Nuuskommentaar: Oorlogpraatjies – Sirië en die Midde-Ooste

Argieffoto

Die wêreld het nie aptyt vir ‘n onstabiele land wat wêreldvrede bedreig nie, en nog minder wanneer twee sulke lande gelyktydig in verskillende wêrelddele ‘n kritieke bedreiging inhou.

Met Noord-Korea wat skynbaar besef sy bluf is geroep en stiller raak, skuif die fokus voorlopig terug na Sirië, en sy posisie in die Midde-Ooste.

In die oë van die mees bekende geopolitici van weleer het die Midde-Ooste nie werklik baie aandag gekry nie, maar tog het die wêreld instinktief aangevoel dié wêrelddeel is baie belangrik vir die res van die wêreld, veral wat olievoorsiening en olieroetes betref. Vir drie van die grootste godsdienste ter wêreld is dit ook ‘n baie belangrike gebied.

Die gebied sorg ook dat hy op ‘n ander manier in die oë van die wêreld bly. Nadat die ou PLO-verwante internasionale terreur min of meer verdwyn het, het ander name uit die Midde-Ooste vir hul terreur bekend geword, en selfs Suid-Afrika word op verskeie maniere betrek. Onder hulle tel Al Kaïda met verwante groepe wat onder meer in Somalië, Nigerië en Mali betrokke is, Hamas, Hizbollah, in ‘n stadium die Armeense groep Asala, die PKK-Koerdiese groep en vele meer. Pas is twee Iraniërs in Kenia lewenslank opgelê weens die beplanning van terreuraanvalle op teikens van verskeie Westerse lande.

Na raming het sowat 70 000 mense reeds in die Siriese burgeroorlog omgekom. Nog baie is beseer en vermink, en daar sal na verwagting binnekort sowat 2 miljoen burgers na naburige lande soos Turkye, Jordanië, Libanon en selfs Israel gevlug het. Teen die middel van volgende jaar sal Siriese vlugtelinge teen die huidige tempo sowat 40 persent van die Jordaniese bevolking uitmaak. As die enorm voorbereidings ‘n logistiek om sowat 75 000 besoekers in vier dae aan die Nampo-oesdag geneem word, is dit ontsagwekkend om te dink hoe enorm die taak moet wees om sowat ‘n miljoen en ‘n half vlugtelinge uit Sirië maand in en maand uit te hanteer terwyl die getalle daagliks aangroei.

Die foutlyne, veral etniese en godsdienstige foutlyne in Sirië loop deur na buurlande. Die regerende Assad-dinastie is Alawiete, ‘n sekte van die Sjiïtiese Moslem-minderheid. Die huidige president, Bashar al Assad word deur Iran gesteun, omdat Iran deur ‘n Sjiïtiese meerderheid gelei deur ajatollas geregeer word, en wapens deur Sirië na die Sjiïtiese Hisbollah in Libanon kanaliseer. Israel het vanjaar drie keer reeds hierdie konvooie gebombardeer, en die laastes erken.

Sirië huisves ook drie bekende minderhede waarvan baie afstammelinge is van oorlewendes van die Turkse volksmoorde van die Armeniërs, Assiriërs en Koerde. Die Armeniërs en Assiriërs maak ‘n groot deel van Sirië se inheemse Christen-minderheid uit. Met die eeu-herdenking van die volksmoorde op pad – iets wat die Turke ontken en uit hul literatuur verwyder het – is daar ‘n senuweeagtigheid oor wat met hierdie groepe in naburige lande, maar veral Sirië en Irak gebeur. Intussen het Turkye en die Koerdiese terugroep, die PKK, vrede gesluit en sal die PKK na Noord-Irak uitwyk. Hier sal hulle hul in die outonome Irakese Koerdistan bevind, waar Turkye reeds verskeie weerwraakaanvalle teen PKK-basisse geloods het.

Terwyl Westerse lande huiwerig is om in Sirië in te gryp op ‘n soortgelyke wyse as in Libië, wil hulle ook nie hê dat Israel betrokke raak nie. Die Midde-Ooste buite Israel mag erg verdeeld wees langs omtrent enige moontlike foutlyn, maar ‘n baie groot deel van die bevolking is verenig in hul vyandigheid teenoor Israel. Na Israel se jongste aanval op Sirië het een van die Assiriese belangrikste godsdienstige leiers die aanval veroordeel, aldus die SAUK se TV-nuus. Daar is veral vrese dat die opstand teen Assad heeltemal deur die radikale Moslems gekaap kan word en dat die Christen-minderheid dit nog moeiliker sal vind as onder Assad wat in sekere opsigte verdraagsaam en selfs akkommoderend teenoor die Christene is.

Met toenemende getalle Moslems wat hulle in Wes-Europa vestig, sit hierdie lande met ‘n ongewone verskynsel opgesaal – jong Moslems wat na Sirië gaan om aktief aan die stryd deel te neem. Uit Suid-Afrika het die Gift of the Givers, ‘n Moslem-welsynsorganisasie, ‘n gereelde betrokkenheid om veral mediese uitkoms te bied.

Intussen is daar voortgesette verwikkelings rondom die groot moondhede. ‘n Ooreenkoms is pas tussen die VSA en Rusland gesluit wat behels dat daar ‘n oorgangsregering moet wees. Die netelige kwessie van of Assad deel van die oorgangsregering moet wees of nie, is nie uitgepluis nie. Rusland is ‘n bondgenoot van  Assad. Onderweg terug van Rusland na die VSA het die Amerikaanse minister van buitelandse Sake, John Kerry, egter in Rome aangedoen vir samesprekings en aangedring dat Assad nié deel van die oorgang kan wees nie. Tensy Rusland klandestien laat blyk het dat Assad se kop maar kan rol, is die ooreenkoms tussen Rusland en die VSA in op die oog af gedoem.

China se rol is interessant. China is amptelik ook ‘n bondgenoot van Assad, maar sy president, Xi Jinping, bring tans besoek aan Israel waar Israel vanoggend aangemoedig is om samesprekings met die Palestyne te hervat. Xi het enkele dae  gelede dieselfde oproepe op die Palestyne se president, Mahmoud Abbas gedoen. Diplomate lê die gebeure uit dat China ‘n belangrike diplomatieke rol in die Midde-Ooste wil speel.

Sou die Weste by die konflik betrokke raak, watter vorm sal dit aanneem? Die mees-bespreekte opsie is om in die noorde van Sirië ‘n vliegspergebied vir die Siriese lugmag in te stel. Dit sal na verwagting die rebelle die oorhand gee, en die Assad-regime laat tuimel. Dit is in pas met die feit dat baie Westerse lande reeds die Siriese rebelregering as regering erken. ‘n Behoorlike Turkse inval lyk kort-kort moontlik, maar hou op die oog af min goed in vir die Koerdiese en Armeense bevolkings in hierdie gebied in.

‘n Peiling wat vanoggend bekend gemaak is dui daarop dat hoewel 61 persent van die Amerikaanse kiesers Israel se bomaanvalle in Sirië, veral die missielaanleg, steun, 73% meen die VSA self moet nie by die konflik betrokke raak nie. Vingers verbrand met Viëtnam, Irak en elders neig om dit aan kiesers te doen.

Hoe raak die kwessie Suid-Afrika?

Dit hang af of die kwessie tot Sirië beperk bly, en of dit na die hele Midde-Ooste kan uitbrei.

Solank dit tot Sirië beperk bly, sal Suid-Afrika die impak waarskynlik hoofsaaklik net onregstreeks voel in die vorm van hoë oliepryse (eerder weens die plofpotensiaal as Sirië se eie regstreekse impak hierop).

Skiet die proppe egter af en dit brei uit, veral as beide Israel en Iran ingesleep word, sal dit baie moeilik vir ander lande wees om uit die konflik te bly. Die VSA is ‘n bondgenoot van Israel, maar ook via Navo met Turkye. Duitsland, ook ‘n Navo-lidland, waarborg die onafhanklikheid van Israel as ‘n soort oorlogskuld weens die Joodse volksmoord tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Om in so ‘n konflik vriend van vyand te onderskei, sal byna onbegonne wees, selfs nog moeiliker as nou in die Siriese krisis.

Die Suid-Afrikaanse bevolking gaan ongetwyfeld erg verdeeld wees oor wie in so ‘n konflik gesteun moet word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae