Nuuskommentaar: Paasfeesklokke

Die Paasfees is vir baie Christene selfs belangriker as Kersfees.

In die gereformeerde tradisie neig die kerkmusiek in die aanloop tot Goeie Vrydag om meer gedemp te wees. Die woord “Halleluja” word glad nie in preke en sang gebruik nie. Sommige gemeentes het Donderdagaand, ter herdenking van die oorspronklike Nagmaal deur Jesus self, gisteraand ‘n Donkernagmaal gehou.

Maandag, wanneer die opstanding gedenk word, lui kerkklokke regoor die wêreld. Die gedempte musiek van Goeie Vrydag bars uit in ‘n crescendo van lof. Lied 422 basuin die Blye boodskap uit:

Die Heer, die Heer het opgestaan!
Die Heer het wáárlik opgestaan!
Vir sondaars het die Heer gesterf,
die lewe deur sy dood verwerf!
Oorwinning is vir ons verkry
oor sondemag en –heerskappy.

Maar hoe lyk dit in die praktyk? Ja, daar is baie Christene wat die Paasfees vier soos dit moet. Maar in vele kerke is die lang messe vir mekaar uit, al word die lang messe vir die duur van Paasfees “op die ys” geplaas, met die woordestryd wat daarna weer hervat word.

Ds. Ockie van Schalkwyk het die onverkwiklikheid tussen Christene in die e-Hervormer van 8 Novemer verlede jaar soos volg saamgevat: “Die ekstremistiese eksponente aan die geloofskant van die kloof is net so fanaties. Hulle bevestig ironies genoeg met hul optrede die mitiese karikatuur van gelowiges wat deur ongelowiges geskep is. Hulle teiken egter self nie ongelowiges nie, maar wel gelowiges wat nie in die karikatuur pas nie. Indien jy nié in absolutes dink nie, is jy nie ’n gelowige nie, en behoort jy die eerbare ding te doen, die kerk te verlaat en te erken dat jy eintlik nog al die jare ’n ateïs is! Per definisie is teoloë wat die Bybel wetenskaplik bestudeer dus liberaal, ’n bedreiging vir ware geloof, en ondermyn hulle God se wil.”

Jesus het ons met ‘n opdrag op aarde gelaat: Ons moet vissers van al die nasies maak. Maar hoe moeilik moet die sending- en evangeliesasietaak nie wees as die ongelowige sien hoe Christene mekaar met ‘n eietydse inkwisisie veroordeel en karaktermoord pleeg nie?

Die goeie vrugte van die heilige Gees, Verstaan die genade van God, Die goeie, Regverdigheid, Waarheid, Leer wat gee God vreugde, Liefde, Vreugde, Vrede, Geduld, Vriendelikheid, Getrouheid, Sagmoedigheid, Selfbeheersing, Inskiklik, Vol genade, Onpartydig en Nie veroordelend word maar te maklik deur die slegte vrugte vervang; Deelname aan ongehoorsaamheid, Dade wat in die geheim gepleeg word te erg om te noem, Verwaandheid, Uitlokkend / skoorsoekerig, Jaloers wees, Selfsugtig, Vertel leuens, Skynheilig en Veroordeel kwaadwillig.

Ons wéét hoe om die Paasfees reg te vier – ons moet dit net doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henrietta Klaasing ·

Die opstanding word SONDAG gedenk, nie Maandag nie. Maandag is bloot ‘n vakansiedag wat bygegee word omdat Sondag die “vakansiedag” behoort te wees

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.