Nuuskommentaar: Om nommer een te wees

Foto: IOL

Vanoggend lui baie koerante se banieropskrifte dat Suid-Afrika nommer een in die wêreld is. Dit verwys na die nasionale krieketspan wat pas die toetsreeks teen Engeland gewen het en in die proses die topgekeurde toetsspelende land ter wêreld geword het. Suid-Afrika het dit bitter nodig.

Die land bloei internasionaal oor die Lonmin-skietery, en omvang van plaasmoorde. Dit het ‘n sneeubaleffek op beleggings en werkskepping. Reguit en krom vingers word na die regering gewys.

Onder die ongelukkigste aspekte waaroor Suid-Afrika nommer een in die wêreld is, is dat die land die wêreld se verkragtinghoofsetel is.

Die einste regering het lank reeds geweet dat sport in dié land die vermoë het om mense by die daaglikse probleme verby te laat kyk. Die destydse president Nelson Mandela het sy ikoonstatus ‘n stewige hupstoot gegee deur met ‘n Springboktrui by die Wêreldbeker-rugbytoernooi op te daag wat op tuisbodem aangebied is, en bygedra tot die euforie toe Suid-Afrika uiteindelik as wêreldkampioene gekroon is.

Baie geld is spandeer om nasionale trots om die sokkerbeker-eindtoernooi in Suid-Afrika te bou, in der mate dat sosioloë oor ‘n post-euforiese trauma of

-depressie gewaarsku het. Sommige mense sukkel skynbaar steeds om hierdie insinking af te skud.

‘n Poging is wel aangewend om skade te herstel met die laaste rugby-wêreldbekertoernooi toe die minister die Springbokke afgesien het met die opdrag om die ander spanne te gaan opd***er. ‘n Poging wat onder meer deur berugte stiefregteroptrede in die modder uitgeloop het.

Die pas-afgelope Olimpiese Spele het wel medaljegewys beter vir die Suid-Afrikaners verloop as die rampspoedige ekskursie na Beijing, maar Suid-Afrika moet nog ‘n stewige pad loop om kers vas te hou by lande wat oor ooreenstemmende bevolkingsgetalle beskik. Nederland, met ‘n bevolking wat veel kleiner  as dié van Suid-Afrika is, het met die Londense spele drie keer meer medaljes as Suid-Afrika ingepalm.

Suid-Afrika se prestasie op die krieketveld is in verskeie opsigte merkwaardig. Dit kom ten spyte van ‘n onlangse skandaal op bestuursvlak waar die publiek steeds wonder hoe hul eie provinsiale bonde hul gewig agter ‘n persoon kon inwerp terwyl amper elke Jan Rap en sy maat al geweet het sake haper. Regeringsinmenging, wat gewoonlik niks goeds inhou nie, was in dié geval nodig om die sweer oop te steek.

Die ontwikkelings- en transformasieplanne word erg bemoeilik deurdat krieket byna volledig tot die betaalkanale “verban” is en dus in effek die veronderstelde voedingsbron uitsluit. Terwyl krieket en rugby dus deur die uitsaaiwese na ‘n elite-sport gerangeer word, word steeds hoë verwagtinge gekoester dat die spanne ook spelers van kleur moet insluit. As sportkeuse moet dit meeding met die reeds gewilde sokker  wat wél ruim dekking op die senders van die openbare uitsaaier geniet. Maar wat krieket betref, raak dit selfs al hoe moeiliker om sonder betaal-TV en internettoegang die uitslae van provinsiale en bedryfsreg-krieket te volg – laat staan nog nuus oor hoe wedstryde verloop.

Met vandag se kommunikasietegnologie sou die span en die media in hul omgewing deeglik bewus gewees het van die Lonmin-skietery en die vergelyking daarvan met Sharpeville.

Terwyl die regering dalk lang-lippie sal wees oor daar nie ‘n, soos hulle dit stel, ‘n African African in die finale elftal was nie, was byna die helfte van die span spelers van kleur. Een, Hashim Amla, is as speler van die reeks aangewys, onder meer weens die rekord-driedubbele honderdtal wat hy in die eerste toets aangeteken het. Nog een, Vernon Philander, is na sy vyf paaltjies in die Engelse se swanesang as speler van die derde toets aangewys. Nadat veral toetskrieket in Suid-Afrika jare lank sterk deur Engelssprekendes oorheers is, met André Bruyns wat as twaalfde man die naaste aan die toetsspan kon vorder, het die span nou al nie net verskeie Afrikaanssprekendes opgelewer nie, maar ook Afrikaanssprekende kapteins. Dit het selfs gebruik geword om op die veld Afrikaans in te span sodat die opponente niks wys kan word nie – iets wat wel nie veel teen Engeland sou help nie waar verskeie spelers Afrikaans verstaan.

Die fokus verskuif nou na die eendagreeks, wat beloof om selfs nog meer van ‘n skouspel te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.