Nuuskommentaar: Padslagting – Faal motoriste Suid-Afrika?

Burry Stander. Foto: Facebook

Die nuus dat die bekende Suid-Afrikaanse bergfietsryer Burry Stander dood is nadat hy tydens ‘n oefenrit raakgery is, en dat meer as 2 100 motoriste sedert die begin van Desember 2012 weens dronkbestuur aangekeer is, het die land op dieselfde dag getref. Terselfdertyd is die nuutste padsterftesyfer van 1 279 mense oor dieselfde tyd op die paaie omgekom het bekend gemaak.

‘n Groot deel van die vakansieterugtog word die naweek verwag. Dit lyk of die Padverkeersbestuurskorporasie (PVBK) se doelwit van ‘n 25 persent vermindering van padsterftes oor die vakansietydperk vroeg reeds in die stof gebyt het, en selfs meer kan wees as die vorige.

Die woordvoerder van die PVBK blameer die motoriste en sê die motoriste faal Suid-Afrika. Ongelukkig klink die manier waarop die woordvoerder dit stel of motoriste misluk ongeag dat die veldtog slaag – eintlik sowat 5 veldtogte van verskillende instansies soos ook die Kom Veilig Tuis-veldtog. Per definisie slaag ‘n veldtog egter nie as dit nie gedrag beïnvloed en meetbare gevolge het nie.

In die geheel skep die PVBK die indruk van ‘n sterk simptoon-gerigte veldtog. Plek-plek maak die kommunikasie nie sin nie. Die 2 100 motoriste wat vir dronkbestuur aangekeer is, het die woordvoerder as “nie normaal nie” beskryf. Hy sou waarskynlik reg wees as die 2 100 net bestuurders was wat nou bykomend sou wees tot die “gewone” aantal wat deurlopend gevang word, en spesifiek diegene behels wat nou as deel van die veldtog op hoofpaaie gevang word. Volgens die polisie se amptelike misdaadstatistiek is daar in die jongste verslagjaar net minder as 70 000 mense vir dronkbestuur aangekeer. Dit is ‘n gemiddeld van by die 6 000 per maand, en sou die 1 200 wat nou aangekeer is die algehele totaal wees soos die woordvoerder dit laat klink, is dit inderdaad nie normaal nie – dit dui op ‘n ongelooflike afname in dronkbestuurders.

‘n Besoek aan die PVBK se webwerf  dui glad nie op goeie kommunikasie nie, en eerder selfbemarking en die bemarking van Aarto as die bemarking van ‘n veldtog.  Dit is baie moeilik om enige bruikbare inligting wat met die veldtog verband hou, soos statistieke en jongste nuus op die webwerf te verkry. Onder die onwaarskynlike skakel van “Events”  is ‘n aantal verslae waarvan een, in die vorms van ‘n oorhoofse skerm-aanbieding, “State of the Road Safety Report” waardevolle data en berekenings bevat.

Uit hierdie aanbieding blyk dit dat motoriste nie alleen die blaam vir baie van die noodlottige ongelukke kan dra nie, omdat meer as 33 persent van die sterftes voetgangers is. By minstens ‘n deel van hierdie ongelukke moet die grootste blaam op die voetganger geplaas word, hoewel daar gevalle sal wees waar die motoris weens te hoë spoed of dronkbestuur die blaam moet dra.

Die PVBK wil nou met aanklaers praat om dronkbestuurders van moord aan te kla, iets wat regskenners meen baie moeilik sal slaag.

Hoewel daar kritiek teen die PVK se veldtog geopper kan word, is dit uiteindelik so dat baie van die mense agter die stuurwiel inklim, dit met soveel minagting vir ander doen dat hy of sy inderdaad beheer oor ‘n moordtuig neem, en die land faal.

Kop aan kop-botsings maak volgens die PVBK meer as 40 persent van die noodlottige ongelukke uit, terwyl ongelukke waarin slegs een motor betrokke was, 27,5 persent van die noodlottige ongelukke uitmaak.

Elke jaar vertel padgebruikers skrikwekkende verhale van hoe ongeduldige bestuurders ander voertuie oor sperstrepe op blinde hoogtes verbysteek. Verhale van ongelooflike hoë spoed ontvou, en daar is haas ongelooflike verhale van hoe padvarke se manier van bestuur soos ‘n seer duim uitstaan.

Baie motoriste durf die lang pad met onpadwaardige voertuie aan soos motors, taxi’s en selfs busse met gladde bande.

Daar is egter ook elders oorweldigende bewyse dat veldtogte, met wetstoepassing en ander aksies, deurlopend gevoer moet word. ‘n Nederlandse ondersoek toon dat daar ‘n regstreekse verband is tussen herhaalde oortredings en die kanse om ongelukke te maak. Vir nege boetes is die kans tien keer so groot om ’n ongeluk te maak as net vir een boete. By 17 boetes is die kans ’n 100 keer groter. Die Nederlandse studie word as baie verteenwoordigend beskou omdat Nederland die grootste aantal “flitspale” tot verhouding van die bevolking het.

In Suid-Afrika is daar ‘n regstreekse verband tussen die getal noodlottige ongelukke per 100 000 per provinsie, en die hoeveelheid motoriste per 100 000 van die bevolking wat vir dronkbestuur aangekeer word. Daar  is ‘n ongelooflik dispariteit tussen wetstoepassing vir dronkbestuur tussen provinsies, met die Wes-Kaap waar die aankeerkoers meer as 330 per 100 000 van die bevolking is, en Limpopo met ‘n aankeerkoers van 47,5 per 100 000 per jaar is die twee uiterstes. Volgens die PVBK speel alkohol en ander middels in sowat ‘n kwart van die noodlottige ongelukke ‘n rol, hoewel dit nie by al die noodlottige ongelukke getoets word nie. Logies sou die aantal noodlottige ongelukke per 100 000 in Limpopo waarskynlik hoër wees as in  die Wes-Kaap. Dit korreleer ook met die twee provinsies se verhouding tussen voertuie en noodlottige ongelukke, soos op die PVBK se grafiek hierby gesien kan word.

Die publiek se padgedrag is ook een van die velde waarna sosioloë kyk, onder meer weens die verskynsel van anomie. Dit word omskryf as ’n toestand van wetteloosheid voortspruitend uit ’n gebrek aan maatskaplike norme. Dit beskryf die verbrokkeling van die maatskaplike bande tussen mense. Dit beskryf ook ’n gevoel van vervreemding voortspruitend uit die gevoel van doelloosheid. Dit dui op ’n gebrek aan etiek of etiese kodes. Ongehoorsaamheid, in hierdie konteks, word beskryf as die gemeenskap se morele en burgerlike reaksie op anomie deur die owerheid. Die voorbeeld wat die politieke sosioloog prof. Andries Bezuidenhout hiervoor gee, is dat pres. Jacob Zuma, destyds adjunkpresident, hoof van die land se formele herlewingsaksie was, maar self van verkragting aangekla is. Meer onlangs is berig hoe Bloemfonteinse motoriste eenvoudig moes padgee as die president tydens die ANC-kongres ‘n uiltjie wou gaan knip, en sy kavalkade teen hoë spoed deur die verkeer gejaag het.

Dit is nie net die blouligbendes wat ‘n probleem skep nie. Dit geld egter ook ander vlakke. ‘n Onderwyseres wat woes deur die verkeer vleg onderweg skool toe, en ook die skoolterrein injaag waar die skoliere rondloop, stel ‘n baie swak voorbeeld.

Ja, dit is ‘n deel van die land se motoriste wat die land faal, en dit is nodig om hulle deurlopend óf reg, óf weg van die pad te kry. Geen strategie gaan egter werk as dit bloot simptomaties aangepak word nie, en ‘n omvattende taak lê voor – een waar – van leiers tot opvoeders, ook ‘n voorbeeld stel vir klein ogies wat van jongs af deur ander se voorbeelde gevorm word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Naas Scholtz ·

Daar is so baie wat gesê en gedoen kan word!
1 Verkeersowerhede kan weer ‘n wetstoepassings funksie kry. Tans is die Metropolisie net stedelike terroriste en lasposte wat hulleself grotendeels toespits op afpersing, dikwils wrede rassistiese aanvallers wat onskuldige, veral blanke vroulike motoriste, ‘harass’, terwyl hulle wettelose taxibestuurders bystaan. As ons weer mense in daardie poste kan kry en van die rassistiese onmense ontslae raak, kan daar dalk iets aan gedoen word. Maar die verotting is baie diep: Dit begin deurdat straf in skole afgeskaf is en geen dissipline by enige instansie aangeleer en afgedwing mag word nie. Ons benodig ‘n totale kwantumsprong, ‘n ommekeer, ‘n revolusie!
2 Daar is geen vrees vir enige konsekwensies by bestuurders nie. Ook nie by ander misdadigers nie. Burry Stander se moordenaar moet gevind en tereggestel word. Punt. So ook ander moordenaars. Dit is nou alombekend dat moordenaars na hulle tronkstraf net weer moor en roof. Kom ons stop dit. Hang hulle!
3 Vervalsers van bestuurslisensies en omgekoopte verkeersbeamptes wat vals lisensies uitreik aan persone wat duidelik nie kan bestuur nie, moet baie swaar gestraf word, minimum 10 jaar tronkstraf, en as hy kan verbind word met ‘n pad moordenaar moet hy saam met die moordenaar tereg staan en gehang word by skuldig bevinding.
4 Ek het geen probleem met swart regstoepassers en swart regters ens. nie, Maar ek het ‘n ernstige probleem met die bevordering van duidelik onbevoegde swart mense net om seker sogenaamde ongelykhede uit die weg te ruim. As belastingbetalers moet ons, swart en wit, saam staan en onbevoegdheid teestaan en uitroei.

So kan mens seker vir ure aangaan, maar daars niemand wat luister nie…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.