Nuuskommentaar: Olimpiese Spele en die fnuik van terreur

Vanmiddag vertrek die Suid-Afrikaanse Olimpiese en Paralimpiese spanne na Londen. Die Olimpiese span is vasbeslote om te vergoed vir die medaljeskande van die vorige spele in Beijing, toe slegs een medalje verower is. Die Paralimpiese span het ‘n lang tradisie van goud in die mond om gestand te doen.

Word die buitelandse media gevolg, is dit egter ook duidelik dat hoe nader die spele kom, hoe senuagtiger word veral die gashere oor die moontlikheid van terreur. Ook hier in Suid-Afrika is ‘n rolprent onlangs op TV uitgesaai wat rondom die terreuraanslag by die Olimpiese Spele in München gebou is. Vanoggend word berig dat die Britse polisie drie terreurverdagtes aangekeer het. By twee is ook “terreurmateriaal” gevind. By die vrou is ‘n geheuekaart met terreurmateriaal op gevind, en by die een man ‘n kompakskyf met terreurslagspreuke. Hulle sou glo terreuropleiding in Pakistans deurloop het. Maar dit is nie al nie.

Enkele dae gelede het die Duitse media berig dat die Turkse veiligheidsmagte ‘n terreurverdagte in Istanbul onderskep het. Die man word in Duitsland lank reeds verdink daarvan dat hy werwingswerk vir die Jihad doen, maar het die land uitgeglip en ‘n jaar lank in Pakistan gaan wegkruip. Hy was weer na Duitsland onderweg, en het Turkye onwettig via Iran binnegesluip toe hy aangekeer is.

In België het die oorsigkomitee vir die polisiedienste met ontsteltenis gereageer toe dit geblyk het dat ‘n persoon wat by een lughawe se polisiediens as terreurverdagte bekend is, by ‘n ander opleiding as loods ontvang het. Gebrekkige kommunikasie tussen die verskillende dienste word as rede aangevoer, en hiermee wil die komitee nou plan maak. Terug in Brittanje het dit ook bekend geword dat ‘n terreurverdagte met ‘n opsporingstoestel aan, drie keer sy inperkingsbevel oortree en deur die Olimpiese gebied gereis het.

Brittanje probeer sy bes om terreuraanvalle uit enige moontlike oord die hoof te bied. Onlangs het die koningin tydens ‘n besoek aan Noord-Ierland hand geskud met ‘n voormalige leier van die Ierse Republikeinse Leër, Martin McGuinness. Kort hierna was daar egter weer onluste en veiligheidsmagte-ingryping toe die tradisionele Protestantse Oranjemars deur ‘n Rooms-Katolieke deel plaasgevind het. Die Noord-Ierse kwessie word egter waarskynlik nie as ernstige bedreiging beskou nie. Vrede is immers met die vernaamste eertydse terreurgroepe gesluit. McGuinness is nou adjunk-premier van Noord-Ierland, ‘n manifestasie van die vredesverdrag.

Ghaddafi wat heel waarskynlik die meesterbrein agter die Lockerbie-ramp was, is met bewind en al uit die prentjie, maar van sy eertydse ondersteuners hou heel waarskynlik ‘n onlekkerte oor vir Navo, waarvan Brittanje ‘n lidland is.

Trouens, ‘n ellelange lys kan gemaak word van terreurgroepe en individue wat ‘n oog op die Olimpiese Spele sou kon hê as teiken vir die propaganda van die daad. Van die meer bekendes, soos Hamas, sal waarskynlik nié so iets waag nie, weens die skade wat dit aan sy beeld sal aanrig. Hizbollah in Libanon, wie se vernaamste bondgenote, Bashar al-Assad van Sirië en Iran deur veral die Weste geknyp word, is egter ‘n ander saak. Die VN se vredesgesant in Sirië, Kofi Annan, wil juis dat die VN nou haas maak met ‘n resolusie wat die bloedvergieting in Sirië, wat die Internasionale Rooikruis nou as burgeroorlog beskryf, na ‘n punt sal laat gaan. Rusland, een van Assad se bondgenote, kla dat die Weste hom afpers om Assad die rug toe te keer, maar het ook verskeie skepe na Sirië gestuur, skynbaar om sy baie burgers in die land te ontruim.

Intussen het ‘n selfmoordbomaanvaller die Siriese minister van Verdediging die ewigheid ingehelp, en ander invloedrykes is skynbaar ook in die aanval dood.

Die verwikkelinge in Mali, Nigerië, Somalië en Jemen dui daarop dat die radikale Moslem-vertakking, die neo-Salafiste hulle nou ook op die gematigde Soefi’s wreek. Die neo-Salafiste word met Al Kaïda verbind.

Die eeuherdenking van die Turkse volksmoord van die Armeniërs, Assiriërs en Koerde kom ook nader. Veral die Koerdiese PPK sit sy terreurveldtog teen Turkye voort en Turkse konvensionele magte trek gereeld die Irakse Koerdistan binne om PPK-basisse aan te val.

‘n Ander terreurgroep wat internasionaal bedrywig is, is die Tamil-Tiere wat veral Tamil-gemeenskappe in die buiteland op Mafia-agtige wyse teiken om geld en ander middele te bekom. Dit is miskien nie baie bekend nie, maar die Tiere is die groep wat selfmoord-bomaanvalle aanvanklik “gepopulariseer” het. Dit yk egter nie of dié groep operasioneel is nie.

Intussen is die veiligheidsmaatskappy wat gehuur is om die veiligheid by die Spele te verseker, G4S, erg onder skoot en het selfs die gramskap van die Britse premier ontlok wat aangedui het dat hy gaan jag maak op dié maatskappy. Gister moes veiligheidsmagte ingespan word om wagdiens te doen toe personeel van G4S wat dié taak moes behartig, nie opgedaag het nie, berig die Guardian. Twee faktore verseker egter dat die kanse uiters skraal is dat terroriste die geleentheid sal kry vir hul duiwelsdrek – die Britse regering en sy bondgenote se veiligheids- en intelligensienetwerk, en die feit dat ‘n terreurgroep wat die Spele teiken, hom self internasionaal in die sogenaamde dog box sal bevind. Die feit dat verdagtes aangekeer word, wys hoé deeglik die intelligensienetwerk is.

Mag Span Suid-Afrika ‘n suksesvolle strooptog op die medaljes uitvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.