Nuuskommentaar: President, sukkelpresident, flaterpresident en die mosie van wantroue

President Jacob Zuma. Foto: GCIS

Die mosie van wantroue wat die gesamentlike opposisie met die uitsondering van die PAC en twee gatvliegpartytjies, die APC en die Minority Front, teen pres. Jacob Zuma ingedien het, is veel meer as net ‘n simboliese gebaar.  As die nodige media-aandag hieraan geskenk word, dompel dit die ANC, en veral Zuma se ondersteuners in die parlement, in ‘n verloor-verloor-situasie.

Die ANC se reaksie op die nuus is ook irrasioneel.

Die ANC het byna ‘n tweederde meerderheid, en dit is danksy die stelsel van koukusgebondenheid ‘n uitgemaakte saak dat die mosie nie sal slaag nie. In Maart 2010 het Cope ook so ‘n mosie  ingedien na Zuma Menzi Simelane as direkteur van Nasionale Vervolging aangestel het. Die ANC het sy meerderheid gebruik om dit in ‘n mosie van volle vertroue in Zuma te omskep.

Aan die ander kant is dit ‘n ongemaklike saak dat Zuma se flaters nou, so kort voor sy waarskynlike herverkiesing in Desember, so aan die groot klok gehang word.

Die ter tafel-legging van die mosie val byna saam met wat as die dag van die presidente genoem kan word. Pres. Barack Obama is deur die Amerikaanse kiesers vir nog ‘n termyn verkies na sy teenstander die volle geleentheid gehad het om elke moontlike oordeelsfout of misstap aan die groot klok te hang. Ook in die groot moondheid agter die bamboesgordyn, China, begin die oorgangsfase  van pres. Hu Jintao na sy opvolger, Xi Jinping. Die buitelandse nuusdekking is hoopvol, en selfs die Tibettane se hoop vir werklike outonomie vlam op.

Hoewel die opposisiepartye ‘n paar sake, soos die Marikana-slagting, Nkandlagate en vertrouenindekse as redes vir die mosie aandui, sal ‘n debat in die konvensie van die wantrouedebatte wat die Westminister stelsel kenmerk, soos die voor-1994-SA,  ‘n vrag vuil wasgoed oplewer wat selfs die sterkste wasgoeddraad sou laat ingee. Onder die sake wat onder bespreking kan kom:

–       Sedert die ANC die vorige Cope-mosie in ‘n mosie van volle vertroue omtower het, het die grondwethof die opposisie gelyk gegee dat Zuma fouteer het met die aanstelling van Simelane.

–       Die appèlhof het gelas dat die Nasionale Vervolgingsgesag inligting, waaronder bande, oor sy besluit om vervolging teen Zuma te staak, aan die DA moet oorhandig. Met die keerdatum verstryk, het dit nie gebeur nie en is die transkripsies aan Zuma se regspan oorhandig.

–       Zuma se skynbare swye wanneer die leier van die opposisie by amptelike saamtrekke doodgeskree word, of by minstens drie geleenthede – die slag van Braamfontein, Nkandla en De Doorns verjaag word. Latere afkeer, indien wel, is mosterd na die maal.

–       Sy buite-egtelike eskapades – met kinders buite die eg in minstens twee gevalle, hoewel hy intussen met een van dié vroue getroud is. In ‘n verkragtingsaak het hy owerspel as verweer voorgehou en geslaag.

–       Sy volgehoue ontkenning van die inkomstegaping en dat dit gemeet word, terwyl die Wêreldbank se syfers daarop dui dat Suid-Afrika die hoogste inkomstegaping ter wêreld het.

–       In een jaar tydens die Zuma-bewind het Suid-Afrika tien plekke op die korrupsiepersepsie-indeks teruggesak, hoewel daar daarvoor reeds verskeie uitsprake teen korrupsie was. Met die onwilligheid om oop kaarte oor Nkandlagate te speel, kan Suid-Afrika hom maar vet smeer vir nog ‘n skerp daling.

–       Zuma se uitsprake oor die regspraak, wat onlangs tot ‘n bedenklike laagtepunt teruggesak het toe hy na die howe as die witmense se instellings verwys het, terwyl hy hom ten gunste van ‘n wetsontwerp vir tradisionele howe uitgespreek het waar erg teen landelike vroue gediskrimineer word, en dus geen kans staan om grondwetlik te oorleef nie.

–       As president wat die ministers aanstel, het Zuma ook veel te verantwoord oor uitsonderlike swak keuses.

–       Van die wêreld se mees suksesvolle regeringshoofde was nie die skerpste potlode in die pakkie nie, maar het dié wysheid aan die dag gelê om die beste adviseurs aan te stel en na hulle te luister. Die advies waarvan Zuma bedien word, verstom ontleders, maar nié oor die briljantheid daarvan nie.

Dit spreek vanself dat die ANC nie so ‘n debat sal wil hou nie, veral nie nou nie, of selfs dat die media solank die skietgoed wat gebruik kan word opdiep en afstof nie. Sosiale netwerke gaan egter nie gekeer word nie, en van die meer gesaghebbende webwerwe beïnvloed buitelandse mediadekking. Teen dié agtergrond gaan die ANC net nog meer belaglik lyk as die mosie weer in ‘n mosie van volle vertroue omskep word.

Die gesamentlike opposisie speel nog ‘n troef – die versoek dat die stemming in die geheim geskied. Hierdeur sal die beskerming wat koukusgebondenheid aan Zuma bied verval, en die ANC weet nie hoeveel A NC-parlementslede ook heimlik van Zuma ontslae wil raak nie. Selfs al is dit aansienlik minder as die helfte, kan hul stemme saam met dié van die opposisie Zuma liederlik knou, al slaag die mosie nie.

Artikel 102 (2) van die grondwet bepaal dat indien ‘n meerderheid van die lede van die Nasionale Vergadering ‘n mosie van wantroue steun, moet die president en sy kabinet bedank. Die grondwetskrywers het dus voorsien dat dit moontlik moet wees vir lede om in so ‘n geval volgens hul gewete te stem, anders bevat die grondwet ‘n sinnelose bepaling, wat die doel van hierdie bepaling vernietig: dat getoon kan word dat die regering van die dag die vertroue van die parlement geniet. Die enigste ander wyse waarop die bepaling sin sou maak, is dat ontnugterde LP’s kan oorloop, maar dit kan nie meer gebeur sonder dat hulle hul setels kwyt is nie.

Die wyse waarop Zuma en sy ondersteuners die indiening van die mosie gaan hanteer, gaan ‘n toets vir die ANC se verbintenis tot grondwetlike demokrasie wees.

Elke kieser wat iets vir die land omgee, sal die poging steun om te voorkom dat die grondwet, gebreke en al, nie net ‘n dokument op die boekrak word nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

frikkie ·

Julle gaan met hom sit soos Zim met mugabe sit. Zuma se vriende is die chinese wat 50/50 met hom gaan share in die myne soos hulle met mugabe in zim share.

Pieter ·

Al gaan dit geen parlementere doel dien nie (‘n meerderheid is buite die kwessie) gaan dit ten minste ‘n geskarrel afgee. Indien die perd weer verkies word moet die insteeling van ;n mosie van wantroue ‘n maadelikse instelling word vir die volgende vyf jaar en die ANC liederlik irriteer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.