Nuuskommentaar: Om die probleem te troetel

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma. Foto: Denis Sinyakov / Reuters

Probleme wat nie aangespreek en opgelos word nie, het die neiging om groter te word. Met die verkiesing van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma was een van die media in Afrika se vernaamste besware teen haar dat sy as minister van Buitelandse Sake die gesig was van Suid-Afrika se stille diplomasie teenoor Zimbabwe. Daardie probleem is nog nie opgelos nie.

Pres. Jacob Zuma word gereeld gekritiseer oor die lamlendigheid waarmee hy op radikale uitsprake in sy eie geledere reageer. Sy uiteindelike optrede teen Julius Malema het ook net gekom toe die stryd tussen hulle persoonlik geraak het. Pas het Rusland en China hul vetoreg in die VN se Veiligheidsraad gebruik om ‘n resolusie gemik op die bespoediging van die einde van die Siriese bloedbad, te kelder.

Dit is moeilik om geloofwaardige syfers te kry, maar dit lyk taamlik duidelik dat meer as 16 000 mense reeds omgekom het in die Siriese konflik sedert dit 16 maande gelede begin het. Meer as ‘n 100 000 mense het na berig word reeds uit die land gevlug. Verskeie vredesendings het reeds in die slag gebly, waarvan die eerste deur die Arabiese Bond was wat druipstert uit die land padgegee het.

Onberekenbare skade is aan die land se ryk argeologiese skatte aangerig. Die organisasie Responsibility to Protect (R2P) se nuusbriewe word nou al meer as ‘n jaar deur die Siriese kwessie oorheers, terwyl gehamer word op VN Resolusies en die Internasionale Reg wat ingryping deur die internasionale gemeenskap vereis om volksmoord te verhinder. Dit is al in die Balkan gedoen, en op omstrede wyse in Libië. Maar omstrede of nie, die geweld in Libië is min of meer beëindig en die land kon sy eerste demokratiese verkiesing in etlike dekades hou.

Kenners van die komplekse Siriese situasie met sy foutlyne na omringende lande, spel reeds baie lank uit presies hoe die Siriese kwessie gaan verloop. Al waaroor hulle verskil is met ‘n paar duisend dooies na dié kant toe of daardie kant toe, terwyl die beramings van hoeveel in tronke gemartel word, ook verskil. Nou verskil kenners oor hoe lank die Siriese bewind staande kan bly.

Met 18 generaals en baie ander senior offisiere wat die afgelope weke na die rebelle oorgeloop of uit die land gevlug het, en die uitbreek van groot gevegte in Damaskus self, lyk dit wel of pres. Bashar al-Assad se doppie so goed as geklink is. Maar al hoe meer stemme gaan op dat ‘n desperate Assad oor nog baie wapens, en ook chemiese wapens beskik, wat hy teen die opstandelinge en die burgerlikes wat hulle omring, kan inspan.

Dat die Internasionale Rooikruis die situasie as burgeroorlog beskou, en oortreders nou van misdade teen die mensdom aangekla kan word, ontsenu klaarblyklik nie vir Assad nie. Die VSA het na die Russiese en Chinese veto – reeds die derde in dié konflik – aangedui dat die VSA dalk nou noodwendig onafhanklik van VN-sanksie sal moet optree. Die VSA sal dit nietemin saam met ander vennote doen, en dit lyk redelik duidelik dat Turkye nie sal aarsel om  Sirië aan te val nie. Die situasie is nou so uitgerafel dat ‘n groot wending na enige kant binne enkele ure kan gebeur.

Sirië stuur ‘n baie belangrike boodskap aan die wêreld, en ook Suid-Afrika uit: moenie binnelandse vervreemding in ‘n heterogene samelewing koester nie, en veral nie aanblaas nie. Moenie strukturele eenheid probeer bewerkstellig deur mense in te bind deur hulle in korrupsie te laat deel nie. Moenie sekere gemeenskappe of segmente van die bevolking sosio-ekonomies verwaarloos nie.

Sekere van die voorbehoude is kompleks en kan nie oornag aangespreek word nie. Ander, soos die kortknip van polariserende uitsprake soos dié van Julius Malema en nou Ronald Lamola, kan gou kortgevat word, en die boodskap dat dit nie geduld kan, en sal word nie, nog gouer.

En daar kan haas gemaak word met die boodskap dat korrupsie werklik nie geduld sal word nie. Om LUR’e in poste te hou terwyl hulle op aanklagte van onder meer korrupsie tereg staan stuur die verkeerde boodskap uit. Verskeie LP’s sit steeds in hul ampte lank na hulle met die reiskoeponskandaal uitgevang is. Skoolkinders sit nog sonder boeke omdat die probleem nie aangespreek is  toe aanvanklik alarm gemaak is nie.

Haal korrupsie uit padboutenders. As dit nie gedoen word  nie, raak die geld te min om selfs basiese instandhouding te doen, en wanneer die werklike skade eers aangerig is, is dit veel duurder om reg te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.