Nuuskommentaar: Plaasaanvalle en die trauma

Martin Coetsee (66)

Plaasaanvalle, en so ook plaasmoorde, is in Suid-Afrika selde lank uit die nuus.

Pas het die nuus bekend geword dat die moordenaars van die bejaarde Fourie-egpaar van Trompsburg lewenslank gaan uitdien vir die onbeskryflike wrede plaasmoorde, of ‘n bejaarde boer van Ixopo word kort voor sy aftrede vermoor, en ‘n bejaarde is op sy plaas by Makwassie aangeval  en wreed aangerand.

Kraal Uitgewers se boeke, Treurgrond en sy opvolger (wat vandag bekendgestel word), skep nie net ‘n kliniese beeld van plaasaanvalle in Suid-Afrika nie, maar gee ook die trauma weer wat oorlewendes en naasbestaandes beleef. Die wreedhede waarmee sommige van die plaasaanvalle gepaard gaan, en die trauma wat dit oplewer is onbeskryflik en skokkend.

Dit is lank reeds bekend dat dié trauma nie as gewone trauma beskryf kan word nie, maar as viktimologie. Dit word onder meer beskryf as posttraumatiese woede wat nie weggaan nie, maar dit manifesteer ook in vrees wat nie weggaan nie, of ‘n blywende geknakte persoonlikheid. Dit word nie net deur die onbeskryflike wreedheid veroorsaak nie, maar onder meer die gevoel van isolasie, en blootgesteldheid, waarvan ‘n deel herlei kan word na die boodskap wat slagoffers of potensiële slagoffers kry dat die regering se beskermingsmagte hulle om politieke redes in die steek laat. Die slakkepas van die regering se uitrol van sy landelike beveiligingsplan dien as voorbeeld, en dit word weer vererger deur die boodskap wat uitgaan deur die regering se halsstarrige weiering om plaasaanvalle, ten spyte van klinkklare statistieke, tot prioriteitsmisdaad te verklaar.

In teendeel, daar is gedurig verbale aanvalle op boere vanuit die regering en sy alliansievennote wat dikwels die indruk skep dat die blote feite om boer te wees reeds van jou ‘n landsvyand of mishandelaar / uitbuiter van plaaswerkers maak.

Die verwoestende sielkundige impak gaan nie oral ongesiens verby nie. Onder die projekte is ‘n interkerklike ondersteuningskamp vir die naasbestaandes van slagoffers wat van 9 – 11 Augustus by die Magaliesberg-kampterrein aangebied word. Dit is die inisiatief van Elize Perrin, suster van Mauritz Oberholzer. Hy is in September 2012 in plaasaanval naby Brits vermoor. (Besonderhede aan die einde van die rubriek).

Die blote feit dat instansies soos AfriForum besondere moeite doen om die regering tot ander insigte te dwing, help reeds om die persepsie van isolasie teen te werk, en die trauma ligter te maak. Dit is jammer dat die media nie ook meer aandag daaraan geskenk het dat die UNPO (Unrepresented Nations and Peoples’ Organisation) die kwessie pertinent opgeneem het nie, omdat die verdiende aandag ook hierdie isolasie-persepsie sou help teenwerk.

Hoewel politieke partye, selfs die kleintjies, byna gewaarborg is om publisiteit te kry wanneer hulle op plaasmoorde reageer, is daar dikwels ‘n aardige swye van partye hieroor. Die leier van een van die parlementêre partye het selfs geweier om ‘n reeds-voorbereide nuusverklaring oor ‘n plaasmoord in Noordwes uit te reik “want dan sê die ANC ek is ‘n wit meeloper.” Hy het wel ingestem dat die destydse Wes-Kaapse leier van die party die verklaring onder daardie leier se naam uitreik.

Nog ‘n partyleier wat wel probeer om by te hou met verklarings omdat dit vir hom ‘n emosionele en beginselsaak is, het reeds opgemerk dat dit al hoe moeiliker word om nuwe woorde te vind om nie soos ‘n vasgehaakte plaat te klink nie. Een naweek moes ‘n nuusverklaring drie keer aangepas word soos daar nuwe plaasmoorde bygekom het voor die verklaring uitgereik kon word.

Dit is vreemd, en moontlik staan dit as aanklag teen die bekende letterkunde skrywers in Suid-Afrika dat dié kanker nog nie werklik deel van die letterkundige literatuur geword het nie. Minstens een bekroonde skryfster het verduidelik dat sy nie kan nie – haar eie ouers boer en die blote gedagte aan plaasaanvalle knap haar emosioneel.

Intussen word die verhaal wel analities geskryf in die boek sonder einde – Treurgrond, sy opvolger en toekomstige aanvullings. En die verhaal word in bloed op die grond geskryf, dit word in ‘n gedenkmuur by Nampo se plaas by Bothaville geskryf, en in die vorm van kruise teen ‘n koppie in Limpopo.

Interkerklik Ondersteuningskamp vir die naasbestaandes van slagoffers

9-11 Augustus by Magaliesberg-kampterrein (minder as uur van Johannesburg, Pretoria en Rustenburg). Inisiatief van Elize Perrin, suster van Mauritz Oberholzer (Hy is in September 2012 in plaasaanval naby Brits vermoor). Hooffasiliteerder: Ds Pieter Oberholzer, Weermagkapelaan en predikant van NG Kerk Groenkloof. Koste: R550 per persoon (akkommodasie, etes en konferensiefasiliteite). Bespreek by Elize by 072 600 5809 of [email protected] . Navrae oor inhoud van program aan Pieter by 082 332 5782 of [email protected]  (Uit die e-Hervormer van die NH Kerk)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.