Nuuskommentaar: Oë vandag op Sirië

Bashar Al-Assad van Sirië

Die oë van die internasionale gemeenskap sal vandag op Sirië gerig wees – meer in die besonder die diktator, Bashar al-Assad. Assad het pas laat weet dat hy die VN-gesant, Kofi Anan se sespuntplan na vrede aanvaar. Anan het laat weet dat dit ook beteken dat Assad dan dadelik daarvolgens moet begin handel. Teen gisteraand was daar nog geen teken van gehoor gee nie, en die asem word vir vandag opgehou.

Die sespuntplan behels kortliks:

  • Sirië moet in ‘n allesinsluitende plan met Anan saamwerk en die bevolking se legitieme eise moet aandag kry
  • Die opposisie moet hul geweld beëindig terwyl Assad nie swaar wapentuig in die stede mag gebruik nie. Militêre troepe moet uit stede onttrek word.
  • Hulporganisasies moet ongehinderde toegang kry.
  • Toegang moet na alle gevangenes verleen word en die vrylating van willekeur-gearresteerde persone moet versnel word.
  • Joernaliste moet in alle dele van die land vrylik kan beweeg.
  • Sirië moet die reg van vrye byeenkomste en vreedsame protes respekteer.

Daar is meer ooreenkomste tussen wat in Sirië gebeur het en wat nou met die veldtog om van pres. Jacob Zuma ontslae te raak, in Suid-Afrika aan die gebeur is. Daar is wel ‘n reuse verskil in omvang, veral lewensverlies, waar die Siriese dodetal nou die tienduisend-merk begin nader. Hier, as al die onlangse halssnoermoorde met die ANC se stryd verband hou, is dit in die orde van vyf.

Heterogeniteit speel ‘n groot rol in die Siriese opstand. Baie eenvoudig gestel, die Assad-dinanstie verteenwoordig ‘n minderheid van ‘n minderheid – die Alawiete. Die inbind van ander belangegroepe is kompleks. (Meer agtergrond van hoe divversifikasie in die Islam inmekaar steek kan gelees word by http://herrie.maroelamedia.co.za/ ).

In Suid-Afrika lyk dit of Zuma, as, soos hy dit gestel het, ‘n 100 % Zoeloe-knaap, op groot steun uit die Zoeloegeledere kan staatmaak, En dis nie onbeduidend nie.

Soos Assad, het Zuma alles te verloor as hy die magsgreep kwyt is. Organisasies soos die Right 2 protect, wat VN en Afrika-Unie-resolusies inspan om te toon die wêreldgemeenskap het ‘n plig om bevolkings teen massamoorde deur hul regerings te beskerm, fokus al lank op die wandade van die Assad-bewind. In Suid-Afrika sorg die teenstanders van Zuma, waarvan baie eens bondgenote was, dat potensieel skadelike inligting soos ‘n sif na die media lek.

Boonop het die DA se geslaagde appèlhofaansoek Zuma se opponente ‘n bykomende stok verskaf. Voorts is die bedenklike Hong Kongse saak wat as presedent gebruik is om die aanklagte teen Zuma terug te betrek, onder appèl na die maan gestuur.

Dit lyk nie of minstens sommige van Zuma se teenstanders aarsel om anargistiese optrede in te span om die land vir Zuma onregeerbaar te maak nie. Maar Zuma is ‘n ou jakkals van politieke oorlewing, en het pas weer sy teenstanders se moraal probeer breek deur op ‘n hoë profiel oorsese reis te vertrek, waar hy met ‘n breë glimlag, en skynbaar heel tuis, op TV saam met wêreldleiers pryk.

Zuma, die persoon wat wat alles vir almal probeer wees het, het die reputasie verwerf as weifelaar wat niks vir niemand, behalwe sy familie en politieke vriende, is nie. Nou, skielik, maak hy oor ‘n kwessie soos die e-tolstelsel die rug styf. Die uitbetaling van Sassa-staatstoelaes het begin hik, na een firma bevoordeel is. Hier word Zuma se regsadviseur geïmpliseer.

Sy klaarblyklike poging om die beeld van weifelaar met iets meer kragdadig te vervang, het dalk te laat gekom en die saak swak gekies. Boonop plaas die Sassa-debakel nou ook bedenkinge of die kragdadigheid elders werklik oor kragdadigheid handel, of oor iewers iets vir die oudag te skep is. Die gerugte in omloop kan uiteindelik skadeliker wees as die werklikheid.

Assad is ook nie noodwendig op pad uit nie. Hy het al geblyk ‘n hoogs onbetroubare persoon te wees, wat onder meer daartoe gelei het dat die Arabiese Bond sy vredesending aan Sirië onttrek het, en die kaboedel aan die VN opgedra het. Die wêreld sal eerder verbaas wees as Assad werklik in ‘n vredesproses deelneem. Assad sou immers behoorlik kennis geneem het wat van sy eertydse buurman, Saddam Hoesein, geword het na sy minderheidsbewind in die slag gebly het. En Assad het nie veel minder bloed aan sy hande nie.

Terwyl daar ‘n potensiële galgtou in Assad se kristalbal is, kan die tronkdeure potensieel vir Zuma wink as hy voor Desember nie doodseker maak dat hy die ANC se groot konferensie as leier sal oorleef nie. ‘n Verbete oorlewingstryd is op hande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.