Nuuskommentaar: Om Zuma onverkiesbaar te maak

President Jacob Zuma

“Die prys wat die land vir Zuma betaal, is eenvoudig te hoog.”

So skryf Die Burger en Beeld vanoggend in ‘n gedeelde hoofartikel. Die agtergrond is ‘n KPMG-verslag wat daarop dui dat Suid-Afrika die stryd teen korrupsie verloor, en nou selfs meer korrup is as Nigerië, en dus nou die mees korrupte land in Afrika is. Stygende tendense sedert pres. Jacob Zuma tot president verkies is, word uitgewys.

Tog, so lyk dit, is die ANC onstuitbaar onderweg om Zuma aan die einde van die jaar weer tot leier van die ANC te verkies, en dus effektief vir nog ‘n termyn as president van die land te herkies. Die motivering hiervoor is ‘n baie klein en verlepte vyeblaar – kontinuïteit ter wille van stabiliteit.

Zuma se teenstanders binne en buite die ANC het egter klaarblyklik nog nie die handdoek ingegooi nie, en takel die president se voete van klei. Hierdie veldtog het egter met vier probleme te kampe, naamlik dat die uithang van vuil wasgoed die land se beeld in geheel skaad, dat Zuma se ondersteuners hulself reeds onherroeplik gekompromitteer het en verbete terugveg om nie vir ‘n groot oordeelsblaps ontmasker te word nie, en dat, soos prof. Michael Friedman dit gestel het, skandale wat die land ruk, nie in die ANC self as skandale ervaar word nie. Vierdens verhoog dit polarisasie in die land.

Met die aanvang van die veldtog om Zuma polities te begraaf is gewaarsku dat Zuma geen politieke pampoen is nie. Hy mag dalk min weet en verstaan van ‘n land doeltreffend te regeer, maar hy is ‘n politieke Houdini van die oortreffende soort.

Twee van hierdie veldtogte, een van buite die ANC en die ander van binne die ANC is onderweg van die Grondwetlike Hof. Regter Dennis Davis het, toe hy die gesamentlike opposisie se aansoek om ‘n dringende mosie van wantroue teen Zuma te laat dien nie toegestaan het nie, ook genoeg gesê wat die saak nou dringend op koers na die grondwethof te plaas. Na die ANC aanvanklik met bogredenasies die bespreking van die mosie gestuit het, is deuntjie verander en sal so ‘n mosie kan dien – maar eers na Zuma reeds herkies is.

Die ANC is nou ooglopend so bang vir ‘n wantroue-mosie en geheime stemming soos die duiwel vir ‘n slypsteen. Die gebeure in Potchefstroom waar ‘n ANC-burgemeester in ‘n wantrouemosie  die knie moes buig en deur ‘n DA-burgemeester vervang is, dui daarop dat die eenheid in die ANC ‘n mite is.

In die tweede saak het ‘n groep ontevrede Vrystaatse ANC-lede daarin geslaag om reeds die komende week hul saak voor die grondwetlike hof te kan stel. Hulle betwis die wettigheid van die proses waarvolgens die ANC se provinsiale kongres plaasgevind het, ‘n  proses waaroor Zuma persoonlik self sy seën uitgespreek het. As dié groep slaag, is die Zuma-kamp die Vrystaatse stemme met die nasionale kongres kwyt. Dit sal na verwagting nie veel doen om Zuma se getalle-aanslag te stuit nie, maar sal Zuma en die ANC se aansien verder vol knoppe en duike moker.

Die gekonkel wat glo in die Vrystaat plaasgevind het om premier Ace Magashule en sy pro-Zuma-brigade herkies te kry, het volgens aansprake van binne die ANC ook in ander provinsies soos KwaZulu-Natal en Mpumalanga gebeur. Dáár wil die sommetjies oor taklidmaatskap en die aantal afgevaardigdes na die Mangaung-kongres in Bloemfontein selfs gegewe Suid-Afrika se wiskundestandaarde, nie sin maak nie.

Die duidelike voeteslepery om dokumentasie oor die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit om korrupsievervolging teen Zuma op te skort, aan die DA te oorhandig, is ook besig om ‘n liederlike sweer te word. Van hierdie dokumentasie het reeds na die media gelek, en die NVG het misluk in sy aansoek om die verspreiding van verlede Sondag se Sunday Times te stuit. Die vraag is egter of dit die laaste, en ernstigste, onthullings van hierdie aard was voor die Mangaung-kongres?

In ‘n klaarblyklike desperate poging om Zuma se aansien te red het onder meer dr. Blade Nzimande wetgewing gevra wat die belediging van die president strafbaar sal maak. Dié versoek is nie net genadeloos op onder meer Late Nite News with Loyiso Gola op e-TV getakel nie, maar gaan Suid-Afrika se posisie op die presvryheidsindeks heel waarskynlik nog ‘n ernstige knou toedien – met ernstige gevolge op ander saakmakende indekse.

Die spelling, Mangaung, het drie verskillende betekenisse afhangende van die uitspraak wat gebruik word. Die betekenis van die regte uitspraak, Mang –gha-oeng, is Plek van die Groot Katte en is volgens prof. Peter Raper van Koisan-herkoms. Die uitspraak wat egter dikwels oor senders gehoor word, Ma (aanduiding van vroulik) – nga (stink) – oeng (plek) raak sinies-toepaslik vir die gekonkel agter die skerms om die stemmingsproses te beïnvloed.

Dit moet nog gesien word presies waar die perk lê wat Zuma vir die ANC onverkiesbaar gaan maak. ‘n Kort skande is beter as permanente skade, maar op die oomblik raak die prys vir Zuma se kop al bitter hoog. Dit is egter moontlik steeds kleingeld teen die prys van herkiesing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.