Nuuskommentaar: Ramphele op SA se politieke dam

Mamphela Ramphele Maandag in Johannesburg tydens die bekendstelling van Agang. Foto: Werner Beukes/Sapa

Die vraag op “almal” se lippe is of dr. Mamphela Ramphele met haar pasgestigte politieke platform, Agang, ‘n beduidende impak op volgende jaar se algemene verkiesing gaan uitoefen.

Die kort antwoord is dat niemand regtig met sekerheid weet nie. Die politiek in Suid-Afrika laat hom eenvoudig nie deur bestaande politieke modelle elders in die wêreld voorskryf nie, en die kanse is goed dat iemand wat sy of haar lyf politieke kristalbalkyker wil hou, met vrot eier in die gesig gaan sit.

Boonop is daar nog te min bekend. Tree sy volledig op haar eie op, of het die mense na wie sy in haar toespraak verwys het met wie sy in gesprek is ‘n groter invloed, soos geldelike hulp, op haar?  En hoekom wys hulle nie hul gesigte nie?

Gaan sy die DA-geleide poging om opposisiepartye in ‘n stemblok operasioneel te verenig met die oog op volgende jaar se verkiesing woema gee of dwarsboom? Het sy werklik die statuur en aansien om genoeg ANC-kiesers af te rokkel wat die DA, Cope en die UDM tot dusver nog nie kon vermag nie?

Dat haar doelwitte suiwer en edel is, is ongetwyfeld so. Die land se droom lê aan skerwe en moet herbou word. Dit kan klaarblyklik nie deur die ANC gedoen word nie, maar die groot struikelblok is dat die ANC, selfs as lelike olifant in die vertrek, aan bewind is en ook nie lyk of die regerende party gou uit die kussings gelig gaan word nie.

Haar politieke oortuigings is lank reeds bekend, en dat dit nou bykans identies met dié van die DA is, blyk uit haar stigtingstoespraak gister. Niemand het dus regtig verwag dat sy haar politieke toekoms buite die reeds digbevolkte deel van die politieke dam sou begeef waar die meerderheid partye wat breedweg onder die humanistiese kombers van sosiaal-demokraties en liberaal demokraties toegemaak kan word, hulle bevind nie.

Gaan sy nou bloot die bestaande potjie omroer, of gaan sy iets van ‘n spesiale resep byvoeg wat daardie potjie onweerstaanbaar vir ‘n beduidende segment van ANC-ondersteuners gaan maak? Sy is ‘n te sterk individu om nié iets toe te voeg nie.

Of het sy genoegsame statuur dat die blote feit dat sy, wat sterk met Steve Biko geassosieer word, haar polities buite die ANC uitdruk, ‘n beduidende getal geblinddoekte ANC-ondersteuners weer die politieke lig sal laat sien?

Sy het groot gehap, veral omdat sy skynbaar vrou alleen die politieke toneel betree en nie saam met ander bekende swaargewigte op die toneel verskyn het nie.

Een ding is seker, en dit is dat sy min tyd het om aan haar, en veral haar platform die nodige politieke profiel te gee wat nodig is om ‘n beduidende impak te hê.

Enkele partye soos die DA en die CDP het op die stigting van die platform gereageer. Ander het doodstil geswyg, of in elk geval nie hul mening op swart en wit uitgedruk nie.

Die algemene indruk is een van wag en sien. Baie van haar sukses al dan nie gaan van haar volgende skuiwe afhang, en wie as rolspelers op die toneel verskyn.

‘n Vollediger bespreking kan hier gelees word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.