Nuuskommentaar: Onbevoegdheidsertifikate vir ministers

Minister Lulu Xingwana. Foto: GCIS

Wat is die eerste gedagte wat in ‘n mens se kop inskiet as die name Lulu Xingwana, Angie Motshekga, Manto Tshabalala-Misimang, Sicelo Shicka, Sibusiso Bengu en Dina Pule ter sprake kom?

Elke jaar deel die DA en die VF+ hul “rapporte” vir ministers uit. Hier en daar vaar ‘n minister goed, gewoonlik, in die woorde van eTV se “nuusleser” Loyiso Goya wat met alles en veral die ANC draak steek, die “ministers van inkomstes,” terwyl ‘n klompie “ministers van uitgawes” sleg in die hek duik.

Met onderskeiding onderdeur spring.

Omstrede ministers is nie eie aan die post-1994-bedeling nie. Laat ‘n rubriekskrywer dit net waag om ‘n lansie te breek vir Roelf Meyer en sy onderhandelingspoging en kyk hoe die sluise van vitrioel in die sosiale media teen hom (die rubriekskrywer) oopgetrek word. Trouens, dis nogal ‘n indrukwekkende lysie, en hier en daar is ‘n gekonkel bewys soos ‘n minister wat daarvoor tronk toe is, en ‘n ander wat as buiteperd ‘n aanspraakmaker vir eerste ministerskap was toe die bewerings wat al lank in omloop was, oor die uitkoop van toekomstige besproeiingsgrond net te sterk geword het. Iewers gons dit steeds omdat die eerste pad wat uit ‘n provinsiale hoofstad geteer is glo nie een van die hoofroetes was nie, maar ‘n baie stil sekondêre pad toevallig tot by die minister se plaasafdraai.

Daar is eintlik ‘n lang lys “aanklagte” teen ou era ministers in die argiewe van die media opgesluit – byvoorbeeld ‘n minister van Justisie wat erg ontevrede was met regters wat hy aangestel het en hulle daarna “verbeel” hulle mag maar onafhanklik wees, terwyl ministeriële inmenging van ministers in die bedryf van die SAUK – en veral wat die luisteraars mag hoor en kykers mag sien – bewysbaar ‘n ou laai is.

Hoekom is daar dan nou so ‘n bohaai oor die bekwaamheid van ministers, asook oor hul doen (soms) en late (meer dikwels)?

Of is dit wat ons nou sien, net ‘n effens ander baadjie?

Veral die “aanvanklike” Afrikaanse hoofstroompers was in wese die Nasionale Party in Druk. Die Vrye Weekblad en die Engelse pers was nie, en hulle het hul monde goed uitgespoel, en nie net oor die inligtingsdebakel en apartheid nie. Sommiges is deur die regering gesluit.

Die post-1994-bedeling is aanvanklik ingelui deur ‘n baie sterk ingesteldheid van politieke korrektheid by ‘n baie groot deel van die media. Tim du Plessis het kort voor die Polokwane-kongres van die ANC waar Jacob Zuma die ANC-president geword het, ‘n hele aantal swart redakteurs by die naam geprys oor hulle die boeie van politieke korrektheid gebreek het, waarop ook wit redakteurs gevolg het.

Dit het egter na ‘n ruk geblyk dat dit eerder ‘n geval was van vir Zuma in die bresse tree as politieke inkorrektheid wat dié sluise oopgetrek het. Nie lank na Zuma aan bewind gekom het nie, het ‘n groep meningsvormers gewaarsku  (en ‘n paar blatant gedreig) dat die kritiek op die ANC wat gevolg het, as anti-swart ervaar word en tot ‘n bloedbad kan lei. Onder die name was ook mense wat op Tim se oorspronklike lys was.

Die kort en die lank is dat die Zuma-era waarskynlik meer as enige van sy voorgangers aan politieke inkorrektheid blootgestel word, en waarvan veral oud-president Nelson Mandela steeds van gevrywaar is. Dit speel ‘n groter rol as die sogenaamde “DA in Druk” en die groeiende impak van die sosiale media en die kuberruim wat die gedrukte media op hul tone hou; verswyg inligting om welke rede, en die inligting vloei gewoon om die gedrukte media, en die gedrukte media kan erg aan geloofwaardigheid (en verkope) inboet.

Min of meer soos die SABC-TV-nuus gereeld erg onder skoot kom.

Op die oomblik het die permanente storm om die kop van die minister van Kommunikasie wat ook vir die SAUK verantwoordelik is, Dina Pule, tot orkaansterkte opgesteek.

Die mediaklagstaat teen die minister is indrukwekkend. In enige gevestigde demokrasie sou die versuim om haar summier in die pad te steek, die regerende party by die volgende algemene verkiesing tot ‘n onbeduidende partytjie reduseer. Voeg hierby die versuim om ‘n paar nader druipelinge die trekpas te gee, en die ANC behoort eintlik nie ‘n enkele setel na die volgende verkiesing te hê nie.

Maar almal weet dit sal nie so werk nie. By die “ministers van uitgawes” geld ander maatstawwe as bekwaamheid. Ook Mandela het dié beginsel van verteenwoordiging toegepas, en elkeen daarna – daar moet verteenwoordigers van die SAKP in die kabinet wees, en ook van Cosatu. Daar moet Zoeloes wees, Xhosas, en van bykans elke volk, ‘n bruin lid of twee, en ja, ook uit Afrikanergeledere – hoewel nie alle Afrikaners besonder ingenome sal wees met Marthinus van Schalkwyk wat “namens” hulle in die Kabinet dien en waar hy steeds veronderstel is om die (baie stil) stem van die ou NNP te wees nie. In die geledere van die groter volke moet daar ook verteenwoordiging van ‘n paar stamme gekry word, en ook hier en daar uit die regerende koningshuise. En dan vroueverteenwoordiging, en uiteraard ook uit die ANC se eie adel, byvoorbeeld die Sisulus.

Die ruimte vir kwaliteit raak dus baie eng, en die afdanking van ‘n minister het ‘n rimpeleffek.

Die situasie word vererger deur die aanstel van werklike swak adviseurs, en die beleid van kaderontplooiing (wat duidelik ongrondwetlik is).

Voeg hierby die impak van rasbegunstigde bevoordeling ten koste van talent en die strewe tot uitnemendheid.

‘n Rubriekskrywer het onlangs op die gevaar van “institusionele geheueverlies” gewys as ministers en senior amptenare afgedank of herontplooi word (in die woorde van die ANC se woordvoerder, dis die prerogatief van die president om mense te “appoint” en te “disappoint”)  maar daar is werklik baie gevalle waar enige verandering noodwendig ‘n verbetering sal wees.

Pule voel duidelik dat sy onbillik van onbekwaamheid en konkelwerk beskuldig word, en verklaar selfs dat sy afgepers word. Ook minister Angie Motshekga meen sy moet volpunte vir bekwaamheid kry. Bitter min mense stem met haar saam.

Die land kan dit nie bekostig nie. By die pas-afgelope gradeplegtigheid van Kovsies het die kanselier, dr. Khotso Mokhele, gesê die studente moet hul spraakvryheid gebruik om hul monde uit te spoel oor die agteruitgang wat oral plaasvind.

Is dit enigsins verbasend dat die ANC nou skielik groot haas aan die dag lê en die snoerwet, ook bekend as muilbandwet, reeds Donderdag finaal vir stemming voor die Nasionale Vergadering moet dien? Die Burger haal Cecil Burgess, ANC-LP en voorsitter van die parlementêre ad hoc-komitee oor die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting aan toe hy gesê het: “Ons het nie ’n oormatige obsessie met perfeksie nie.”

Nou word die ganse wêreld waar deursigtigheid en verantwoordbaarheid geldende norme is “gedisappoint”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Juan ·

Baie raak-skote !
Daar is natuurlik geleerdes ook né, dit is toe hulle wat besluit het dat niemand se “mental ability” getoets mag word nie want dit is diskriminasie Teen die Swart etniese groep omdat hul benadeel was(geleerdheid) omdat hulle, hul eie skole afgebrand het en nie hul ‘mental capacity’ kon ontwikkel nie; dit kom neer op diskriminasie en rassehaat. Sorry minister, your mental capacity is evident.
Juan

Somerset Morkel ·

Die grootste blanke (wit) ‘disappointment’ is mantelswaaier, Smiley Onderbroek van Schalkwyk, wat alles opeoffer het om op die vyand se betaalstaat te kom. Mens kan nie respek vir so n man he nie, nog minder kan jy hom ooit vertrou… Daar is ander ook, soos Renier Schoeman in KZN.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.