Nuuskommentaar: Pistorius vs Pote – SA-beeld weer geknou

Ao. Hilton Botha, die ondersoekbeampte wat van die Oscar Pistorius-saak verwyder is. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die borgtogaansoek van Oscar Pistorius trek steeds enorme internasionale en nasionale media en openbare aandag.

Dit is nie heeltemal uniek in die wêreld nie, met onder meer die Amerikaanse OJ Simpson-saak wat baie ooreenkomste het en in veral in die Amerikaanse media weer opgerakel is om die “hype” in die Pistoriussaak meer woema te gee.

Daar is egter ook talle verskille. Die Simpson-saak het nie werklik die VSA se internasionale beeld beïnvloed nie.

Die jongste terugslag vir Suid-Afrika was toe dit aan die lig gekom het dat die ondersoekbeampte vir poging tot moord moet teregstaan. Ook in die kruisondervraging van die verdediging het die polisie se beeld ‘n knou weg. Hy is nou as ondersoekbeampte vervang.

Dat daar baie polisielede met, wel, “pote” van klei is, is ook onlangs in Maroela Media onder die loep geneem, met die rubriek  (Vrot)pote in die spervuur. Soos toe moet daar in dieselfde asem genoem word dat daar ook baie uitstekende polisielede is.

Brouwerk deur die polisie word ongelukkig te gereeld in hoëprofiel-sake soos die Inge Lotz-verhoor aan die kaak gestel. Maroela Media se nuustydlynstorie  oor dié mooi, slim Matie is nog onvoltooi. Een van die redes is dat die destydse beskuldigde, Fred van Vyver, se suksesvolle siviele eis teen die polisie in  Maart vanjaar ‘n draai in die appèlhof maak, ná die polisie appèl aangeteken het. Dié appèl sou aanvanklik al verlede jaar aangehoor gewees het, maar gaan nou midde-in die Pistoriussaak weer aandag trek.

Baie van die faktore wat nou tot die verhoogde belangstelling wek, het niks regstreeks met die saak te make nie. Pistorius het byvoorbeeld geen aandeel daarin dat ‘n regeringskommissie onlangs bevind het dat middelmisbruik en knoeiery wyd in Australiese sport voorkom nie. Maar, dit, saam met die Lance Armstrong-debakel en die lywige Fifa-verslag oor wedstrydknoeiery (wat ook Suid-Afrika betrek) en middelmisbruik, asook die Wit Buffel se omstrede geveg teen Sonny Bill Williams het die wêreld se aandag skerp op veral beroepsport gerig. En dit is waar Pistorius hom bevind.

Die voorval het ook plaasgevind in die maand waar die fokus skerp gerig word op geweld teen vroue en kinders, en boonop Valentynsdag. Verskeie Suid-Afrikaanse verkragtingsmoorde van jong meisies het die aandag – ook internasionaal – getrek in ‘n land wat reeds die hoogste verkragtingskoers ter wêreld het, in ‘n land waar die president self suksesvol owerspel as verweer teen ‘n klag van verkragting gebruik het, en die land boonop ‘n moordkoers het wat onder die hoogstes ter wêreld tel.

Die slagoffer in die saak, Reeva Steenkamp, was in eie reg ‘n bekende en rolmodel, en die voorval het boonop saamgeval met die eerste uitsending van ‘n realiteitsreeks waarin Reeva een van die deelnemers was.

‘n Fokus word deurlopend op persone met gestremdhede geplaas. Vanjaar is juis die Hervormde Kerk se jaar vir persone met gestremdhede. Oscar se roem en welvaart is aan sy status as Paralimpiese atleet te danke, wat hy fisies sodanig oorkom het dat hy ook aan byeenkomste, en selfs die Olimpiese Spele vir “normale” atlete kon deelneem.

Oscar het ook geen aandeel daarin dat Suid-Afrika op die oomblik deur ‘n vloedgolf slegte nuus getref word nie. Die land gaan flink die kreeftegang op bykans enige indeks, waaronder die korrupsiepersepsie-indeks, die persvryheidsindeks, vredesindeks wat onder meer die vlakke van geweldsmisdaad in die land meet, en die indeks vir mislukte state. Trouens, die land het onlangs op een van die sogenaamde indekse vir miserabele state Griekeland om die “top-posisie” uitgestof. Die president, wie se staatsrede ook op Valentynsdag voorgelees is, het eerder as om te inspireer en hoop te bring soos die bedoeling is, sake net verder vertroebel.

Die uitdrukking lei dat iemand dikwels in die sop beland of in ‘n slegte lig gestel word omdat hy (toevallig) op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was. Die Pistorius-saak het al hierdie elemente.

Dié beginsel is pas weer in ‘n verslag van die Amerikaanse Geologiese Opname-instelling, die USGS uitgelig. Dié verslag meld dat meer mense in die toekoms in aardbewingsrampe – wat 50 000 of meer lewens eis – gaan sterf as voorheen. Die rede is nié dat meer hewige aardbewings gaan voorkom nie, maar dat bevolkingstoenames ook tot hoër konsentrasies mense in seismiese sensitiewe gebiede lei. Sedert die begin van die 21ste eeu het sulke rampspoedige aardbewings reeds vier keer voorgekom, waarvan twee, die een in Sumatra en die een in Haïti, elk na raming meer as 200 000 lewens geëis het. Duisende van die slagoffers, waaronder baie kinders, het self bloot geen aandeel gehad in die feit dat hulle hul op die “verkeerde tyd op die verkeerde plek” bevind het nie.

Net soos daar veel gedoen kan word om aardbewingsrampte te temper, soos die bou van aardbewingbestande strukture soos wat die USGS uitwys, so kan Suid-Afrika se beeldskade so ver as moontlik getemper word soos om foute tot die minimum te beperk.

‘n Goeie onlangse voorbeeld was die besluit van die Vervolgingsgesag om die gearresteerdes na die Marikana-slagting op ‘n omstrede en raar regsbeginsel weens die moord op hul mede-betogers aan te kla. Die land se beeld, reeds geknou deur die Sharpeville-vergelyking, is toe weens die opdiep van die Upington-saak waat aan die “apartheidsregime” gekoppel is vir ‘n ses geslaan.

Dié oë van die wêreld neem nou dooierus op Suid-Afrika waar die duisendste renoster vanjaar pas gestroop is.

Nou kan die land nie foute bekostig nie… in almal se belang.

Belangrike nuus elders ter wêreld het nie opgehou nie. Die wêreld het pas ‘n botsing met ‘n asteroïde rakelings vrygespring en ‘n meteoriet van ‘n geraamde 17 meter het oor Rusland ontplof. Tifoïde het onder Siriese vlugtelinge van ‘n burgeroorlog wat daagliks lewens eis, uitgebreek, en cholera onder ontworteldes in Haïti. Die Australiese 4 x 100 meter vryslagspan het erken hulle het die verbode middel Stilnox voor die Olimpiese Spele in Londen gebruik. Griekeland het in ‘n week ses aardbewings beleef, en Japan meer as ‘n dosyn. Die eeulange tergende geheim oor die herkoms van die Etruskers is oplaas ontrafel, en Curiosity het sy eerste suksesvolle boorwerk in ‘n Marsrots voltooi.

Hiervan word kwalik deur die media gerapporteer, en nog minder deur die lesers en kykers opgeraap, want die oë is bankvas op elke asemteug van die Oscar Pistorius-saak gerig. En dit is nou maar nog die borgtogaansoek…

Nou moet elke Suid-Afrikaner ‘n ambassadeur vir die land wees, en elke Afrikaner vir die beeld van die Afrikaner.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jennifer Chatburn ·

Na 21 jaar het die polisie geen poging aangewend om in my pa se moordsaak, (toe sy vrou hom met n kruisboog geskiet het terwyl hy geslaap het), verdere leidrade op te volg om die medepligtige op te spoor nie. Hulle het vir hul eie redes besluit om daardie persoon te beskerm. Daar is met die jare heelwat versoeke gestuur om leidrade op te volg, sonder enige sukses. Die medepligtige loop dus steeds vry rond, al het ons ons vermoedens en verklarings van mense wat ook weet wie dit is.

Deur die beskuldige te beskerm is nie goed nie, maar dit is onregverdig om n beskuldigde skuldig of onskuldig te bevind, voor al die forensiese feite deeglik bekend is. Dit is hartseer om te sien hoe ons mense reageer op die storie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.