Nuuskommentaar: Paasbolletjies en halaal

Kort voor die Paastyd het Woolworths ‘n stroom van kritiek op die lyf geloop oor die aanbring van die halaal-teken op paasbolletjies.

Die reaksies wissel van argumente dat die verband tussen paasbolletjies en die Paastyd lankal vergete is, tot dat dit daarmee vergelyk om ‘n vark kosjer te slag en die vleis aan Jode te probeer verkwansel. Om te bepaal of die optrede aan Christene of Moslems of beide behoort aanstoot te gee, moet ‘n bietjie dieper gedelf word.

Bronne verskil grootliks oor die herkoms van paasbolletjies, en in die besonder die kruis daarop. Sommiges voer dit terug na voor Christus se geboorte. In die reël word dit egter met ‘n Rooms-Katolieke gebruik in verband gebring. Die aanvanklike gebruik was om elke brood, voor dit genuttig word, met die kruisteken te “merk.” Later is die kruis voor die bak van die brood daarop ingeprent. In verskillende lande het dit verskillende vorme aangeneem, soos in Duitsland as die Kreuzstollen en die Karfreitagleib in Oostenryk. In Brittanje het die gebruik om “hot cross buns” te bak, teen die einde van die 14de eeu beslag gekry.

Die gebruik was so populêr dat toe die Hervorming Engeland bereik het, vrugteloos probeer is om die gebruik as vermeende Rooms-Katolieke gebruik te stuit. Koningin Elizabeth 1 het uiteindelik die handdoek ingegooi, en dié bolletjies met die kruis op is weer gewettig – maar net vir Kersfees en die Paasfees.

Daar is dus ongetwyfeld ‘n Christelike verbintenis met die bolletjies, al het die gebruik in baie gevalle vervlak tot iets soortgelyks as die “merry Christmas” waar die primêre fokus op geskenke en partytjies val, en Christus se geboorte dikwels ‘n baie sekondêre of selfs geen rol speel nie. Dit is juis die kommersialisering van Kersfees wat baie Christene oortuig om geen geestelike waarde aan die paasbolletjies te heg nie, net soos wat paaseiers met die houtoog betrag word.

Terwyl dit dan lyk of elke Christen individueel sy saak oor die waarde en simboliek oor paasbolletjies moet uitmaak, staan die vraag nog oor hoe die Moslems sal, of behoort te reageer op die halaal-teken op die paasbolletjies.

Hoewel die Islam onder meer ook glo dat Jesus uit die maagd Maria gebore is, dat Jesus baie wonderwerke gedoen het, en dat Jesus na die hemel opgevaar het, aanvaar die Islam nie Jesus se kruisdood nie. Volgens die Koran het die Jode Jesus nie doodgemaak nie, en ook nie gekruisig nie . . . met die basiese implikasie dat Jesus nie uit die dood opgewek is nie – iets wat as kernelement in die Christelike godsdiens staan.

Kortom, die kruis is die een element van die Christelike simboliek waarmee die Islam ‘n probleem het.

Dié sentiment loop so sterk dat die Internasionale Rooikruis in sekere dele van die wêreld waar Moslemmeerderhede woon, as die Internasionale Rooi Sirkelmaan (International Red Crescent) bekend staan. Nie alle Moslem-vertakkings sal presies dieselfde sentimente oor die halaalteken op die paasbolletjies openbaar nie. In ‘n stadium het fundamentalistiese Christene ‘n fel veldtog teen die Islam gevoer na Moslemstudente aan die Katolieke Universiteit van Amerika aangedui het dat hulle ongemaklik is om in leë klaskamers vol Christelike simboliek te aanbid. Die meerderheid Moslems sal waarskynlik voel daar is met hul opvattings oor die kruis op die paasbolletjies ongevoelig omgegaan.

Vanuit die reformatoriese Christelike perspektief is die kern van die situasie dat Woolworths se optrede deel uitmaak van ‘n sekulêre wêreld se reaksie op gebrekkige insig oor die wesenselemente van die Christelike geloof, en waarskynlik ook ander godsdienste. ‘n Tipiese sekulêre handeling is om godsdiens ondergeskik aan individuele regte te plaas, en om dit nie met godsdiensregte te laat bots nie, word geneig na die “skepping” van ‘n universele “God.” In ‘n stadium het die Christian Coalition of America ‘n verbete veldtog gevoer oor ‘n weermagkapelaan op afdanking gestaan het omdat hy uit “verbode” dele van die Bybel voorgelees het, en in besonder dat God die enigste Here is. Deuteronomium 5 vers 7 – 9 lees: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie. Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek die Here jou God eis onverdeelde trou aan My.”

Lees ook 2 Konings 19: 19 en Johannes 5: 44.

Die implikasies van ‘n staat wat nomineel godsdiensvryheid voorstaan gaan verder – mediese personeel met godsdienstige beginselbesware wat deur die owerheid gedwing word om aborsies uit te voer, en selfs predikante wat hul gesag om huwelikslisensies uit te reik kan verbeur omdat hulle ooreenkomstig hul kerke se besluite weier om huwelike van dieselfde geslag te voltrek.

Hoe behoort die Christen op Woolworths se optrede te reageer?

Die Skrif ondersteun nie veroordelende optrede nie. In teendeel, die Skrif stel die kenmerke van goeie vrugte van die Heilige Gees – die voorbeeld wat gestel moet word: Verstaan die genade van God, regverdigheid, waarheid, leer wat gee God vreugde, liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing, inskiklik, vol genade, onpartydig en nie veroordelend wees nie.

Miskien is dit makliker om te verstaan hoe ons nié behoort te reageer nie, deur te kyk na wat die Skrif as die slegte vrugte lys: Deelname aan ongehoorsaamheid, dade wat in die geheim gepleeg word te erg om te noem, verwaandheid, uitlokkend / skoorsoekerig, jaloers wees, selfsugtig, vertel leuens, skynheilig en veroordeel kwaadwillig. Van buite beskou, watter beeld kry die sekulêre wêreld van die Christendom? Dra die Christene goeie of slegte vrugte, of is hulle gewoon in hul geloof lou? Kan die Christen werklik met gesag die splinter uit ‘n ander se oog haal as jy self die balk in jou oog het?

Presies hoe klink die woorde-oorlog wat in soveel Afrikaanse kerke heers vir mense daarbuite?

Wanneer ons as Christene Woolworths in die regte gesindheid nader, en die rug word onverskillig styfgemaak, dan moet ook die laaste kenmerk van die goeie vrugte van die Heilige Gees in werking kan tree: Jou ja moet jou ja wees, en jou nee, jou nee.

Maar die heel belangrikste is: In die proses moet ons onthou waaroor Paasfees eintlik handel, en dié fees gedenk soos dit Christengelowiges betaam.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae