Nuuskommentaar: Privilegie en anargie

Die kwessie van parlementêre privilegie het opnuut onder die vergrootglas gekom met ‘n siedende aanval wat die ANC-politikus, mnr. Neels van Rooyen, op die Vrystaatse Rugby-unie en sy uitvoerende hoof, Harold Verster, geloods het.

By ‘n vorige geleentheid het die unie aangedui dat die unie beplan om Van Rooyen, nou voorsitter van die Vrystaatse Skoor, voor die hof te sleep, ‘n plan wat in die stof gebyt het weens die parlementêre privilegie wat parlementêre en wetgewerlede geniet. In Suid-Afrika word die kern van parlementêre privilegie in artikel 58 van die grondwet vervat. Hierdie artikel sluit egter net lede van die Nasionale Vergadering en kabinetslede in – provinsiale wetgewers se privilegie word in artikel 117 beskryf.

Dit gee rigting oor hoe privilegie in Suid-Afrika daaruit sien, en verskil van die gemeenregtelike beginsels wat veral via die Britse parlementêre bedeling grootliks as konvensie ontwikkel het. In daardie geval word ‘n wag voor die mond vereis deurdat dit wat die parlementslid sê, met sy funksie in die parlement verband moet hou, en word hy nie van kriminele vervolging kwytgeskeld nie. Dit beteken, as dit die geval in Suid-Afrika van toepassing was, verontregte lede van die publiek steeds aksies van kriminele laster en crimen injuria teen breedsprakige parlementslede aanhangig sou kon maak.

Subartikel 58 (b) vrywaar Suid-Afrikaanse parlementslede egter van ook kriminele vervolging. Klaarblyklik kan mense wat sulke beskerming geniet, egter nie daarmee wegkom as hulle gedaag word om dit buite die parlementêre terrein te gaan herhaal, en dit dan ook doen nie.

Die bedoeling is egter nie dat dit ‘n absolute vry sê aan parlementslede bied nie … dit sou immers anargie aan die hand werk. Ten eerste handel dit oor die aard van lasterverwante sake, veral omdat die privilegie-doktrine in Suid-Afrika in ‘n regskonteks effektief afgetakel is en slegs in die proses van konstruksie is. Dit kan immers nie in belang van demokrasie en veral die beginsel van regsorde wees, as iemand se enigste verweer teen laster vanaf ‘n parlementêre podium is om die parlementslid in eie munt terug te betaal nie. As twee mense in ‘n bakleiery betrokke raak, kan beide aanrandingsake teen die ander maak, en beide kan hul sake wen. Wanneer twee viswywe weens ‘n verkeersoortreding deur die een, verbaal teen mekaar lostrek, kan die een nie ‘n saak van crimen injuria teen die ander maak nie. Die twee se uitbarstings kanselleer mekaar uit.

Die onlangse uitspraak van die appèlhof wat die Vervolgingsgesag dwing om dokumentasie rakende die terugtrekking van kriminele aanklagte teen pres. Jacob Zuma te motiveer, herbevestig immers almal se gelykheid voor die gereg.

Die misbruik van privilegie skaad demokrasie oor ‘n breë front. Kort voor die aanbreek van die wêreld-ekonomiese krisis, is ‘n veldtog in Wes-Europa van stapel gestuur om deur ‘n jaar van morele higiëne die media en die politici se bedenklike optredes aan te spreek en dan die slegte beeld te verbeter. Opnames het immers getoon dat joernaliste en politici as van die mins betroubare kategorie mense beskou is.

Privilegie word veral beperk waar dit verbale aanvalle op ander lede van die betrokke liggaam behels. ‘n Wye reeks uitlatings word as onparlementêr geag, en ordereëls kan baie streng wees, en toegepas word. Dit het ook al ‘n draai deur die howe gaan maak, toe Patricia de Lille, destyds leier van die ID, weens haar vry sê uit die parlement geskors is. Die Speaker het ‘n ou wet van 1963 gebruik, en sy saak probeer versterk deur, soos appèlregter Mohamed dit gestel het, “obskure” bepalings van Britse konvensie in te span.

Uiteindelik hang dit van die ANC-leierskap af of hulle die beeld van demokrasie en ‘n ordelike samelewing wil beskerm. Die ANC sit nog met die gebakte pere van ‘n Julius Malema en sy vry sê, wat eers enorme skade aan die land aangerig het voor hy in die bek geruk is.

Intussen plaas die Vrystaatse Rugby-unie dit op rekord dat Van Rooyen onkant gespeel het en wild met die waarheid omgegaan het: “Ek (Harold Verster) beskou die bewerings gemaak deur mnr. Neels van Rooyen vanaf ’n openbare platform en waar ’n persoon nie die geleentheid gebied word om homself te verdedig nie, as lafhartig en onvanpas van ’n openbare figuur – veral as in ag geneem word dat die stellings en aantygings gemaak teen die Vrystaatse Rugby-Unie en die Cheetahs en myself nie met die ware feite ooreenkom nie.”

“Die bewerings van aparte jaareindfunksies wat vir swart en wit personeel nie op dieselfde personeelfoto’s mag wees nie, is van alle waarheid ontbloot, dit is weer eens heeltemal ongeregverdig en ontbloot van die ware feite.”

“In die Super Rugbykompetisie speel die Cheetahs met meer transformasiespelers as enige ander bedryfsreg.  Van Rooyen se wilde aantygings en aanvalle op die Vrystaatse Rugby-Unie is op verkeerde inligting gebaseer.”

“Die beskuldiging dat VRU hulle terreinwerkers uitbuit met onaanvaarbare lone en dat dit aan slawerny grens, is belaglik en verkeerd en verdien nie verdere kommentaar nie.  Ons het met die vakbond van die terreinwerkers SATAWU, ooreengekom ten opsigte van lone en salarisse . Hulle het ook in teendeel hulle dank betuig vir ons hantering van ons mense en menseverhoudinge.”

“Wat Van Rooyen se dreigemente betref dat ‘n kommissie van ondersoek na die VRU geloods moet word,  is dit belangrik dat hy hom eers van alle feite moet vergewis.” Hy het aan die media gesê sy Unie sal so ‘n ondersoek verwelkom.

Dit is nie in belang van demokrasie dat ‘n persepsie so duidelik gevestig word dat openbare verteenwoordigers so wild met die waarheid kan omgaan nie.

Privilegie bestaan om die demokrasie te versterk, nie om dit te vernietig nie. Die bal is nou in die ANC se hande, en ‘n aanslaaan gaan die land net skade berokken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.