Nuuskommentaar: Pippie en die behoefte aan goeie nuus

Pippie Kruger voordat sy erg verbrand het

Pippie Kruger en haar nuwe, gekloonde vel het die verbeelding van baie in Suid-Afrika aangegryp.

Dié meesleuring is vir die mense van ‘n land goeie nuus, want dit wys dat daar in baie mense se borskas steeds harte klop. Dit is daarom ook nie vreemd dat na tornados die naweek dood en verwoesting gesaai het, hulp van wyd en syd instroom nie.

Maroela Media was betrokke by ‘n projek om ‘n rekenaarkamer vir ‘n behoeftige skool in te rig en toe te rus. By gewers en ontvangers het menige harte warm geklop.

Te midde van oorloë en gerugte van oorloë het die mens steeds die behoefte om nie ‘n afgestompte mens te wees nie. So ‘n uitreik maak fisies ‘n klein verskil, want in Suid-Afrika is daar baie Pippies uit die openbare oog, is daar baie mense wat daagliks om ander redes die dakke oor hul koppe kwyt is, maar in die kollektiewe gemoed skep dit steeds die vreugde dat dit saliger is om te gee as te ontvang.

Vandag is dit groot nuus in Nederland dat klein Alexia sewe jaar oud word. Alexia is die derde in lyn van troonopvolging, van ‘n koningshuis wat grootliks seremonieel is. Maar periodiek is die oë op die doen en late van die Huis van Oranje gevestig, en is die belangrikste taak van die koningshuis om vir die Nederlanders ‘n alternatiewe wêreld te skep as dit waarin hulle daagliks leef. Vandag is Alexia die Nederlanders se Pippie. In hul leefwêreld lyk die Europese fiskale krisis donker, en het die politici hulle grootliks gefaal.

Dat  Europeërs wantrouig is oor die integriteit van politici is ook nie baie vreemd nie. ‘n Onlangse verslag van Transparency International het getoon dat die wetgewing in baie lande onvoldoende is om die koop van invloed hok te slaan, en dat korrupsieverklikkers in baie min Europese lande behoorlik beskerm word.

Die week word Suid-Afrika se toekoms tot ‘n groot mate in Midrand bepaal waar die ANC se beleidskongres gehou word. Uiters gevaarlike voorstelle, gedryf deur groot filiale, is op die agenda, en dwars oor die land heers groot kommer. Boonop was die Springbokke in die laaste toets gelukkig om met sukkelspel gelykop teen die bleekbene te speel, en het die Proteas vernederend aapstert by Zimbabwe gekry. In ‘n paar van die kerke sou die Inkwisisie kon gaan kers opsteek oor hoe om met mense te werk wat anders as hulself dink.

In plaas van goeie nuus verneem Suid-Afrikaners van Limpopo se voortslepende boekekrisis, en ‘n minister wat weier om, soos haar amp vereis, verantwoordelikheid te aanvaar.

Suid-Afrika is geen uitsondering nie. Die oë van die wêreld is vandag op Navo se vergadering nadat een van sy lidlande, Turkye, gevra het om die neerskiet van een van sy vliegtuie deur Sirië te bespreek. Gaan Turkye militêre strafmaatreëls teen Sirië, wat reeds erg onder geweld deurloop, optree? Weer eens politici wat bydra daartoe dat die wêreld se vertroue in politici nie te waffers is nie. En ver daarvandaan grom Brittanje en Argentinië vir mekaar oor die Falklandeilande, en beide word verdink daarvan dat dit eintlik om die moontlikheid van olie onder die see handel.

Dis nog vroeg, maar die nuutverkose Egiptiese president, Mohamed Morsi, doen en sê tot dusver die regte ding. Hy het, soos hy beloof het, uit die Moslembroederskap bedank sodat sy hande los kan wees om in algemene belang te regeer. Beloftes word gemaak om van die diepgewortelde korrupsie in die land ontslae te raak, en die beloofde nasionale renaissance sal ook tot die voordeel van die Christene en vroue in die land wees.

Gegewe die radikale standpunte wat die Moslembroederskap nog tot betreklik onlangs gehuldig het, sal enige sprankie goeie nuus nou soos mooi musiek klink, maar die tyd sal leer of hierdie beloftes werklikheid sal word, en so sal bly. Die wêreld is slaggereed om die slegte nuus te glo, soos blyk uit ‘n nuusberig deur die Iranse nuusagentskap, Farsi, wat die wêreld ingestuur is. Hiervolgens sou Morsi kort na die aankondiging van sy oorwinning aan Farsi gesê het dat hy die balans in die Midde-Ooste wil herstel deur nouer bande met Iran aan te knoop, en oor die Camp David-ooreenkoms met Israel wil besin. Farsi is egter berug vir sy blatante propaganda, en selfs Iran wat ook nie juis bekend is vir suiwer omgaan met die waarheid nie, het die inhoud van Farsi se berig ontken. Maar die wêreld was gereed om so iets te glo.

Terwyl Morsi verklaar dat hy Egipte weer wil verenig, word aan die ander kant van die kontinent uitsprake gemaak en nie gerepudieer nie, wat polarisasie aanblaas. Word beleidsvoorstelle wat elders ter wêreld rampspoedig was, op die tafel geplaas om bespreek te word.

Dit is goed en mooi dat die land deur die verhaal van Pippie meegevoer word. Die werklike toets is dat dit ook moet geld wanneer dit nie as ‘n ontsnapping van die werklikheid daarbuite dien nie, maar omdat ons mense met Christelike deernis is, met ‘n hart vir dié wat hoop bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.