Nuuskommentaar: Plaasmoorde en die tuisfront

In ‘n kritiese hoofartikel vra Die Burger harde vrae oor die teenwoordigheid van Suid-Afrikaanse troepe in die Kongo as deel van die VN se veiligheidsmag, Monusco. Die oostelike stad Goma het voor rebelle geval sonder dat die vredesmag ‘n vinger gelig het. Wat doen Suid-Afrika in sulke onmoontlike omstandighede daar? “Ons troepe – ’n paar is reeds gewond – het nie voldoende middele om hulself te beskerm nie, en hulle mag nie inmeng om gevegte te keer nie… Waar hewige gevegte woed, moet die VN besluit of dit die moeite werd is om in te gryp. Indien nie, kan die troepe netsowel heeltemal onttrek word.”

Terwyl Suid-Afrikaanse troepe oorsee, soos in die Soedan, diens doen, het die Solidariteitbeweging ‘n verslag  oor plaasmoorde bekend gestel. Van die land se voorste kundiges is by die saamstel van die verslag betrek, en die feite skreeu sy tragiese boodskap uit – plaasmoorde is dikwels wreder  as ander moorde, en die voorkoms van plaasmoorde per 100 000 van die bevolking is hoër as die land se gemiddeld.

Tog, klaarblyklik om politieke redes, skop die regering viervoet vas en weier om die probleem weer as prioriteitsmisdaad te verklaar.

Dit, terwyl Suid-Afrika ongeveer twee moorde per uur beleef, en Nederland ‘n moord ongeveer elke tweede dag.

Die bekendstelling van die verslag volg kort na nog ‘n plaasmoord in die Oos-Vrystaat wat veral in die Britse media neerslag gevind het. Die slagoffer, Chris Preece was oorspronklik van Brittanje, en die moord het neerslag gevind in onder meer The GuardianDaily Mail, The Telegraph en The Sun.

Dié soort reaksie volg elke keer as ‘n persoon met oorsese burgerskap deel van die land se plaasmoordstatistiek word, hetsy ‘n Belg, Nederlander, Kanadees, of ‘n Amerikaner wat die aanval ter nouer nood oorleef het toe hy erg beseer is.

Die skade aan die land is vanselfsprekend, en enige verantwoordelike regering sou, selfs al het hy nie ‘n flentertjie vir die boere omgegee nie, iets daadwerkliks doen om sulke vlae verdoemende beriggewing in die buiteland te voorkom. En dis nie net plaasmoorde wat veroorsaak dat Suid-Afrika oorsee met die teerkwas bygedam word nie. Skenkerlande is langlippie oor Nkandlagate. Die parlementêre ad hoc-komitee se aanvaarding van die teks van die Snoerwet op dieselfde dat as wat Verslaggewers sonder Grense sy veldtog, We fight censorship en ondersteunende  webwerf bekend gestel het, getuig van ongevoeligheid oor die impak wat swak tydsberekeing op die land se beeld kan hê.

Beriggewing oor landbouverwante aangeleenthede in die land is uiters subjektief, en dra min by tot die toepassing van ‘n holistiese benadering tot die probleem. Die een groep skrywers sal byna uitsluitlik fokus op die uiteindelike neerslag van die probleem – die aanvalle en moorde. Die ander groep swyg soos die graf oor hierdie grusame resultaat, en doop die pen in die gal oor plaastoestande. Volgens Media 24 se elektroniese argiewe het Zelda Jongbloed, wat gereeld oor plaastoestande skryf, nog net drie keer na plaasmoorde verwys, die laaste keer bykans ‘n dekade gelede.

Eensydige beriggewing dra nie by tot die vind van holistiese oplossings nie. Volstruispolitiek, soos deur die regering bedryf, dra niks by nie. Veralgemeende kritiek op boere verdiep die probleem. Die koestering van rassisme soos wat die ANC doen is petrol op die vuur. Die verstewiging van persepsies soos dat alle boere ryk is met kluise vol geld en gewere, dat boere eintlik swart mense se grond gesteel het, dat dit wat die vrot appels doen op alle boere van toepassing is – alles dra by tot ‘n klimaat wat gunstig is vir plaasaanvalle op boere wat met die beste veiligheidsmaatreëls wat hulle kan tref, tog nog kwesbaar is.

Kan die stedelike publiek hul die trauma indink van ‘n bejaarde boer van Vryheid wie se voetsole afgeskil is om te sê waar sy kluis is – iets wat hy nie gehad het nie?

Terwyl persepsies noodwendig aangepreek moet word, spreek die syfers vir hulself en moet behoorlike maatreëls getref word om gesinne op plase te beskerm. Terwyl die tuisfront noodwendig uit eie middele geskep moet word, kan ook nie toegelaat word dat die regering bloot daarmee wegkom nie. Nie met ‘n onafgedankte minister van landbou wat skynbaar dink die regering het  ‘n oorvloed geld vir luukses nie.

Hieroor het Vrystaat Landbou die regering reeds hof toe gesleep en ‘n skikking buite die hof bereik – wat maar weer verslons is tot die hofsaal weer begin wink het. Maar presies hoe ver moet ‘n regering sy demokratiese taak om in algemene belang te regeer versaak dat hy in die eerste plek hof toe gesleep moet word om sy grondwetlike pligte na te kom?

En al is grensbeveiliging opgeknap is Preece en sy vrou blykbaar deur aanvallers uit Lesotho oorval. Renosterstropers kom steeds oor die grens van Mosambiek die Krugerwildtuin in.

Terwyl die land hom die luukse veroorloof om sy soldate buite die grense aan te wend.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

nico prinsloo ·

dit is reg die boere slaap nie na 35 jaar is al die verlede van oorlog oopgkrap 300 man teen 6400 ons sal dit weer doen ek gee nie meer om wat die staat met my doen nie maar om vir my en my familie se selfbeskiking te baklei sal vir my n [email protected]@@rse plesier wees trots om wit te wees en definitief nie n banggat nie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.