Nuuskommentaar: Plaasmoorde, volksmoord en jou vriende

‘n Lid van die Europese parlement, Philip Claeys, het pas sanksies teen Suid-Afrika gevra om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om plaasmoorde hok te slaan. ‘n Regeringswoordvoerder het minagtend daarop reageer.

Ons kinders word van kleins af grootgemaak om tog  nie met die verkeerde kinders bevriend te raak nie. Beland ‘n kind in die sop omdat hy by die skool gerook het, is dit die “verkeerde vriende” se skuld. Beland die jongeling in die web van dwelmverslawing, is dit die maatjies se skuld, raak sy meisie in die ander tyd, is dit die verkeerde meisies wat die onweerstaanbare versoekings op sy pad gebring het…

Dit is klaarblyklik nodig om druk, en ook buitelandse druk op die regering te plaas om ernstiger te wees oor plaasaanvalle en plaasmoorde, en dit is ook klaarblyklik nodig om die skroewe stywer te draai oor minderheidsregte. In die internasionale konteks, en volgens die Suid-Afrikaanse grondwet, is minderheidsregte onlosmaaklik soos individuele regte deel van die begrip menseregte. Anders gestel, die afskeep van minderheidsregte is ‘n skending van menseregte.

Verskeie definisies vir volksmoord bestaan, maar oor die algemeen volg dit die definisie wat Rafael Lemkin in 1944 daaraan gegee het: “Generally speaking, genocide does not necessarily mean the immediate destruction of a nation, except when accomplished by mass killings of all members of a nation. It is intended rather to signify a coordinated plan of different actions aiming at the destruction of essential foundations of the life of national groups, with the aim of annihilating the groups themselves. The objectives of such a plan would be disintegration of the political and social institutions, of culture, language, national feelings, religion, and the economic existence of national groups, and the destruction of the personal security, liberty, health, dignity, and even the lives of the individuals belonging to such groups . . ..”

Die VN se algemene vergadering het in 1948 die volgende definisie van die Kovensie vir die Voorkoming en Straf van die Misdaad van Volksmoord aanvaar: “Any of the following acts committed with intent to destroy, in whole or in part, a national, ethnical, racial or religious group, as such: killing members of the group; causing serious bodily or mental harm to members of the group; deliberately inflicting on the group conditions of life, calculated to bring about its physical destruction in whole or in part; imposing measures intended to prevent births within the group; [and] forcibly transferring children of the group to another group. (Article 2 CPPCG)”

Dit is moeilik om plaasmoorde, en selfs ander stappe wat op die skending van die minderheidsregte van die Afrikaner, nié as volksmoord, of dan die Engelse begrip, “genocide”, te beskou nie. Is absolute uitsluiting van sekere bevolkingsgroepe uit posaansoeke dan nie ‘n vorm van “genocide” nie?

AfriForum en ander instansies het met aksies begin om die probleem van plaasmoorde, en selfs ander kwessie van minderheidsregteskendings te internasionaliseer.

Omdat volksmoord gereeld in die vorm van die letterlike afmaai van mense manifesteer, is die wêreldaandag grootliks op sulke brandpunte gefokus. Op die oomblik is Sirië in die spervuur, maar oral in die wêreld is voorbeelde waar minderhede die kort lootjie trek, onder meer in Iran waar selfs rivierlope aangepas word om minderhede letterlik hoog en droog te laat. Baie dikwels gaan dit oor die ontginning van olie onder ‘n minderheid se voete uit, terwyl daardie minderheid in armoede leef.

Die internasionalisering van Afrikanerkwessies is onlangs deur dr. Leopold Scholtz in ‘n rubriek  in Die Burger bespreek.

Veral die internasionalisering van plaasmoorde lewer periodiek suksesse op, soos nou met Claeys se oproep.

Kenners maan egter ook gereeld dat die feit dat sulke oproepe uit spesifieke politieke partye die Afrikaner se saak meer kwaad as goed kan doen. Claeys is lid van die Vlaamse Belang, ‘n party wat as baie regs beskryf word. Dié party het ontstaan toe sy voorganger, die Vlaamse Blok, weens rassisme verbied is. Wat in Europa as regs ervaar word, is egter nie noodwendig in die Suid-Afrikaanse konteks regs, of dan verregs nie, en nie noodwendig onfatsoenlik nie.

‘n Tweede Europese party uit wie se geledere plaasaanvalle veroordeel is, en pleidooie vir nouer bande tussen die Afrikaner en die Europese sustertale bepleit word, is die Nederlandse Partij voor Vrijheid, of te wel Geert Wilders se party.

Dit is nodig dat die Afrikaner se stem, oor plaasmoorde en meer, egter ook in ’n groter kring inslag moet vind, en dit maak ook deel uit van AfriForum se veldtog waar verskeie internasionale instellings al toegespreek is. Elke Afrikaner het ‘n verantwoordelikheid. Maar dit verg ook ‘n kundigheid. Enorme skade is byvoorbeeld aangerig toe ‘n lid van ‘n landelike beveiligingsinstelling ‘n groot TV-gehoor aan sy voete gehad het oor plaasaanvalle, en toe ontken het dat Hitler vir ‘n Joodse volksmoord verantwoordelik was.

In dieselfde koerant waarin oor Claeys se oproep berig is, is ook ‘n berig oor hoe ‘n groep lawaai gemaak het tydens gebed by ‘n geleentheid in Nederland waar Biskop Tutu ‘n standbeeld van Nelson Mandela onthul het. Dié groep wou ook die kwessie van plaasmoorde in Suid-Afrika onder die aandag bring. Tutu en Mandela geniet in Nederland ikoniese status, en die wyse waarop die mens se opgetree is, het die saak van die Afrikaner enorme skade berokken.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.