Nuuskommentaar: Politici en eerbaarheid

Toe ‘n “jaar van geestelike higiëne” enkele jare gelede in Europa geloods is, is veral twee groepe as “sondaars” geteiken – politici en die media. Hierna het die wêreld-ekonomiese krisis gevolg, en die waarde van die media in die ontbloting van dinge wat skeef was, opnuut onderstreep. Dit het veral in Ysland geblyk waar bankbase hulle op baie ou wette beroep het om die media te smoor, en Ysland se wetgewing inderhaas aangepas is om die land op die voorpunt van persvryheid te plaas.

Maar politici bly hoog op die lys van mense wie se eerbaarheid met ‘n houtoog betrag word. Jaar na jaar skryf Transparency International verslae waarin veral Suid-Europese politici van onvars praktyke beskuldig word.

Oud-minister Blaar Coetzee het volgens oorlewering gesê vir ‘n politieke party is daar nie slegte nuus nie. Alle nuus is goed, want dit is nuus en dit is waarop politieke partye floreer. Dit mag dikwels die waarheid wees, maar partye is ook al gekelder deur die onthulling van ongure inligting. Maar te dikwels is dit die waarheid, soos geblyk het uit die ritse onplesierighede wat die media aan die einde van die jaar oor pres. Jacob Zuma uitgeryg het. Die president het egter steeds sy party se verkiesing met ‘n versterkte mandaat oorleef. En steeds vra baie analiste die vraag of Suid-Afrika die president kan bekostig.

Trouens, die media in Suid-Afrika (en selfs oorsee) is nie snoep in hul beriggewing oor onheile en beweerde onheile in die ANC nie, en die ANC gooi vergeefs wal terwyl dit tot die nadeel van die land volhard om die voorgenome snoerwet op die wetboek te kry. Dié wetsontwerp is nog nie eens deur al die parlementêre prosesse nie, en het reeds die afgelope paar jaar ‘n groot rol gespeel om Suid-Afrika op die persvryheidsindeks die kreeftegang te laat gaan. En ‘n land se posisie op die persvryheidsindeks is ‘n belangrike maatstaf om te meet hoe gesond die stand van demokrasie in ‘n bepaalde land is. Nou beklee Namibië die 19de plek, en Suid-Afrika die 52ste plek, nadat die land in een jaar met tien plekke getuimel het.

Nou is die leier van die amptelike opposisie, Helen Zille, in die spervuur. Dit kom op ‘n ongemaklike tyd toe sowat tien opposisiepartye koppe bymekaar gesit het om te besin oor opposisiesamewerking met die oog op volgende jaar se algemene verkiesing. Een van die opsies is dat onder een vaandel aan die verkiesing deelgeneem word.

Te  midde van die hiervan is Zille in ‘n woordestryd met The New Age van die Guptas betrokke, en die Guptas het glo noue bande met Zuma. The New Age word klaarblyklik hoofsaaklik gefinansier deur advertensies wat van die staat kom. The New Age se verweer is dat dit ‘n nuwe koerant is en sal tyd neem om op gelyke voet met die ander, gevestigde mediagroepe in die oop mark mee te ding. Voorts meen The New Age dat as die bedrae wat hy van staatsadvertensies ontvang met die bedrae vergelyk word wat die ander groot mediagroepe daaruit verdien, is daar geen sprake van voortrekkery nie.

Die ou “spreekwoord” lui dat ‘n mens nie in ‘n woordestryd betrokke kan raak met hulle wat hul ink by die vat aanskaf nie.

Die publiek se geheues oor regeringslui en senior ANC-ampsdraers se dreigemente teen die media, en onder meer ‘n aankondiging dat die staat sy eie koerant gaan begin wat met staatsgeld gefinansier gaan word, ‘n media-tribunaal, en vele meer word egter deurlopend “vars” gehou met nuwe uitsprake. Die klimaat is dus gunstig dat enigiets negatiefs oor die regering geloofwaardig sal wees.

In die jongste sage lyk dit egter of Zille nie so maklik alles gaan regpraat nie. Dr. Piet Croucamp meen op RSG dat Zille nou ‘n goeie adviseur soos Ryan Coetzee mis, en dat sterk daaraan gedink moet word om Coetzee uit Amerika terug te bring.

Tot die Zille The New Age-saak behoorlik opgeklaar is en bedenkinge wat losgemaak is in vergetelheid verdwyn, is dit so dat minstens sommige opposisieparye nou sal water trap om te voorkom dat hul eie aansien geknou word. Een opposisiepartye wat homself al verskeie kere bereid verklaar het om met behoud van identiteit en beleid  by opposisiesamewerking in te bind het reeds ‘n verklaring uitgereik om te vra dat Zille bedank. Die terugroep van Coetzee sal waarskynlik sommige van die opposisiepartye traag maak om hul gewig entoesiasties by hegte opposisiesamewerking in te werp. Moeilike keuses wag.

Intussen word berig dat dr. Mamphela Ramphele tot die politiek gaan toetree, en daar word hard bespiegel oor ‘n eie politieke party. Maar gaan so ‘n party meer mense uit die ANC of die DA trek?

Die oog moet egter ook op die ANC se eie verwikkelinge gehou word. Net Cyril Ramphosa se “terugkeer” tot die politiek en verkiesing tot die ANC se vise-president is groter as lewensgrootte verwagtinge – in landsbelang – van hom gekoester. Rubriek op rubriek spreek die versugting uit dat hy die ANC-skip van sy huidige koers sal afwend. En terwyl Ramaphosa hom van sy direksieskappe en soortgelyk “reinig” gaan een van die bekendste gesigte by ANC-geleenthede en rykste man in die land, Patrice Motsepe, en doen afstand  van die helfte van sy rykdom. Daar is dus ook positiewe sake wat die blote aftakeling van die ANC se beeld na buite (en selfs dikwels uitgesproke na binne) teenwerk.

Min opposisiekiesers sal egter daarvan verskil dat die opposisiepartye, ook in landsbelang, op die een of ander wyse sal móét saamwerk om die land se erosie na ‘n de facto eenpartystaat te stuit. Die blote feit dat Suid-Afrika so agteruit boer op die persvryheidsindeks, korrupsie-persepsie-indeks en die indeks vir mislukte state toon dat die grondwet alleen nie veelparty-grondwetlike demokrasie waarborg nie. Trouens, die FW de Klerkstigting, wat hom ongekwalifiseerd agter die grondwet skaar, het al verskeie kere uitgewys dat die ANC toenemend die vredesakkoord wat die grondwet beslag gee, as nie meer van toepassing ag nie.

Die demokrasie bestaan nie net uit die reg om vrylik ‘n kruisie agter ‘n party van keuse te trek nie. Demokrasie behels ook die beskerming en bevordering van vryhede en verantwoordelikhede, soos dat een se reg op uitdrukkingsvryheid nie ‘n ander se reg op verdiende waardigheid mag vernietig nie, dit beskerm minderheidsregte na behore, dit verg die handhawing van wet en orde sodat misdadigers nie die lewe van wetsgehoorsame burgers dikteer, en dit selfs neem nie. Dit behels die vestiging en instandhouding van demokratiese konvensie, en mediavryheid. Dit verg ‘n gemeenskap van gesonde en invloedryke burgerlike organisasies.

En ‘n bevolking wat dit waardeer.

Populistiese leiers kan dit so maklik vernietig, soos duidelik getoon is toe die Duitsers heel demokraties Hitler eers aan bewind gestel, en toe gehelp het om diktator te word. Onlangs was Hongarye flink in ‘n soortgelyke koers op pad. Maar die EU gooi met harde dreigemente wal.

Suid-Afrika het nie net die taak om demokrasie te beskerm nie, maar ook ten opsigte van aspekte soos minderheidsregte en burgerlike instellings – en nou ook persvryheid – baie om nog te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.