Nuuskommentaar: OVK nou voor lakmoestoets

IEC-280Die uitspraak van die Verkiesingshof gister wat in totaal tot die uitstel van ses van die nege tussenverkiesings in die Tlokwe-munisipliteit gelei het, plaas die Onafhanklike Verkiesingskommissie voor ‘n reuse toets om sy werklike onafhanklikheid te bewys.

‘n Duisend kilometer van die sitting van die verkiesingshof af in die hooggeregshof in Kaapstad, het die advokaat vir die staat in die saak oor die onafhanklikheid van die Valke, Renate Williams, aangevoer die regering is bewus van korrupsie en dat dit endemies is, en al die afgelope twintig jaar ‘n probleem is. Sy het gesê die staat is ernstig om die probleem uit te roei.

Dit is heel gepas dat die OVK juis in Potchefstroom oor die hekkie sou neertuimel. Hierdie tussenverkiesings is reeds so in omstredenheid gedompel met die toeken van kospakkies en huise op belastingbetalerskoste in wat baie moeilik as iets anders as stemkopery deur die ANC bestempel kan word – maar met andermansgeld. Daar is omstredenheid oor ‘n minister op staatskoste die dorp per helikopter besoek het. Van die kospakkie-uitdelery het vlak onder die neuse van die OVK plaasgevind waar spesiale stemme uitgebring is. Die huise is reg langs die OVK se geriewe oorhandig.

In enige normale demokrasie sou die OVK sy kommer uitgespreek het en ondersoek ingestel het of die speelveld nie ongelyk gemaak word nie. As die speelveld nie gelyk gemaak word nie, kan ‘n verkiesing immers nie as vry en regverdig bestempel word nie. Die verkiesingshof het nou opdrag gegee dat die OVK behoorlik ondersoek instel na die optrede van een van sy beamptes, John Makodi.

Volgens die onafhanklike kandidate wat deur die OVK van deelname gediskwalifiseer is, hét hulle al die nodige dokumentasie ingedien. Gisteroggend was daar reeds in een van die ses gevalle ‘n skikking buite die hof, en teen gisteraand het die verkiesingshof ook die ander kandidate gelyk gegee.

Daar is vandag tussenverkiesings in verskeie provinsies, maar die oë is verstaanbaar op Potchefstroom gerig waar van die ANC-raadslede gerebelleer het – juis weens beweerde korrupsie. Die ANC sal na verwagting uiteindelik weer die beheer oorgeneem, maar hoe langer dit nie gebeur nie, hoe meer kry die ander partye kans om die vorige burgemeester se sake behoorlike te ondersoek, wat kortgeknip is na ‘n vorige rondte.

Die ANC se optrede skep die indruk van alles in die stryd werp om te keer dat beweerde korrupsie aan die kaak gestel word, terwyl adv. Williams in die Kaapstadsaak aanvoer dat hy van die endemiese korrupsie bewus is, en alles in die stryd werp om dit aan te spreek – al moes die Openbare Beskermer ‘n voetesleper aanspreek omdat daardie persoon of instansie nog inligting moet voorsien wat die voltooiing van die Nkandla-verslag vertraag.

Vir die Tlokwe-tussenverkiesings is alles in die stryd gewerp. Onder die groot kanonne wat vir stemwerwing ingespan is, tel die Vrystaatse premier, Ace Magashule. Magashule kom nie net van die nabygeleë Parys nie, maar hy is ook ‘n Tswana. Die Tswanas van Parys is ‘n “oorloop” in die Noord-Vrystaat van dieselfde stam as wat in die Potchestroom-omgewing gesetel is, en sy invloed is dus beduidend – al word Magashule se eie administrasie onder meer weens ‘n erg omstrede webwerftransaksie ondersoek.

Die Tlokwe-gebeure dui op twee probleme. Die eerste is die onafhanklikheid en eerbaarheid van die OVK self. Hierdie gebeure volg kort na die voorsitter van die OVK, Pansy Tlakula, weens ‘n bedenklik transaksie deur die Openbare Beskermer na die skandaal gebring is. Tlakula trek nog steeds ‘n Dinah hieroor. Maar belangriker is dat, geoordeel uit die reaksie van opposisiepartye, hulle nou uit hul geheueverlies breek oor ander gevalle waar hulle gevoel het hulle deur die vermeende minder eerbare optrede van OVK-beamptes benadeel is.

Die OVK se skynbare blindheid oor die Tlokwe-kospakkies het reeds daartoe gelei dat AfriFiorum optrede beloof het, en die DA die Openbare Beskermer genader het. Die tweede probleem wat nou belig word, is die vraag tot hoe ver die ANC bereid is om te gaan om die politieke speelveld met die oog op aanstaande jaar se verkiesing nié gelyk te maak nie. Die skandalige voortydige kondonering van die Zimbabwiese verkiesing terwyl dit reeds duidelik was dat daar geen sprake van ‘n regverdige verkiesing was nie, en toe sommer die SAOG se oproep aan die Weste dat geteikende sanksies teen Mugabe opgehef moet word, is nie baie gerusstellend oor die ANC se norme vir ‘n vry en regverdige verkiesing nie.

Om die woordjie “genoegsaam” in te span om oor die regverdigheid van ‘n verkiesing te oordeel, is baie onbevredigend. Net te veel is op die spel om selfs een stem weens onaanvaarbare optrede in die verkeerde hopie te laat beland.
Die OVK kan vertroue in homself net herstel deur ‘n deurtastende ondersoek, wat terselfdertyd deursigtig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

leon kaltwasser ·

Dit lyk my dat SA besig is om in totale chaos te verval. Die enigste alternatiewe wat ons het om probleme te probeer aanspreek is die howe en die openbare beskermer. Spesifiek olv Adv Thuli Madonsela.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.