Nuuskommentaar: Politiek, politici en ander “plae”

Jacob Zuma. Foto: GCIS

Na ‘n uitmergelende verkiesingsveldtog ly die breë publiek gewoonlik aan post verkiesingsindroom. Kortom, die meeste is dan so sat vir politiek hulle wil eers blaaskans kry.

In Suid-Afrika, waar die verkiesings van die nasionale en provinsiale vlak van die munisipale verkiesings geskei is, moet kiesers twee keer elke vyf jaar deur die meule gaan.

En dis nie al nie. Suid-Afrika dra in baie opsigte die kenmerke van ‘n eenpartybedeling, waar belangrike, indien nie die belangrikste, politieke gebeurtenisse binne die ANC en sy alliansievennote uitbroei. En dit is min of meer ‘n deurlopende proses.

Die eenparty-oorheersing is so sterk dat dit wat nou in die komende Amerikaanse presidentsverkiesing gebeur, in heelwat opsigte ‘n groter invloed op Suid-Afrika gaan uitoefen as die volgende algemene verkiesing hier.

Die probleem is dat baie Suid-Afrikaners uitgesluit is, en uitgesluit voel van die binnelandse politiek wat hul lewens ernstig raak. Hoeveel Suid-Afrikaners het byvoorbeeld die SABC se entoesiasme gedeel met pres. Jacob Zuma se onlangse vertoning by toe hy die VN toegespreek en media-onderhoude gevoer het? Vir sommiges was dit ‘n vertoning van knap bravade om onder meer die VN tot hervormings op te roep. Vir ander was die voorbarigheid teen die agtergrond van die situasie tuis waar die president onlangs sy onkunde oor grondwetlike demokrasie opnuut laat blyk het, ‘n yslike verleentheid. Baie mense het opgelet dat Zuma in wese deel was van ‘n parade voor die VN van muishondleiers wat toe ook spreekbeurte gekry het, soos Mugabe en die Iranse president. Van hulle word uitsprake verwag wat pas by die opvattings dat die binnewerking van hul boonste verdiepings onklaar geraak het. Hulle het nie “teleurgestel” nie, en nou ja, ons president het daarby kers vasgehou.

Danksy ‘n grondwet met sy gebreke en al is daar werklik opposisiepartye in Suid-Afrka, gereelde verkiesings, ‘n grondwetlike hof, ‘n media wat die kuberruim insluit, en burgerlike organisasies soos AfriForum en die Solidariteitsbeweging.

Juis weens die sterk oorheersing van die ANC gaan gereelde stemme op oor die vorming van ‘n sterk opposisie, en Rapport  berig die naweek oor die gedagte van ‘n nuwe party wat die bestaande opposisiepartye saam ondervang.

In die praktyk is een plus een in die politiek dikwels nie eens ‘n volle een nie, soos blyk uit ‘n vroeëre verslag omdat ‘n te uiteenlopende party of koalisie nie noodwendig nisgroepe inspireer en motiveer nie. Suid-Afrika se tradisie van koukusgebondenheid veroorsaak voorts dat ‘n tweepartybedeling nie werklik ‘n tweepartydemokrasie veronderstel soos wat effektief in die VSA aangetref word nie. In die Amerikaanse deelstaat Maine, dui die jongste Rasmussenpeiling boonop daarop dat ‘n onafhanklike senaatskandidaat, Angus King 45 persent steun geniet teenoor  die Republikeinse kandidaat, Charlie Summers se 33 persent en Cynthia Dill van die Demokratiese Party se 14 persent.

Volgens die naweek se Rapport is Zuma se kans se goed om aan die einde van die jaar as ANC-president herkies te word, en dit word veral aan goeie organisasie in die president se getalryke tuisprovinsie, KwaZulu-Natal toegeskryf. Indien Zuma wel die pyp rook, sit dit om in die bestendiging van sy presidentskap van die land, terwyl peilings toon dat Zuma heel moontlik nie die  meerderheid kiesers in die land se steun geniet nie, veral in stedelike gebiede.

Anders gestel, terwyl dalk meer as die helfte van die land se kiesers meen Zuma is ‘n groot verleentheid wat Suid-Afrika nie kan bekostig nie, is baie van hierdie ongelukkige kiesers nou volkome uitgelewer aan wat binne die ANC self gaan gebeur.

Die laaste ding wat die Afrikaner kan bekostig is ‘n gevoel van magtelose moedeloosheid.

Terwyl geen opposisie-ondersteuner daarteen kan wees dat opposisiepartye minstens nouer saamwerk en selfs ‘n wedersydse protokol van onderlinge gedrag aanvaar nie, is dit ook belangrik dat ander grondwetlike opsies nie agterweë bly nie. Staatsreg bepaal dat ‘n grondwetlike demokrasie onvolledig en gebrekkig is as daar nie sterk burgerlike strukture funksioneer nie, en uit gereelde opmerkings op die internet is dit duidelik dat al hoe meer mense sidder by die gedagte waar die land sou wees as dit nie vir Solidariteit,  AfriForum en byvoorbeeld sekere onderwysvakbonde was nie.

Die grondwet en die internasionale reg maak voorsiening vir die opvra van minderheidsregte wat darem ‘n mate van insulasie teen algemene verval bied. Maar sulke regte, soos kultuurregte, kan net deur sterk burgerlike instellings opgeëis word, want dit is nie regte wat die ANC vrywillig sal toestaan nie.

Dis natuurlik verkieslik dat die afpen van regte in ‘n omgewing van welwillendheid geskied. Die Afrikanerbond het die onlangse Kliptownberaad oor nasionale kohesie eerder as ‘n struikelblok vir gemeenskapsverhoudinge beskryf. Dié gevoel word ook wyd deur ander afgevaardigdes gedeel. Maar van die ontgogelde afgevaardigdes het ook aangedui dat hulle onder die “gewone” beraadgangers ‘n groot poel van welwillendheid ervaar het.

Die pad het nog lank nie doodgeloop nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Kobus ·

Ek is bly om te sien jy verwys na die “grondwet met sy gebreke” en nie soos menigte artikelskrywers van so paar jaar na die “beste grondwet ter wereld” nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.