Nuuskommentaar: Plaasmoorde, Te erg vir woorde

Terwyl die regering erg taai in die bek is om plaasmoorde konsekwent as euwel te erken en te veroordeel, vind diegene wat dit wel doen dit moeilik om elke keer woorde daarvoor te vind. Aan die een kant wil iemand wat die erns besef en deernis met die naasbestaandes en gemeenskap het, elke mediaverklaring en media-onderhoud die spesiale aandag verleen wat dit verdien, maar die woordeskat om elke plaasmoord sy eie unieke bewoording te kan gee is te beperk. Daar is net te veel sulke moorde. In die tydperk na pres. Jacob Zuma se staatsrede verlede jaar was daar vir ongeveer ‘n week gemiddeld een plaasmoord per dag.

Ten tweede laat die grusaamheid van die moorde die woorde in die verstand stol.

Ook Maroela het die kwessie al verskeie kere in besprekings onder die loep geneem. Hieronder tel die nuuskommentare, Die boer se *oer,  Misdaadstatistiek en persepsies daarvan, en  Plaasmoorde, volksmoord en jou vriende en Plaasmoorde, die onvoltooide boek . Maroela het lesers ook deurgaans met berigte op die hoogte gehou daarvan.

AfriForum, wat met die veldtog, “Stop die moorde” begin het, oorhandig vandag  ongeveer ʼn honderd Suid-Afrikaners wie se lewens deur plaasaanvalle verwoes is, se stories aan die minister van polisie, Nathi Mthethwa. Die slagoffers gaan van die minister eis om sy stilswye te verbreek deur plaasmoorde tot ʼn prioriteitsmisdaad te verklaar. Die briewebundel sal saam met AfriForum deur Belinda van Noord, wie se pa en broer die afgelope vakansie op hul plaas naby Brits vermoor is, oorhandig word. Dit bevat 80 gedrukte briewe, sowel as ʼn DVD waarop ongeveer 20 plaasmoordslagoffers hul boodskappe aan die minister oordra. Die slagoffers wat op die DVD verskyn, sluit Susan Nortje, suster van Wilna en tannie van klein Willemien Potgieter in.

‘n Paar dae tevore het AfriForum minister Nathi Mthethwa daarvan beskuldig dat sy stilswye aan aandadigheid grens. Verlede week het AfriForum ʼn klag by die Openbare Beskermer ingedien oor Mthethwa se onverantwoordelike hantering van die plaasmoordkrisis.

Volgens die TLU-SA se syfers was daar verlede jaar effens minder plaasmoorde as die vorige jaar se 52, maar plaasaanvalle en geweld tydens plaasaanvalle neem toe. TLU-SA sê dit lyk of dit met meer haat gepaard gaan. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het voor die Nederlandse parlementêre komitee oor buitelandse sake getuig  plaasmoorde gaan dikwels met besonder sadistiese geweld gepaard.

Dit is vir iemand wat al blootstelling aan ‘n plaasmoord, en van die gewelddadige plaasaanvalle gehad het, haas moeilik om te dink dat daar nog meer ruimte is om nog meer gewelddadig te wees.

Die jaar 2013 het nog skaars begin of een van die slagoffers van die rits aanvalle by Muderdrift sterf, en ‘n bejaarde egpaar is op ‘n plaas buite Parys vermoor. Volgens ProAgri was dit die vyfde aanval in die gebied sedert die begin van Desember. In een van die aanvalle is ‘n bejaarde boer, Jannie du Plessis, in die maag geskiet en het ‘n nier verloor terwyl se toestand kritiek was.

Terwyl instansies diep in hul woordeskat delf om genoeg woorde te vind om die euwel aan te spreek, duur plaasaanvalle steeds voort en is daar min of meer ‘n dawerende stilte uit regeringsgeledere daaroor – en ongelukkig ‘n hele aantal opposisiepartye ook.

Dit is so dat die regering nie sekere bevolkingsgroepe kan voortrek nie – hy is immers veronderstel om in almal se belang te regeer – maar “oorpresteer” te dikwels in die teenoorgestelde soos met rasbegunstigde aanstellings en bevorderings en SEB-maatreëls. Boonop dui syfers daarop dat die plaasmoordenaars ook nie dieselfde sentimente koester nie en dat die aantal boere en hul gesinslede wat vermoor word, pro rata hoër as die land se “gewone” moordkoers is. En dié is in elk geval onder die hoogstes ter wêreld.

Intussen toon die opvolgboek van Kraal-uitgewers, Treurgrond, dat plaasmoorde inderdaad ‘n onvoltooide boek sal wees. En die ink vertel ‘n verhaal wat te erg vir woorde is. ‘n Verhaal wat ook nie die kinders ontsien nie.

 
Lappop
Van onder die lyk
kruip die kind uit
Bebloed, waansinnig bang
Gryp haar lappop,
Geskeur met spierwit
watte wat by die borsie uitdop
Besete pluk en pluk
die watte uit die pop
Soos om die geskokte seer
uit haar eie borsie te skeur
syg sy
hartverskeur
tussen haar ouers
se lyke neer

 
Sprokie vir ‘n plaaskind
Slaap nou lekker sag my kind
Buite pluk saggies die wind
Voor die vensters is die tralies lekker yslik dik
Terwyl die staanhorlosie die nagure wegtik
Liewe Jesus is hier by jou grootman
Hy sal jou trou bewaar soos net Hy kan
Teddie en seekoei lê teenaan jou snoesig saam
Wagter en Bruno patrolleer die werf tesaam
Langsaan slaap pappa en mamma lig
Die baie gewere binne sig
Die tweerigtingradio altyd aan
Buite helder skyn die gele maan
Grootman, jy moet lekker slaap
More kom skeer hulle skaap
Dan moet jy kom help keer
En jou oorleefstryd leer
Slaap maar rustig Grootman (Uit: Plaasaanvalle, Te erg vir woorde  )

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

at moolman ·

Hoeveel moorde word deur ons buurstaat inwoners gepleeg,kan die vry toegang nie gestop word vir veiligheid van inwoners nii

Ebert Terblanche ·

Golda Meir, voormalige Eersteminister van Israel, skryf in haar outobiografie (“My Life”) dat die beweging vir ‘n Joodse staat gedryf is deur die besef dat hulle verdra word in die state waar hulle hulself as minderhede bevind het, maar nie gekoester is nie.

So is daar, terwyl sy as kind in Tsaristiese Rusland grootgeword het, nie staatsgeborgde geweld teen die Joodse minderheid gepleeg nie, maar hulle het selde hulp van die regering gekry wanneer hulle deur misdadigers van hul eiendom verjaag , aangerand of selfs vermoor is nie.

Met die onttrekking van Brittanje as mandaatowerheid in Palestina in 1948, het hierdie gedagte die Jode in Palestina gedryf om hul onafhanklikheid van Jordanië eensydig te verklaar en hul eie staat in die lewe te roep.

Later skryf Golda dat dit die regte besluit was, want toe Joodse burgerlikes op plase en dorpe deur Arabiese terroriste vanuit Egipte aangeval is, het die Israelse weermag valskermsoldate oor die grens gestuur om die terroriste te onderskep en tot verantwoording te bring.

Dít sê sy is die verskil tussen om deur ‘n ander regering verdra te word en om deur jou regering gekoester te word, want onder die regering van Jordanië, soos in Rusland, Duitsland, Nederland, Frankryk, Romenië, Turkye, Brittanje as mandaatregering en Yemen, sou daar eerder anderpad gekyk word as om ‘n minderheid teen die vergrype van ‘n meerderheid te beskerm.

Sou ‘n Afrikanerregering nie reeds lankal die plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad verklaar het nie? Daar kan geargumenteer word dat die Suid-Afrikaanse meerderheidsregering ten minste nalatig teenoor Afrikaners gestaan het toe hulle opgehou het om landsgrense te patrolleer, publieke onderwys in duie laat stort het en daarmee enige kans op billike vergoeding vir swartes beëindig het, onrealistiese verwagtinge geskep het, kommando’s ontbind het en die polisiediens tot oneffektiwiteit getransformeer het.

Word ons in Suid-Afrika verdra of gekoester?

Hoe lank sal ons daarmee verlief neem om slegs verdra te word, voordat ons in groot getalle self verantwoordelikheid vir ons toekoms begin opneem en vir onsself ‘n eie ruimte skep?

Dit is ‘n skande dat so baie Afrikaners op Orania neerkyk en weier om hulle te ondersteun, terwyl daardie pioniers hulleself afsloof, gewildheid, gemak en rykdom ontsê in ‘n poging om vir ons ‘n plek te skep waar ons gekoester word.

louis ·

Dis MK lede wat die aanvalle, moorde beplan en uitvoer. Die hoofdoel is om die boere (die Afrikaner) te forseer om die plase te verlaat. Die brutaliteit is ‘n bangmaak taktiek. Hulle wil vrees inboesem. Hulle kan nie die grond regverdig bekom nie, en ‘n verlate plaas se markwaarde tuimel (veral na ‘n aanval). Dis ook hoekom Ntetwa geweier het om die dokumente te ontvang. Wat hy nie weet nie kan nie teen hom gehou word nie – hulle was immers reeds deur ‘n WVK na 94, en hy weet dis sy voorland.

In sy geledere is daar ‘n doelbewuste poging om aanvalle, moorde op blankes toe te smeer / te ignoreer om ons volkie te demoraliseer / laat vlug.

Dis ook hoekom daar so groot media belangstelling is in bv die boeremag saak, daai ouens wat, nou in desember, in Bfn wou chaos saai, ens. Swart op wit geweld word afgewater, wit op swart geweld word opgeblaas. Die SAUK is die ANC se propaganda masjien en dis hier waar die nuus gefilter word. Hoekom word daar stakers vanaf die ooskaap ingery (en betaal) om in die weskaap te staak?

Ons redding le in die Here en opvoeding is een van die belangrikste instrumente om die massas se koppe te swaai. Ek bel gereeld SAFM (089 1104 207 / 8 / 9) en dan bring ek die tipe nuus onder hul aandag / vra ongemaklike vrae, ens.

Neem deel , my volk! Volg die sg “swart” radio stasies en bel in as daar programme is oor sake wat ons raak. Hoe meer mense dit doen hoe meer word die massas blootgestel aan ons kant van die saak. Want die media gaan dit NIE doen nie. Selfs RSG sny mens af as / weier om jou op die lug toe te laat as jy oor die goed wil praat! Nog ‘n bewys van die propaganda masjien!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.