Nuuskommentaar: Oscar en koerantlesers – soos hond wat padda vang

Carl Pistorius, Oscar se broer, Maandag in die Pretoriase landdroshof. Foto; Werner Beukes/Sapa

‘n Storm is aan die broei oor die geweldige nuusdekking wat die Oscar Pistorius-saak geniet, en plek-plek oor die kwaliteit daarvan – of persepsies oor die kwaliteit daarvan. Beeldmateriaal van fotograwe wat in ‘n plaat bankvas voor Pistorius staan en met die lense amper in sy gesig foto’s en nogmaals foto’s neem skep by baie ‘n wrewel.

Dit is nie die eerste storm van hierdie aard nie, en soms staan die media agter die deur – ironies soms oor wat nié geskryf is nie. ‘n Goeie, betreklike onlangse voorbeeld was die Reitz 4-geval, waar ‘n uitstellanddros naderhand ‘n beroep op die media en politici moes doen om nie die uitslag van die saak vooruit te loop nie… en die daaropvolgende Sondag publiseer ‘n groot koerant ‘n brief waarin na die vier lank voor enige skuldigbevinding blatant as misdadigers verwys word. Toe die vier om verskoning vra, is dit slegs deur Sapa, twee Afrikaanse koerante en ‘n paar buitelandse koerante gedra. Die gevolg was dat ‘n stroom briewe bly plaas is waarin die vier verkwalik is omdat hulle nié om verskoning sou gevra het nie. Boendoegeregtigheid op sy allerergste, en ongelukkig het ‘n groot deel van die media agter die deur gestaan.

In daardie saak het die hooggeregshof op appèl bevind dat die verhoorlanddros die vier nie net oormatig gestraf het nie, maar ook vir oortredings waaraan hulle na ‘n pleitooreenkoms nie skuldig bevind is nie.

Is die landdros deur die openbare en mediahisterie beïnvloed?

Die Pistoriussaak is nog in sy kinderskoene en die rol van die media kom ook reeds onder skoot. Slegs mense wat werklik die gepubliseerde nuus betreklik deeglik lees en die nodige regskennis het, sal kan oordeel of die mediadekking streng volgens juridiese riglyne geskied.

Hennie van Deventer, oud-redakteur van die Volksblad en direkteur van Media 24, skryf onder meer soos volg op sy persoonlike kuberkol: “Die ganse wêreld word meegesleur deur hierdie ontvouende Griekse tragedie. Miljoene woorde in die pers en oor die elektroniese media word elke dag oor die aardbol opgeslurp. As lewenslange joernalis het ek min twyfel dat dit die grootste moordstorie van die nuwe millennium is. Loshande. Dan kom uit talle oorde maar weer die ou-ou verwyt: ‘Nou oordryf die koerante darem te erg!’… Ons media vaar goed, meen ek, om in die opspraakwekkende Oscar Pistorius-sage hul lesers en kykers oor kritieke elemente ingelig te hou. Hulle doen hul plig teenoor die gemeenskap. Ten minste is ‘n bose spul uit die lug gegrypte bespiegelinge op die sosiale media en elders al deeglik die nek ingeslaan.” Sy volledige artikel kan hier gelees word.

Koerante is sake-ondernemings en moet hulle dus ook laat lei deur dit wat die lesers wil lees. En koerante sal hierdie aanslag gou laat vaar as hulle agterkom daar is lesersweerstand wat verkope negatief raak.

Volgens oorlewering het ‘n tante wat in ‘n hoë woonstelblok by Seepunt woon die polisie gebel oor die manne wat so ongeklee by Graaff se Poel kom uitspan. Die polisieman sê hy kan dan niks sien nie. Daar is ‘n muur in die pad.

“Maar jy moet op ‘n stoel staan om oor die muur te kan kyk.”

Kortom, herinner die kritiek nie aan ‘n hond wat die versoeking nie kan weerstaan om ‘n padda te vang, maar dan baie langtand en grillerig met die ding in sy bek rondloop nie?

En laat daar geen twyfel wees nie; die mense léés. Minute na ‘n koerant ‘n nuwe berig op die web plaas, is daar reeds by die 40 leserskommentare, en meer as ‘n honderd “likes” by ‘n inskrywing. Ook op Maroela Media se bakkiesblad kan duidelik gesien word hoe berigte oor Pistorius se saak die lesers se aandag aangryp, en bly aangryp. Interessant, berigte en insetsels oor ander onderwerpe word nou net so veel en soms selfs meer gelees en op gereageer.

En dis nie net Suid-Afrika nie. Ook is die Vlaamse koerant, De Standaard se elektroniese nuuslys tel berigte oor Pistorius gereeld onder die mees gelese. Koerante dwars oor die wêreld hou letter vir letter by Suid-Afrikaanse koerante by met beriggewing oor die saak. Na berig word, het buitelandse  mediagroepe 50 spanne na Suid-Afrika gestuur om die saak te volg. ‘n Mens kan bykans enige buitelandse koerant se elektroniese argief benut om ‘n volledige storielyn oor die saak – en nou sommer Pistorius se lewe voor die tragedie – op te stel.

Suid-Afrikaners is dus nie uniek nie.

Maar die saak het in die binne- en buiteland ook die soeklig laat val oor ander, minder aangename aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing. “Elke agt uur sterf ‘n vrou in Suid-Afrika aan die hand van haar liefdesmaat,” en “Sedert die Oscar-tragedie op Valentynsnag het nog twintig Suid-Afrikaanse vroue aan die hand van hul liefdesmaats gesterf,” skryf Trouw, wat onlangs as Europa se beste koerant aangewys is, en as Christelik-Protestantse koerant allesbehalwe ‘n sensasiegerigte koerant is. Ook ander laat die soektog val op die mate waartoe Suid-Afrika die wêreld se verkragtingshoofsetel is. Minister Lulu Xingwana se oproep dat verkragters gekastreer word, het op sy eie ‘n ligte mediastorm oorsee ontketen, maar word verdwerg deur soortgelyke oproepe uit Indië na groepverkragtings en die dood van ‘n student daardie land geskud het.

Intussen het die Kommissie vir Geslagsgelykheid onder skoot gekom omdat die kommissie skynbaar in ‘n verklaring die uitspraak vooruitloop. Die Kommissie is soos volg in die media aangehaal: “The consequence of this style of reporting is to present Ms Steenkamp’s death as an unfortunate aberration, rather than part of a broader pattern of gender-based violence in South Africa,” the commission’s chairperson, Mfanozelwe Shozi, said in a statement on Monday. “Gender-based violence has reached alarming proportions in our country and such cannot be allowed to go on unabated. Women and children are bearing the brunt of our violent society and Ms Steenkamp’s death is no exception.” Ongelukkig het die kommissie in Oktober verlede jaar laas sy mediaverklarings op die webwerf opgedateer en is dit uit die gepubliseerde dele van die verklaring nie moontlik om te oordeel of die kommissie inderdaad die saak regstegnies vooruitloop, soos dit uit hierdie aanhaling wil voorkom nie.

Die reëls wat vir die media geld, geld immers grotendeels vir elke lid van die publiek ook. Dit behels dat daar nie gelaster mag word, deur iemand skuldig te verklaar voor die persoon skuldig bevind is nie.

Die beginsel dat nuus gepubliseer mag word, of nie behoort te word nie, word getemper deur die beginsel dat ‘n regter of landdros hom nie deur inligting sal laat beïnvloed wat nie behoorlik, en bewese, voor die hof gelê is nie. In ‘n stelsel soos die VSA waar juries ingespan word, is dit kritiek dat die jurielede nie aan mediabespiegelings (of enige ander ongetoetste bewerings) blootgestel mag word nie.

Die kuberruim het die reputasie van robuus wees, maar is ongelukkig ook besoedel deur lafaards wat agter skuilname skuilhou en die siekste valshede oor ander  plaas.

Die reg op privaatheid en meningsuitdrukking insuleer die misdadiger (want dit is wat ‘n kubergogga is) nie teen die slagoffer se reg op waardigheid (mits hy dit verdien) nie, en kan die plegers vir laster en kriminele laster in die warm water laat beland.

En ja, dit wat in die kuberruim geplaas word, word deur ‘n appèlhofuitspraak as gepubliseer beskou, en kan die skrywer krimineel, en sivielregtelik in die sop laat beland. Vra maar vir die knape wat ‘n sogenaamde sletlys op Mixit geplaas het en gedink het hulle kan agter skuilname skuil en daarmee wegkom.

Gelukkig is daar persone en instansies, soos Maroela, wat uit eie beweging hul webwerwe en kuberkolle met die hoogste integriteit bedryf.

Hoe die lesers op nuus reageer is ‘n studie op sy eie.

Wanneer die betrokkenes sulke bekendes, en vir baie rolmodelle is, word ook dikwels ‘n traagheid beleef om deur inligting wat ‘n teenoorgestelde beeld skep beïnvloed te word. Baie mense is egter hoogs beïnvloedbaar, en dit blyk ook uit hoe hul standpunte wissel oor watter inligting van vore kon namate die borgaansoek vorder. Toe die verdediging die ondersoekspan se getuienis “uitmekaar” gehaal het was daar ‘n onmiddellike ‘n skerp wysiging in baie se opinies te bemerk.

Uiteindelik is dit belangrik dat geregtigheid van begin tot einde geskied. En almal, van die polisie wat die saak ondersoek en die getuienis aanbied, tot die regstelsel en die publiek en media, moet die hoogste integriteit aan die dag lê. Die fokus van die wêreld was nog selde soos nou op Suid-Afrika.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Johann ·

Dankie vir die gebalanseerde kommentaar.
Nuus is nuus. Dit gebeur. Mense is nuuskierig en almal glo ongelukkig deurgaans wat deur die media opgedis word.
Enkele gedgtes:
1 Het vandag se mediahuise nog integriteit as dit by die aanbied van nuus kom of jaag hulle enige storie ter wille van verkoopsyfers, na.
2 Kan die media aanspraak maak op 100% persvryheid indien hulle nuus vir eie ekonomiese doelwitte aanbied soos om ‘nuus te skep’ en dan daaroor berigte publiseer? (Voorbeelde: Borgskappe en aanbieding van musiekfeeste, troues van ‘sterre’ betaal en daaroor skryf, motorbylaes gedienstig publiseer sonder dat vervaardigers oor moontlik buitensporige hoë pryse van motors en\of vasstelling aangevat word en ‘kerkdebatte’ aanbied om reaksie te ontlont as ander nuss dungesaai lê)
3 Is dit reg as ‘n koerant klein op bladsy 2 verskoning vra indien ‘n nuusblabs in groot vet letters op die voorblad geplaas is?
4 Plant joernaliste idees op Twitter en Facebook sodat stories daaruit kan voortvloei?
5 Skrywe joernaliste gedienstig stories om byvoorbeeld binne ‘n koerant se politeke aandeelhuoers- affiliasie en sportspanonderteuners-omgewing in te pas.
Voordat iemand my kruisg. Dis vrae wat ek graag, indien ek kon, aan joernalistiekstudente sou wou vra.

Johann ·

Jammer oor spelglipse ( … wou nog proeflees en my kommentaar wysig, maar het ongelukkig die publiseerknoppie gedruk)

Patrys ·

Dankie dat julle kommentaar ten minste meer gebalanseerd is…ek lees nou eerder julle berigte op Facebook as News24 s’n…

Marlené ·

Patrys goeie dag’ wat kan jy sè vir ons i v m die Oscar Pistorius§aak?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.