Nuuskommentaar: Patetiese kommunikasie teen druktyd

 

Oud-president Nelson Mandela

Gebruik die woorde Madiba of Mandela, en die oë van die wêreld is op jou. Dit was nou weer die geval met die Dakotaramp in die Drakensberge. Maar het die verantwoordelike owerhede verantwoordelik oor die kwessie gekommunikeer?

“Teen druktyd het die lugmag, ondanks herhaalde navrae die afgelope week, nie kommentaar oor sy planne gelewer nie.”

Dié aanhaling uit Die Burger het nié betrekking op die lugramp vroeër die week nie, maar handel oor die lot van Denelwerknemers, 523 vliegtuigspesialiste, nadat die lugmag ‘n kontrak met Denel gekanselleer het.

Dit is ontstellend om die woorde “teen druktyd” (die moderne weergawe van “ter perse gaan”) as soekterm in enige van die Afrikaanse koerante se elektroniese argiewe in te tik, en dan te kyk hoeveel keer per maand dié woorde betrekking het op gevalle waar staatsinstellings vir kommentaar genader is oor sake wat werklik in openbare belang is. Tot vyf keer per maand is niks vreemds nie. Dis afgesien van “geen reaksie na tot vyf stemposboodskappe” en ander maniere waarop die media soos ‘n stopstraat geïgnoreer is nie.

En Suid-Afrikaners plaas ‘n hoë premie daarop om te weet, soos die aanwys van die Right2Know campaignas nuusmaker van die jaar.

Daar is erger gevalle, soos as die kommunikasiehoof van ‘n universiteit wat ‘n redakteur bloot oor ‘n medianavraag, laat staan nog die publikasie van enige inligting, met prokureurs en die onttrekking van advertensies dreig. Dieselfde redakteur se vrou is deur ‘n onderwyser gedreig na die koerant nog net by die skoolhoof navraag probeer doen het oor inligting wat uiteindelik weens die onbenulligheid daarvan nie gepubliseer is nie.

Dit lyk soms of openbare instellings kommunikasiepersoneel ten duurste aanhou om nié te kommunikeer nie, en eerder as die eerste linie te dien om te keer dat inligting die media haal. En dan die vermetelheid aan die dag te lê om hul kommunikasiekomponente die naam van strategiese kommunikasie te gee.

Dit is egter net ‘n halwe waarheid. Byna alle instansies verstaan vandag die belangrikheid van kommunikasie. ‘n Paar dekades gelede, toe die Boerestaat Party (sic) nog gereeld in die nuus was, het ‘n koerantredakteur geskryf dat ‘n persoon net ‘n tikmasjien en ‘n faksmasjien kan hê, dan kan hy as politieke party funksioneer deur die mediadekking wat hy genereer. Vandag maak rekenaars en die internet dit net soveel makliker. Gevalle kom selfs voor waar klein Suid-Afrikaanse partye gereeld die buitelandse media haal terwyl sekere groot plaaslike koerante hulle ignoreer.

In akademiese taal word hierdie mediadekking hiperbolisering genoem, na aanleiding van die skerp stygende kurwe van hiperbole.

Wyle minister Blaar Coetzee het gesê vir ‘n politieke party is daar geen slegte nuus nie, net nuus, en partye floreer op nuus. Dit verklaar miskien ten dele hoekom pres. Jacob Zuma na vragte negatiewe beriggewing steeds die gunsteling is om die einde van die jaar vir nog ‘n termyn as president van die ANC herkies te word, en sodoende nog ‘n termyn as president van die land sal dien. As “dien” die regte woord is. Dit ten spyte van die feit dat die kop in baie kringe in ongeloof geskud word, met ‘n onlangse voorbeeld waar die Financial Mail se redakteur, Barney Mthombothi die vraag vra: “Kan ons nog sewe Zumajare oorleef.”

Tim du Plessis, koeranthoof van Media 24, sluit hierby aan onder die opskrif, Heelpad ondertoe met ANC en soos Mthombothi argumenteer die ANC het van sy ideale getransformeer tot ‘n voertrog vir begunstigdes, (ten koste van die armes).

Trouens, uit ANC / regeringskringe is al dikwels gekla dat die media op die negatiewe fokus, en te min doen om die regering se prestasies te belig. Daar is selfs aangekondig dat die staat sy eie koerant sou begin, en gedreig dat die staat meer selektief met die uitdeel van sy betaalde advertensies te werk sou gaan.

Dit sou ‘n verhandeling verg om selfs opsommend te stel hoekom die ANC, en sekere ander politieke partye, nié optimaal kommunikeer nie, maar van die belangrikste punte is:

          Mediakommunikasie is net ‘n onderdeel van mediaverhoudings. Gereelde persoonlike kommunikasie skakel misverstande uit, sonder om die integriteit van die media vir begunstigde beriggewing in die gesig te vat. Maar die media kan nie net mooiweersvriende, en andersins “die sensasiesoekende vyand” wees nie.

          Ken ook die media. ‘n Groot deel van die media is nou gemeenskapsmedia, waarvan baie nie ‘n eie nuusdiens kan bekostig nie, laat staan nog iemand wat berigte en mediaverklarings na daardie koerant of radiostasie se gebruikstaal kan vertaal. Selfs dienste wat volledige nuusbulletins aan gemeenskapsradiostasies voorsien, het beperkte tyd om vertaalwerk ook te doen. Partye, soos die ANC wat slegs in Engels met mediaverklarings kommunikeer, moet dan, om ‘n ander groot woord te gebruik, groot mortaliteit van sy pennevrug verwag. Hierteenoor “baljaar” klein politieke partye oor gemeenskapsradiostasies omdat hulle die media beter verstaan, en neutraliseer so die skade omdat sekere groot media hulle ignoreer.

          ‘n Baie klein persentasie van die media kan vandag nog bekostig om landswyd mediakonferensies by te woon; en ja, sommige partye dooi oor dié uithanggeleenthede wat dikwels laat begin wanneer die verslaggewer al lankal terug op kantoor moes wees. En dan word “mediapakette” in all English uitgedeel wat beteken iemand moet gaan oortik, en dit dan noodwendig korter gaan maak.

Behoorlike mediakommunikasie het eers baie laat tot die Britse politiek gekom. Dit sou ironies die Konserwatiewe Party, toe onder leiding van ‘n betreklik jeugdige Margaret Thatcher, wees wat deur professionele mediakundiges in te span, aan bewind gekom en die wêreld se voorblaaie beset het. Ander partye het nog stiff upper lip van die standpunt uitgegaan dat die parlementslede self dié meesterkommunikators is agter wie die media aanhardloop, toe sit hulle op straat.

Die lomp wyse waarop die Lugmag oor die Dakota-ongeluk gekommunikeer het, het Suid-Afrika se beeld geskaad. Plaaslike media se bespiegeling dat die vliegtuig ‘n span medici na oud-president Nelson Mandela vervoer het, het ‘n woord op die media oorsee se radarskerms laat beland wat dadelik hul aandag getrek het – Madiba. Baie gou het berigte oorsee gelui daar was so ‘n span aan boord, sonder om te meld dat daar net afgelei kan word dat daar so ‘n span na Mandela geneem is. Ook die Nederlandse koerant wat onlangs as Europa se beste koerant aangewys is, het berig dat die mediese span aan boord was.

In die mededingende mediawêreld is daar selde tyd vir wag vir burokrate om hul sensuurwerk te doen voor iets uitgereik word, en dan lyk “teen druktyd nog nie gereageer nie” onvars. Bykans elke minuut sak ‘n koerant iewers in die wêreld, maar in die elektroniese era word baie koerante se nuuswebwerwe 24 uur per dag bygehou.

Miskien moet die openbare sektor ook ‘n slag gaan kyk wat die mees basiese definisie is van kommunikasieis: die oordrag van inligting tot veralgemening van begrip.

Hierna kan ‘n mens eers begin kyk na begrippe soos strategiese kommunikasie, oorredingskommunikasie, reklame en bemarking, en o ja, doeltreffende kommunikasie. Om kader te wees is bloot die plaaslike weergawe van stiff upper lip. Dit werk nie.

Nie net die openbare sektor het huiswerk nie. Hoe lank gaan mense ‘n koerant lees wat ‘n mediaverklaring plaas wat soos volg lui?: “Die Mampoer Cheetahs speel môre weer op sy tuisveld, Bierpark, met sy staatmakerhaker, Baksteen Brits, teen die sterk span van die Witblits Blou Bulle. Die Mampoer Cheetahs het verlede week op Brandy & Cokepark teen die Broeklêks Leeus gesukkel toe Baksteen voor rustyd deur die Band Aid mediese span van die veld gedra is.”

Veral as dié borge nie in die media adverteer van wie verwag word om die berigte te dra nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae