Nuuskommentaar: Oscar vs Zuma

Pres. Zuma het Woensdagmiddag in Kaapstad met ‘n paar matrikulante vergader ter voorbereiding op sy Staatsrede Foto: GCIS/SAPA

Wêreldwyd is vooraf en na die tyd groot gewag gemaak van pres. Barack Obama se staatsrede.

In Suid-Afrika is bitter baie moeite gedoen om ook die nodige statuur aan pres. Jacob Zuma se staatsrede te gee. Bitter baie is daaraan spandeer om daarvan ‘n uithanggeleentheid te maak.

Die twee staatsredes was veronderstel om een saak in gemeen te hê: beide presidente was veronderstel om bevry te wees van die las om versigtig te trap sodat hulle ‘n tweede termyn kan dien, en so die nodige daadkrag aan die dag te kan lê om die bitter medisyne uit te deel wat die siek wêreldekonomie opeis.

Maar dit wat beide die plaaslike en die buitelandse media oor Suid-Afrika oorheers het, en steeds oorheers, is die ongelukkige voorval rondom Oscar Pistorius, Suid-Afrika se “Blade Runner” soos die buitelandse media hom wyd beskryf het.

In plaas daarvan dat Zuma se toespraak in diepte ontleed is, is die lewe van Oscar haarfyn oopgevlek en ontleed.

Vir baie mense oor die wêreld is dit ‘n saak wat verteer moet word as dit blyk dat iemand wat hulle as rolmodel gestel het, dalk voete van blik het. Dit so kort na die fietsryer Lance Armstrong geblyk het ‘n gevalle held op ‘n martelpyp na roemlose ondergang te wees.

Zuma kan beswaarlik as rolmodel beskryf word, en die buitewêreld het dit ook in ‘n koor aan Suid-Afrika uitbasuin.

Nog ‘n saak wat dreig om Zuma en sy staatsrede die loef af te steek, is die afwagting en verwagtinge wat rondom die politieke toetrede van dr. Mamphela Ramphele aan die oplaai is.

Ontleders het vergeefs die publiek probeer oortuig dat daar nie oormatige verwagtinge van Ramphele gekoester moet word nie. Baie ontleders was immers baie lank vasgevang in die veronderstelling dat die land slegs van die ANC bevry sal word as die gesamentlike opposisie onder duidelike DA-leiding die ANC se magsbasis kan erodeer (wat steeds tyd gaan verg), of as die ANC sou skeur (waarskynlik in ‘n proses waar Cosatu ‘n belangrike rol sal speel) of dat die party intern so gaan vernuwe dat dit eintlik ‘n nuwe gedaante aanneem, en hier was die fokus sterk op die politieke hertoetrede van mnr. Cyril Ramaphosa.

En dit lyk byna onafwendbaar dat Ramphele Maandag ‘n aankondiging gaan doen wat hierdie geykte vooruitrekening op hul kop gaan omkeer. Of dalk nie almal nie. As Ramphele ‘n nuwe politieke party stig, sal dit ‘n uitgemaakte saak wees dat sy die aankondiging met swaargewigte aan haar sy gaan doen. Matthews Phosa, wat nie meer van ‘n politieke salaris afhanklik is nie, Tokyo Sexwale, wat sonder sy politieke salaris waarskynlik uit sy eie bronne en pensioen beter daaraan toe sal wees, en adjunk-president Kgalema Motlanthe wie se pensioen as oud-president reeds sterker as die alternatiewe salaris (vir nog ‘n rukkie) as adjunk-president is, is almal kandidate. Maar onlangse minder aangename nuusdekking van Sexwale en Motlanthe sal maak dat Ramphele mooi sal moet dink as dit sou blyk dat dié twee here beskikbaar sou wees (en hul lyftaal tydens die staatsrede het niks laat blyk dat hulle nié beskikbaar sou wees nie).

En teen hierdie agtergrond moes Zuma met die hulp van die openbare uitsaaier vir donderweer meeding.

Die reaksie op sy rede was oor die algemeen by saakmakende partye en instansies nie baie positief nie:

–       AfriForum meen die staatsrede bied weinig antwoorde op die krisissituasies in die land. Zuma beskerm skynbaar die reg van onderwysers om te staak en skram weg van moeilike vrae, byvoorbeeld wanneer skole al hulle handboeke gaan ontvang, en of die ANA-toetse en matriekuitslae van 2012 enigsins geloofwaardig is.

–      Die TLU SA sê dit is geen staatsrede nie, maar ‘n “struggle-rede”. Saam met die heengaan van sy struggle-vriende, kon hy ten minste ook meegevoel betuig het met die naasbestaandes van die 51 boere wat verlede jaar op hulle plase vermoor is.

–      Die DA meen Zuma het ‘n gulde geleentheid verslons om ‘n dapper plan aan die land voor te hou.

–       Die Vryheidsfront Plus meen dit was teleurstellend omdat dit hoofsaaklik ‘n herhaling van mislukte beleidsoplossings was. Vir negentien jaar is daar reeds onsekerheid in die landbou vanweë die uitgerekte proses van grondhervorming. Deur sekere aankondigings rondom die heropen van die 1913 afsnypunt te maak sonder om die detail daarvan uit te spel, veroorsaak weer van vooraf onsekerheid.

–       Die Christen-Demokratiese Party (CDP)  meen die staatsrede mag in die anale van die geskiedenis opgeteken staan as die een wat minderhede verder vervreem het. Nie alleen is minderheidskwessies nie aangespreek nie, maar kwessies soos plaasmoorde is nie eens genoem nie.

Baie instansies, soos Agri SA het gewoon die moeite ontsien om gisteraand na die staatsrede koerante se spertye vir vanoggend te probeer klop. Trouens, min koerante het die moeite gedoen om hul hoofartikels vir vanoggend daaraan af te staan – die byna noodwendige besluit van die ANC dat die staatsrede as aandgeleentheid die TV in spitskyktyd moes “tref” (en in die proses weer die “Laners” se sepieslawe die hoenders in te jaag).

Juis hierdie poging om spertye te klop en deur min woorde (die VF Plus se reaksie het uit agt kernagtige sinne besaan) vir die beskikbare plasingsruimte mee te ding, kon alle aspekte in reaksie uiteraard nie aangespreek word nie.

Baie instansies sou byvoorbeeld wou reageer op die president se onomwonde solidariteit met die Palestyne sonder om Hamas se terreuraanvalle te noem, en die versoek dat sanksies teen Kuba opgehef word – terwyl die kommunistiese regime steeds aan bewind is.

Baie sou seer sekerlik wou uitwei daaroor die Zuma skynbaar die polarisasie in die land die blinde oog wil toekeer, en steeds “oplossings” bied wat minderhede soos vreemdelinge in hul land laat voel. Selfs die heropening van grondeise om ook aansprake van die Koisan in te sluit, is gekwalifiseer as slegs uitsonderlike gevalle wat eers goed ondersoek moet word, terwyl swart aansprake (wat met die Koisan s’n kan bots) se brieke nog losser gemaak word.

En o ja, die belangrike aankondiging is gedoen dat die Nasionale Gesondheidsplan in 2014 uitgerol gaan word. Saam met die nuus dat ondersoek ingestel word na ‘n nuwe belastingstelsel wat die staat in staat sal stel om sy uitgawes te kan dek, laat dit ‘n waarnemer nogal baie dink aan bloed uit ‘n klip druk wat natuurlik ekonomiese groei kan strem. En ja, die myne word as, wel, goudmyne beskou wat die staatskoffers moet vul. Maar Eskom se impak met beplande verhogings het geen gerusstellende woord ontvang nie.

Hoes of betaal, so lyk dit, is die wet wat nie faal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Zondra Hoffmann ·

Ja, en so sal daar niks uiteindelik oorbly wat nie ge-taks gaan word nie, want die Staatskoffer – soos ek lank gelede al voorspel het – is besig om leeg te raak van al die stropery, deur die mense wat veronderstel is om die land en sy mense te dien.
Ek erken ruiiterlik dat ek nie eers die moeite gedoen het om na die “geagte President” te luister nie. Hy spreek te veel woorde verkeerd uit, stamel oor party en die gehele inhoud sal op die ou einde niksbeduidend gewees het – dit is die normale loop van al hierdie “toesprake”. Politici het ‘n wonderlike taalgebruik ontwikkel van ontstettend lank en baie praat, maar wanneer dit wat gesê is ontleed word, is dit absoluut niksseggend en ‘n leë dop!!! En wanneer dit by die doen kom van wat “miskien” belowe was, en jy kan bewys lewer dat dit wel gesê was, dan is dit Apartheid se skuld dat dit nie gebeur het nie. As dit hulle sakke pas, sal al die dreigemente en voorstelle wat be-oog word, sommer die volgende dag al aandag begin geniet.
Mnr die President – hou jou hande van ons geld af, doen die regte ding en help jou “swart broers” wat blindelings glo wat jy sê en dan vir jou stem, hou op om rassisme aan te wakker met jou stellings en be-oogde optredes wat alles dui daarop dat die witman jou teiken is. Ons is nie die vyand nie. Jou eie hebsug na mag en om die oorhand te kry teen alle koste, sal jou nog duur te staan kom, en dis die vyand wat hy moet ligloop voor!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.