Nuuskommentaar: Ras, ras, alles net ras…

Zuma. Foto: GCIS

Die “redenasie” van die Higher Education Transformation Network (HETN) oor hoekom  Akademia nié by Umlasi geregistreer behoort te word nie, kan in een woord saamgevat word – belaglik.

HETN het dit daarteen dat Akademia slegs in Afrikaans onderrig bied. Dit, volgens HETN, is ongrondwetlik omdat dit dan die inrigting eksklusief wit sou maak.

Die mees onlangse sensus dui daarop dat meer as die helfte van die Afrikaanssprekendes in die land nie wit is nie. Dr. Dirk Hermann, adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit, se antwoord aan Beeld som sake mooi op: Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging, het geantwoord dat Akademia ’n selfstandige instelling van Solidariteit is.

“Dit behoort nie aan Solidariteit of AfriForum nie, maar is ’n organisasie sonder winsoogmerk wat deur die departement van hoër onderwys geregistreer is.

“Akademia se stigtingsrede was om hoër onderwys op universiteitsvlak meer toeganklik te maak. As Suid-Afrika ’n hoëronderwyslandskap het wat net Engels is, is dit juis eksklusief.”

Volgens hom maak ’n instelling wat in Afrikaans onderrig dit juis moontlik vir ’n sekere sektor van die Suid-Afrikaanse samelewing om onderrig in hul taal te kry.

“Die Grondwet bevorder veeltaligheid en dit kan net in die praktyk neerslag vind as daar instellings is wat die verskillende taalgemeenskappe bedien. Akademia se registrasie bevorder dus die grondwetlike beginsel van veeltaligheid.”

Om egter HETN se absurditeit ligtelik af te maak vir wat dit is, is egter ook nie die oplossing nie. Dié redenasie, wat op ‘n eietydse Milnerisme neerkom, het wortels wat deurlopend gevoed word. En daardie wortels is nie moeilik om te vind nie.

Minstens twee kenners, dr. Leopold Scholtz en Eben Meiring  het pas na pres. Jacob Zuma se omstrede “honde-uitlating” die president se denke na die Karibiese geweldsfilosoof, Franz Fanon, teruggevoer. Swart bewussyn word ten diepste hiermee verbind. Fanon was ‘n opgeleide sielkundige en het dié verskynsel dus ook diep in die psige van historiese perspektief gesoek.

Prof. Amanda Gouws skryf in Die Burger soos volg:  “Eerstens is daar Zuma se veralgemenings oor ‘kultuur en ras’. In die ‘wit kultuur’ vat mense hul honde na veeartse, in die ‘swart kultuur’ word dit nie gedoen nie. Ons moet dus aanvaar dat siek diere in die ‘swart kultuur’ maar moet ly en selfs doodgaan. Ubuntu is dus nie vir diere gepas nie… Wat Zuma doen, is om wit en swart kultuur te polariseer en om wit mense wat vir hul diere omgee, te demoniseer, asof hulle meer vir diere as mense sou omgee.”

Zuma, en baie enersdenkes, vind wel “regverdiging” vir hierdie rasbeheptheid in die onlangse sensussyfers wat op ‘n groot ekonomiese dispariteit tussen wit en swart dui. Dit is ‘n werklikheid, en om dit te ignoreer, bemoeilik nie net soos Zuma dit stel, versoening nie, maar voed ook revolusie.

Dat Zuma swart vroue aanraai om gou baie kinders te kry, en so armoede “oorerflik” maak, ontgaan die president skynbaar.

‘n Kernprobleem is veralgemening volgens ras. In die praktyk is nie alle swart mense arm nie, soos uit verskeie berigte tydens die ANC se Bloemfonteinse kongres geblyk het wat oor die uitsonderlike duur vuurwaens by die kongres berig het. Net so is nie alle wit mense ryk nie, soos blyk uit die wit plakkerskampe waarvan minstens een reeds deur die president besoek is.

Om die probleem met kollektiewe maatreëls soos rasbegunstigde maatreëls onder die dekmantels van regstellende optrede, en SEB aan te spreek, benadeel die reeds benadeeldes in die uitgeslote rasgroep(e) net verder, en herbevoordeel die reedsbevoordeeldes in die voorkeurgroep(e) net verder. En dit is in hierdie kollektiewe (rasse)-kriteria waarin rassisme en rassediskriminasie gesetel is.

En dié rassisme word goed beklemtoon wanneer dit as verkeerd beskou word as die benadeelde groep eie bronne gebruik om iets op die been te bring om op ‘n nie-eksklusiewe wyse iets aan sy eie heil te doen, soos Akademia.

Troeuns, die konsep is ook onlangs voorwaardelik deur Henry Jeffreys en dr. Michael le Cordeur gesteun: “Dit is die missie van ons, die taalsprekers in al ons verskeidenheid, om self verantwoordelikheid te aanvaar vir die toekoms en groei van ons taal.

Ons gaan vorentoe al hoe meer projekte moet aanpak soos Solidariteit se idee vir ’n private Afrikaanse universiteit.

Dit kan en behoort gedoen te word in vennootskap met die staat (nie afsonderlik of in isolasie nie); maar as dit nie kan nie, moet ons dit self doen.
Die toets vir sulke inisiatiewe, maak nie saak hoe deurdag nie, sal wees die mate waarin Afrikaanse huishoudings dit met beursies en voete sal ondersteun.
Soos by die Afrikaners ná die Anglo-Boereoorlog, is dit tyd vir eie verantwoordelikheid en stappe – maar hierdie keer deur en namens die taal en al sy ryke verskeidenheid van sprekers.”

Die land se werkloosheids- en gevolglike armoedeprobleem sal eers behoorlik aangespreek kan word wanneer ál die groeikragte, waaronder entrepreneurskap, strewe na uitmuntendheid en werksywer ongeag ras losgelaat word. Dempende kragte soos korrupsie, werkskuheid, oorregulering en alkoholisme moet bekamp word, ewe-eens sonder om met ‘n kleurbril daarna te kyk.

Dat sekere groepe neig om uit te presteer, en dat dit spanning veroorsaak, is egter ‘n werklikheid en nie net tot Suid-Afrika beperk nie. Die uitpresterende Christenbevolking van Libanon het ‘n groot rol daarin gespeel dat ‘n vernietigende burgeroorlog uitgebreek het. Iets soortgelyk het gebeur toe die Koptiese Christene in Egipte van ‘n agterstand af begin uitstyg het. Deur die eeue is die Jode uit verskeie lande soos onder meer Spanje en Portugal geskop, en uiteindelik deur die Nazi’s aan volksmoord onderwerp.

Met uitprestering word persepsies gevoed wat dikwels min met die werklikheid te make het. Cosatu se eise, veral oor grondhervorming, met die Bolandse plaasstaking wat volgens beplanning môre hervat word, teer op diepgewortelde persepsies wat nie in alle opsigte objektief is nie. Die motief is waarskynlik minder aanprysingswaardig – die destabilisasie van die DA-regeerde Wes-Kaap en om die ANC, wat duidelik in sy rasbeheptheid erg etnies verswart het, meer aantreklik vir die bruin gemeenskap voor te stel. Dalk as kanonvoer by die stembus?

Dit is 19 jaar sedert 1994, en 21 jaar sedert die laaste apartheidswet geskrap is. Trouens, rasseklasifikasie is ook destyds afgeskaf. Maar tog is die wetboek gesaai met rasgebaseerde wetgewing.

Op 2 Februarie bied die FW de Klerkstigting ‘n kongres in Kaapstad aan met die tema: “VERENIG AGTER DIE GRONDWET”.

Twee van die besprekingspunte is ‘n duidelike demonstrasie dat oud-pressident FW de Klerk meen dat die ANC juis die teenoorgestelde bereik het as sy verklaarde doelwit van nie-rassigheid (wanneer laas het iemand dit uit die ANC-geledere gehoor?):

  • verenig agter die Grondwet ter ondersteuning van nie-rassigheid en menswaardigheid;
  • verenig agter die Grondwet ter ondersteuning van gelykheid deur regverdige en doeltreffende transformasie;

Vir baie Suid-Afrikaners het transformasie, waarskynlik weens wanpraktyke daarmee, ‘n ongekwalifiseerde vloekwoord geword. Dit troos niks as iemand met goeie kwalifikasies en ‘n honger gesin vir werk na werk aansoek doen, en weens “transformasie” nie oorweeg word nie.

Markinmenging en die inhibering van groeikragte met ras as kriteria het die land ‘n reuse werkloosheidskoers besorg. Dit is tyd dat iets anders probeer word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae