Nuuskommentaar: Om te twiet of nie te twiet nie

Dit is al ou nuus dat die Arabiese domino-rewolusie tot ‘n groot mate aan die impak van die internet, en veral Twitter toegeskryf word.

Tog is die impak van sosiale media onlangs in Nederland op ‘n vergadering van die liberale Teldersstichting wat met die VVD-party verbind word, die impak van die sosiale media, en Twitter in die besonder, bevraagteken. Twee ure later, toe die vergadering klaar was, was dié opvatting reeds indrukwekkende verkeerd bewys. ‘n Parlementslid van die ChristenUnie, Pieter Omzigt, het ‘n twiet uitgestuur waarin hy oor dié stelling met die VVD die spot dryf – as Twitter se 140 karakters per boodskap te min is vir politieke debat, dan is al die VVD se verkiesingsplakkate waardeloos.

Omzigt het meer as 10 000 Twitter-“volgelinge”. Veertig van hulle stuur die boodskap aan…

Twee ure later, toe die Telderstichting se vergadering klaar is, is joernaliste landswyd besig om berigte te skryf, en hulle het nog nét die kritici se kant van die verhaal. Die Telderstichting het sy kans vir deelname aan die debat volledig verpas.

Dit is te verstane dat minstens sommige politici traag is om tegnologie aan te wend wat hulle tot 140 karakters beperk. Die opkoms van Margaret Thatcher en haar Konserwatiewe Party voor sy aan bewind gekom het, word daaraan toegeskryf dat haar jong partylede die waarde van kommunikasiekundigheid ingesien het. Tot is daardie stadium het die tradisieryke Britse parlementslede hulself as dié meesterkommunikators beskou, wat veral in hul kiesafdelings die publiek “maklik” kon oortuig om vir hulle te stem. Toe nou nie. Die Tories het kommunikasiekundiges ingespan, en die gety gedraai.

Dit neem egter nie weg dat baie politici hulself steeds as meesterkommunikators beskou nie. Daarenteen, en dikwels met reg, word die stemgeregtigdes as baie oningelig beskou. Die gevolg is ontnugterde kiesers wat die teenoorgestelde kry van wat hulle verwag het, terwyl die party dikwels presies dit lewer wat in sy verkiesingsmanifes staan … mits die beloftes natuurlik in die eerste plek uitvoerbaar is.

Die versoeking is dus groot om in elke kommunikasie die kiesers omvattend ingelig te kry … die hulle braakland op een slag om te ploeg en te saai.

En 140 karakters is darem regtig min.

Die gewenste mediamengsel vir doeltreffende kommunikasie en bemarking is ‘n debat op sy eie.

Intussen is die gevolge daar vir almal om te sien. Volgens ‘n Rasmussenpeiling die afgelope naweek, glo net 7 persent van die Amerikaanse kiesers dat die Kongres (die Senaat en Huis van Verteenwoordigers) goeie of uitstekende werk doen. Dit sny oor die politieke grense heen – die Huis van Verteenwoordigers word deur die republikeine beheer, en die senaat deur die Demokrate. ‘n Vroeëre peiling het aangedui dat die meerderheid kiesers meen die Kongres sal beter vaar as persone wat lukraak uit die telefoongids aangewys word, die bestaande kongreslede vervang. Dié soort verlies aan die geloofwaardigheid van politici is nie tot die VSA beperk nie – ‘n onlangse peiling het byvoorbeeld getoon dat pres. Jacob Zuma se vertroue onder stedelike kiesers ‘n laagtepunt nader.

Die volgende aspek wat politiek onstuimig maak nie. ‘n Tendens wat ook deeglik in die VSA gemeet is, maar waarskynlik wêreldwyd in stemdemokrasieë geld, is dat die idee van politieke opponering omsit in politieke vyandskap. Dat parlementslede mekaar warm om die kraag kan debatteer is wêreldwyd bekend, en in verskeie lande het die agbares aanmekaar gespring en mekaar met opgerolde plathande bygedam – ook hier in ons parlement toe adv. Johny de Lange raak teruggeslaan het, en ‘n agbare NP-lid plat op sy blaker en binne-in die ANC in gemoker het.

Maar die tendens is dat die vyandskap tussen eertydse vriende, en teenswoordige bure voortduur, en nie meer soos in die dae van die Sappe en Natte wat tot Ladybrand se stadsaal se deure uit die kosyn uitblaklei het, tot die verkiesingsveldtog beperk is nie.

Die soort protes wat op hierdie verskerpte vyandskap volg, pas daarby aan. Dit word hier te land goed gedemonstreer deur die Wes-Kaapse poefie-oorlog. In Rusland is lede van die groep Pussy Riot tronk toe gesuur oor onvleiende opmerkings oor die president, en ‘n paar is selfs na strafkampe gesuur.

In Potchefstroom lyk dit of regsaksie nodig gaan wees om die mosie van wantroue die volledige, verlangde impak te laat hê. Die “rebelle” wat die mosie van wantroue laat slaag het is dié keer sommer gou, en sonder veel praatjies, geskors. Die rebellie self hou waarskynlik meer met ‘n provinsiale faksiegeveg verband, wat reeds minstens een moord opgelewer het.

Suid-Afrikaners gaan ‘n jaar tegemoet waarin politieke partye alle stoppe gaan uittrek. Die ANC sal dit as ‘n groot verleentheid ervaar indien dit in die verkiesing wat sy twintigste jaar aan bewind herdenk, kort na die organisasie sy eeufees gevier het, ‘n swak vertoning insit. Presies hoe onverdraagsaam gaan die ANC bewustelik of onbewustelik word soos die krake toeneem, want met Malema en Agang in die veld, en ander opposisieparty wat nou meer kommunikasiemiddel in hul hande het en meer skietgoed in hul kokers (waarvan baie die president self behels) kan die verkiesingstryd baie warm word.

Maar gaan Twitter en die ander kuberkommunikasie ‘n beduidende invloed uitoefen? It moet onthou word dat die landelike kiesers veel minder hieraan blootgestel is as elders, en dat hul vernaamste nuusbron die SAUK is.

Die opposisie gaan dit nie maklik hê nie, en in Twitter alleen lê die heil ook nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Chris ·

Goeie insiggewende artikel; veral dat die invloed grotendeels bepaal word deur die toeganklikheid van die medium. In Nederland sou ‘n goeie twiet meer invloed kan hê as ‘n groot advertensie in De Telegraaf, die land se grootste dagblad. In Suid-Afrika is dit duidelik andersom.

Ek dink Twitter is ‘n goeie medium vir vinnige en vurige debatte – beter as enige ander medium. Die enigste wat beter is, is om te praat. As 140 tekens te min is, kan jy sommer nog ‘n twiet stuur of nog ene. Dit is baie maklik vir vinnige inligtingverspreiding. Wat onthou ‘n mens as hy die koerant gelees het? “Daar het ‘n vliegtuig in LA neergestort en 2 mense was dood”. Dié inhoud pas maklik in 140 tekens. Vir die mense wat meer wil weet, kan ‘n mens ‘n link byvoeg. Dus die link verskaf die omvattende inhoud waarvan u praat.

Jammer, maar Pieter Omzigt is parlementslid van die Christen-Democratisch Appèl (CDA) en nie van die ChristenUnie (CU) nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.