Nuuskommentaar: Periskoop uit die modder

Jare gelede bevind ‘n gesinnetjie uit die ou Transvaal hulle een nag in die Outeniekwapas onderweg see toe, toe digte mis hulle oorval. Die hoof des huises kruie letterlik van katogie tot katogie, toe ‘n motor skielik by hulle verby woerts … iemand wat duidelik die wêreld ken.

Die Trônsvôlers, al heel dag op die pad en ‘n paar wie se nood al begin knyp, skraap die karretjie, en bly op sy stert. Skielik is dit net remligte en die voorste karretjie gaan staan doodstil, die agterste bestuurder rem dat die padkos-toebroodjies soos rotstekeninge teen die voorruit vas skiet … en doef.

Die binnelander vlieg uit en wil die voorste bestuurder net bymekaarmaak: “Vir wat stop jy so skielik!”

“Ek móés,” verweer die mannetjie. “Ek het so na ek kon aan die agterste muur van my motorhuis gestop.”

Elke land het meningsvormers wat op die oog af nie net die vermoë het om raak te vat wanneer hy of sy die werklikheid waarneem nie, maar dit gebalanseerd uiteensit en met goedberedeneerde advies ‘n pad vorentoe aandui. Hulle het ‘n groter invloed op die openbare mening as ander mense, terwyl hulle ook maar voete van klei het.

Veral diktatoriale regerings probeer hul eie weergawe van die werklikheid skep, en vir hulle is onafhanklike meningsvormers ‘n doring in die vlees. Onlangs het Dolma Kyab, met die skrywersnaam Lobsang Kelsang Gyatso, ‘n Tibettaanse skrywer, ‘n eerbewys van die Chinese PEN-beweging ontvang. China is nie beïndruk nie, want Kyab dien meer as ‘n dekade se gevangenisstraf uit.

Die eentonige opdis van dieselfde “werklikhede” deur burgers van Noord-Korea, Assad-ondersteuners en talle ander voorbeelde, is reeds goed bekend. Soms span hierdie lande wat nie weet wat die term “persvryheid” beteken nie saam om internasionale konferensies oor “persvryheid” te behou, en nooi nogal redakteurs uit lande mét persvryheid om sonder spreekbeurte na lang voordragte van burokrate en Hansie-my-knegte te gaan luister.

Hierdie diktatoriale regerings probeer volkome beheer oor die media verkry, soos ook oor die inhoud van skoolleerplanne en veral die vak geskiedenis word erg gedokter.

Die “probleem” is dat dit bitter moeilik is om alles so volkome te beheer dat daar nie “dissidente”-weergawes van die werklikheid ontwikkel nie. Soms, soos met die Israels-Palestynse kwessie, vorm botsende persepsies oor dieselfde werklikhede by naasliggende gemeenskappe wat die potensiaal het om die wêreldgemeenskap te verdeel, maar soms gebeur dit in ‘n land self, soos nou in Sirië, en onlangs nog duidelik met die Arabiese domino-revolusie. In Egipte is selfs probeer om die internet te sluit om te keer dat die bevolking “ander idees” kry, maar oor die algemeen het die internet hom nie laat stuit nie. Nou het die nuwe Egiptiese president, Mohammed Moersi ‘n moersi probleem omdat hy die bevolking se vermoë om onafhanklike en alternatiewe denke te ontwikkel onderskat het.

In Suid-Afrika is veral sedert die bewindstyd van pres. Thabo Mbeki probeer om by Suid-Afrikaners ‘n Afrika-visie te ontwikkel. Oor presies hoeveel dit met ‘n Afrikavisie te make het, of eerder ‘n uitbreiding is van die plaaslike alternatiewe werklikheid wat tydens die vorige bedeling in Suid-Afrika ontwikkel het, sal die geskiedenis eendag oordeel. Dit is egter reeds voldoende om te sê dat dit veral met brandpunte duidelik geword het dat die Noord-Afrikaanse lande eerder ‘n pan-Arabiese visie as ‘n Afrika-visie het, of dat Wes-Afrikaanse lande onder die vaandel van Ekowas anders dink as die SAOG, en dat die voormalige Franse kolonies en protektorate ‘n baie ander beskouing het as die state van voormalige Britse kolonies. Dit het baie duidelik geblyk uit die pogings wat Suid-Afrika moes insit om dr. Nkosazana Dlamini-Zuma tot hoof van die Afrikakommissie verkies te kry.

Daar is geen twyfel nie dat daar hard in Suid-Afrika probeer word om ‘n eenvormige Suid-Afrikaanse werklikheid te skep, en wat die werklike werklikheid is, is kwalik ter sake. Die vasberadenheid waarmee die snoerwet gedryf word sodat dit sterker geldigheid het as die wet op toegang tot inligting, is maar een voorbeeld.

In sommige opsigte werk die herskep van die werklikheid skynbaar. Uit die meesterverhandeling van die Matie, Charl Swart, blyk dit hoe ‘n toenemende aantal wit- en bruin respondente ook begin glo wit boere het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel.

Die werklike werklikheid is egter dat dit oor die algemeen polarisasie verdiep en verskans. Dit is net nie moontlik om inligting so volledig te beheer dat dit ‘n tipe Noord-Koreaanse model skep nie. Nie dat nie probeer word nie. Dit wil, na aanleiding van ‘n berig wat Sapa gister uitgestuur het, lyk of daar ‘n redaksionele opstand onder professionele joernaliste van die SAUK was oor wat ‘n baie opsigtelike poging was om pres. Jacob Zuma as geskikte kandidaat vir herverkiesing voor te hou. Dit het egter erge nuusmanipulasie behels.

Terwyl die SAUK nie sommer spontaan deur Ikosa tot orde geroep sal word nie, is Radio Pretoria aangesê om ‘n hele aantal senders te sluit – wat eers in die hof gestuit is.

Dit is baie moeiliker om deur ‘n periskoop wat bo die modder van  werklikheidsvertroebeling uitsteek ‘n beeld van die werklikheid te kry as wat dit op die oog af klink. Behalwe geheimhouding en werklikheidsmanipulasie is daar kwessies soos eie subjektiwiteit, politieke korrektheid, vaardigheidsverliese, beperkte plasingsruimte, ‘n nuwe generasie “nuuskeurders” wat reeds werklikheidsgetransformeer is en die politieke agendas van die eienaars van publikasies.

‘n Joernalis word met ‘n ongelooflike spektrum kommunikasie van politieke partye gebombardeer, waarvan baie uiters professioneel is, en die verlies van objektiwiteit is ‘n alledaagse verskynsel.

‘n Groot plaaslike koerant het sy mediagroep se grootbaas enkele jare gelede aangehaal waar hy sy kommer oor die opkoms van gemeenskapsmedia uitgespreek het omdat dit tot ‘n diversifikasie van oortuigings, eerder as kohesie lei, terwyl Verslaggewers Sonder Grense juis gedagte-diversifikasie as norm vir persvryheid stel. ‘n Onafhanklike nuusverspreider soos Penorent-nuus, wat volledige Afrikaanse nuusbulletins aan veral gemeenskapsradiostasies voorsien, tel onder die min instellings wat werklik die diversifikasie reflekteer, en instansies wat erkenning aan bydraes tot Afrikaans lewer kan gerus hier loer wanneer weer pluimpies – of veertjies – uitgedeel word.

Om ‘n professionele aktualiteitspraktisyn te wees en te bly, is harde werk. Gelukkig is daar nog sulke aktualiteitspraktisyns wat in die hoofstroommedia erkenning kry, en hul werk staan uit; of dit nou in die vorm van rubrieke onder hul eie name, of hoofartikels en rubrieke onder skuilname is, hul handtekening van gehalte is tussen die lyne duidelik herkenbaar.

En op hierdie beredeneerde objektiwiteit kan ‘n land maar sy toekoms bou. Met die hulp van Bo.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae