskadiging van eiendom, want hulle het nie besef dat hulle hulleself nou miskien ook op straat kan vind nie. Dit sê die opstokers nie vir hulle nie! Het iemand al vir Tokyo Sexwale gevra wat hy sy plaaswerkers betaal?

Brenda ·

Wat kan ek se. Ek het geweet dit alles gaan kom. Dit is hoekom ek NEE gestem het, toe dit nog saak gemaak het. Nou, is dit heelaas te laat. Te laat om wakker te skrik en soos ‘n benoude kat, benoude spronge te maak…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.