Nuuskommentaar: Ras-tellende aksie

Regstellende aksie word, of is in verskeie lande dwars oor die wêreld toegepas, en byna voor die voet is ras in die praktyk as ‘n bepalende norm gebruik.  In die VSA is daar selfs hofsake omdat die toepassing daarvan op die oog af ander rasse se grondwetlike reg om nie op grond van ras teen gediskrimineer word nie, aantas. Maar in al die bekende gevalle was daar net een ander geval as Suid-Afrika, waar die rasbegunstiging openlik die belange van die regerende meerderheid bevoordeel het, naamlik Maleisië.

Rasbegunstigde regstellende aksie, volgens die aanvaarde norm, het ten doel om minderheidsgemeenskappe regverdiger te kan laat meeding, uit hoofde van die feit dat selfs ‘n demokrasie dikwels onbedoeld minderhede benadeel, of dit dan moeilik maak om historiese agterstande in te haal. Dikwels is die feit dat ras per sprake kom, bloot toevallig, of in beginsel toevallig. Dit gaan in die eerste plek oor minderhede, en regstellende aksie is maar ‘n klein faset van minderheidsregte wat deur verskeie internasionale verdrae en die volkereg beslag kry (en wêreldwyd deur talle lande vertrap word).

Die Maleisiese kwessie was baie uniek waar die Chinese minderheid om verskeie historiese en kulturele redes baie dominant was. Die aksie om die situasie reg te stel was egter baie spesifiek so ontwerp dat dit nie die Chinese minderheid moet benadeel nie, maar deur die bied van opleidingsgeleenthede en aandeelhouding die geleentheid bied aan die Maleisiërs en ander etniese groepe om in te haal. Maroela het reeds hieroor in ‘n nuuskommentaar uitgebrei.

Die term “affirmative action” is in regsterme ‘n ongelukkige en foutiewe keuse. In hul boek, Fundamental rights in the new constitution, spreek Cachalia, Davis, Maduna en ander ook hul ongelukkigheid hiermee uit, en verkies die uitdrukking, corrective action.

Affirmative action” het die konnotasie, en in Suid-Afrika, die implikasie van rasbegunstigde nepotisme wat nie noodwendig enige doel het om iets reg te stel, soos die grondwet bedoel nie (die term “affirmative action” kom glad nie in die grondwet voor nie, soos ook transformasie nie daarin voorkom nie.

Die ANC, volgens sy beleidsdokument, gebruik egter die term “affirmative action.” Hierin word dit duidelik gestel dat die doel is om nie net rassegemeenskappe nie, maar ook vroue en ander teen wie in die verlede onbillik gediskrimineer is te bevoordeel. Dit word egter in rasseterme gemotiveer, naamlik dat die apartheidsverlede ‘n sosio-ekonomiese ongelykheid teweeg gebring het, wat reggestel moet word. Daar was een van twee keuses – vat eenvoudig by die voorheen-bevoordeldes en gee vir die voorheen-benadeeldes, of pas “affirmative action” toe. Laasgenoemde is gekies.

Daar is geen oorweging vir ander faktore as apartheid, soos kulturele praktyke en sosio-ekonomiese faktore (wat gewoonlik te politiek inkorrek is om te noem) en gemiddelde gesinsgroottes wat naas apartheid minstens ‘n deel van die sosio-ekonomiese skeeftrek kon veroorsaak nie. Die implikasie hiervan op enige vooruitsig van ‘n sonsondergangklousule is enorm. Kulturele verskille in lande soos Libanon dui immers daarop dat een gemeenskap baie gou na selfs ‘n verwoestende burgeroorlog op hul voete kan wees, terwyl die ander sosio-ekonomies meer geneig is om horisontaal te beweeg. Die ganse Eurosone bly onder druk oor die Noord-Europese persepsie dat die Suid-Europeërs ‘n klomp parasiete is wat hulle boonop die “luukse” veroorloof het om onproduktiewe sosialistiese en in die geval van Ciprus selfs kommunistiese regerings aan bewind te stel. Dis intussen grootliks reggestel, behalwe België, waar die Franssprekende Wale, ten spyte van ‘n jaarlikse ekonomiese inspuiting van miljarde euro’s uit Vlaandere, nie kan inhaal nie – en weer ‘n sosialistiese regering ingestem het.

Die ANC maak graag daarop aanspraak dat dit van apartheid ontslae geraak het. Die harde werklikheid is dat die bevolkingsregistrasiewet  reeds in 1991 geskrap is, taamlik lank voor die ANC bewind gekom het. Tog slaag die ANC daarin om ‘n rasseklassifikasie toe te pas, wat mense se regte drasties raak, en verskerp deurgaans die rasimpak hiervan. Daar was selfs ‘n poging om blanke persone met gestremdhede uit die bevoordeling van regstellende aksie uit te sluit. Solidariteit se saak oor van Renate Barnard toon dat ander norme as ras erg aan die agterspeen suig, indien hoegenaamd oorweeg word.

Dit is nie net wit wat benadeel word nie. Solidariteit se saak teen DKD in die Wes-Kaap dui duidelik daarop dat die ANC sy “affirmative action” oor een boeg dryf – die bevoordeling van African Africans. Talle verhale het al ontvou waar lede van ‘n aanstellingspaneel moes wal gooi toe paneellede wat net na die name van kandidate gekyk het, by voorbaat bruin, en selfs swart kandidate se aansoeke wou uitgooi omdat die persone “wit” vanne het. ‘n Mens kan maar net wonder hoe dikwels is sulke aansoeke uitgegooi waar daar nie ‘n ingeligte in die paneel was nie.

Nou loods Solidariteit sy groot veldtog Stop ras-tellende aksie: Volgens (Dirk) Hermann aanvaar Suid-Afrikaners en veral groot sakelui te maklik dat dit wat die regering sê, die enigste manier van doen is. “Wat ons in Suid-Afrika nodig het, is ’n behoorlike stryd om idees. Ons doen ʼn beroep op akademici, vakbond-, kerk- en gemeenskapsleiers, maar veral op groot werkgewers in die sakewêreld om krities te wees oor die regering se regstellendeaksieprogram en te soek na alternatiewe wat werk.” Hermann beklemtoon dat die regering se idee van rasseverteenwoordiging eenvoudig nie werk nie. “Hulle wil dit nie erken nie, maar eerder strenger wette maak om ʼn onwerkbare idee meer aggressief toe te pas.

“Die antwoord lê nie in strenger rasseteikens nie, maar in ’n beter onderwysstelsel sodat mense bemagtig word om self aan die ekonomie deel te neem. Daar is nie genoeg vaardighede beskikbaar om die regering se teikens te haal nie. Die regering se mislukking op onderwysgebied beteken dat die regering, en nie rassistiese werkgewers nie, die grootste rede vir die mislukking van regstellende aksie is.”

Dié veldtog is nodig. Daar is diep-geankerde idees, soos die president wat onlangs in die parlement opposisiepartye genooi het om gevalle te noem waar mense wat deur “affirmative action” benadeel is, omdat hy self van sulke gevalle onbewus is.

Selfs die grondwetlike hof het in sy uitspraak oor mineraleregte die onteiening sonder kompensasie van mineraleregte “geregverdig” aan die hand van rasse-oorwegings.

‘n Onlangse peiling deur Pondering Panda het getoon dat die meerderheid jong wit, bruin en Indiër-jongmense meen die ANC het ‘n soort “omgekeerde apartheid” ingestel. Niemand is so blind soos hulle wat nie kleurblind is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.