Nuuskommentaar: Red Rooi Oktober minderheidsregte?

Rooi Oktober in Pretoria Donderdag. Foto: Facebook

Rooi Oktober in Pretoria Donderdag. Foto: Facebook

Politieke korrektheid het met Rooi Oktober ‘n witwarm patat onder Suid-Afrikaanse meningsvormers ingewerp, en die gevolg is soos ‘n tjommel-Curriebekerwedstryd Saterdag waar dit lyk of beide spanne die heel week aanslane geoefen het. 

Alles wat gevoelig is, van liddorings tot aambeie, word raakgetrap, en die geweeklaag is duidelik hoorbaar. Die vraag oor hoe sulke sensitiewe kwessies hanteer moet word, is met bedoelde of onbedoelde skoktaktiek vierkantig op die tafel geplaas. En die antwoorde is nie so maklik om te vind nie.

Hoewel daar in die jongste tyd ‘n neiging ontwikkel het waar politieke sosioloë wêreldwyd weer bestaande praktyke om die kwessie aan te spreek krities onder die loep neem, is daar ouer politieke sosioloë wat nuwe navorsingsresultate genadeloos aanval en by die ouer modelle wil bly.  Al werk hulle duidelik nie.

Uiteindelik is die vraag: Is met Rooi Oktober meer goed as kwaad aangerig?

Die oorhoofse oogmerk om minderheidsregte te bevorder, en hiermee behoort gegewe die internasionale reg en die grondwet geen probleem te wees nie.

Terwyl ‘n debat nog voortwoed oor hoe Kovsies se prof. Jonathan Jansen sake beskou om rasseverhoudinge deur die onderwys te bevorder, is min of meer dit wat Jansen bepleit besig in Nederland ‘n witwarm onderwerp in die media te word. Sedert 2008 het munisipaliteite se pogings om toe te sien dat die amptelike beleid van ras-geïntegreerde skole ‘n werklikheid is, met 40% afgeneem – ook die munisipaliteite van groot stede soos Rotterdam en Zwolle het die handdoek reeds ingegooi. Pleidooie is nou volop dat die minister ingryp om ‘n einde aan hierdie toestand te bring.

Die Rooi Oktober-organiseerder, Sunette Bridges, en Steve Hofmeyr, het beklemtoon dat dit in die eerste plek oor minderheidsregte van almal handel, en dat ander minderhede welkom is om mee te doen.

Dat baie van die deelnemers die fokus plaas op misdade waarvan blankes die slagoffers is soos moord en verkragting, gepleeg deur swart mense, en dat baie blankes in die staatsdiens en elders die teiken is van rassediskriminasie en die verval van standaarde, was egter vir baie waarnemers waaronder die media baie duidelik. En baie het dit as konfrontasiesoek, wanvoorstelling, politieke inkorrektheid en vele meer beskou.

Bygesê, dit is ook nie ‘n suiwer wit persepsie dat verlaagde standaarde tot verval lei nie. Met die Herfsgradeplegtigheid het Kovsies se kanselier, dr. Kgotso Mokhele die studente, meestal swart, aangemoedig om hul spraakvryheid in te span om hulle teen die algemene verval wat hulle om hulle sien gebeur, uit te spreek. Soortgelyke geluide kom uit die leierskap van Agang.

In die ou Suid-Afrika het dit in die strafreg as verswarende omstandighede getel as ‘n misdaad oor rassegrense heen gepleeg is. Dit het op ‘n internasionale verskynsel geprojekteer waar misdaad oor rassegrense heen dikwels rassespanning verhoog. In Suid-Afrika is dit onder meer al duidelik gesien in die vorm van betogings by verhore soos die leeukamp-insident, sleep agter ‘n voertuig, plaasmoorde, die Flippie Engelbrecht-sage en vele meer.

Die afgelope maande het ellelange lyste per e-pos die rondte gedoen (en by die media uitgekom) van onlangse gevalle van geweldsmisdaad teen blankes wat deur swart aanvallers gepleeg is.

Onlangs was daar in die VSA ‘n bohaai oor ‘n reservis wat vrygespreek is na hy ‘n swart persoon doodgeskiet het. Die skieter is van Spaans-Amerikaanse herkoms, en hoewel baie donker, nie genoegsaam swart om te voorkom dat die vryspraak ‘n rasse-herrie veroorsaak het nie.

In Suid-Afrika word al hoe meer vrae gevra of die land nie dalk in sy pogings om van die apartheidsverlede af te stap, juis die gevangene van sy eie verlede geword het nie. Ook pres. Jacob Zuma het nou onlangs tydens ‘n toespraak ‘n terloopse opmerking tot dien effekte gemaak.

‘n Opname deur Pondering Panda het ook getoon dat swart kinders se ervaring of al die ras-manipulerende maatreëls wat nou ingestel is nie weer op apartheid neerkom nie, baie anders deur wit, bruin en Indiërkinders ervaar word.

Is daar, byna 22 jaar na die laaste apartheidswet uit die wetboek verwyder is (deur die vorige regering) nog ruimte vir die verskerpte ras-manipulerende maatreëls soos wat dit nou ook in nuwe SEB-teikens gestel is, of kom dit doodgewoon op neo-apartheid neer wat alle minderhede raak? Getuig die Solidariteit-DKD-saak nie hiervan nie? Krieket SA oorweeg nou weer rasteikens (behalwe vir die nasionale span) en dié keer word gespesifiseer dit sal dan oor “Black Africans” handel. Verby is die dae dat bruin spelers en Indiërs as “swart spelers” sal deug om kwotas vol te maak.

Die Rooi Oktober-projek se meriete sal altyd beoordeel word teen die agtergrond van die rasgepolariseerde klimaat wat in die land heers, en die regering kan nie maar oor sy eie aandeel daarin eenkant gaan staan en soos Pontius Pilatus sy hande gaan was nie.

Wanneer projekte soos Red Oktober geloods word, moet die organiseerders egter ook daarop let dat styl van deelname en retoriek nie die baba saam met die badwater uitslinger nie. Maar om die frustrasies van die deelnemers, ook diegene wat met die suiwerste bedoelings deelneem, as doodgewoon verkeerd te gaan afmaak terwyl dit wat hulle tot daardie gevolgtrekkings laat kom nie aangespreek word nie, gaan ook nie enige oplossing bring nie.

En iewers is daar plek vir kundiges, veral politieke sosioloë, om ‘n paadjie te ontwerp vorentoe – en daardie paadjie gaan nie noodwendig by politici en hul aanhangers gewild wees nie. Ook nie by diegene wat meen die grondwet self kan sonder begeleiding alles oplos nie. 

Lees ook:
Sunette Bridges mobiliseer gemeenskappe wêreldwyd vir ‘Red October’

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
HELENA SEABORNE

so ons witmense mut maar agteroor sit en kyk hoe ons families en vriende uitgemoor word net sodat ander nie moet voel dat daar op hulle dik skurwe tone getrap word nie. als het ordelik en stigtelik verloop. niemand is aangerand nie, geen eiendom is beskadig of asblikke omgegooi, mense gevloek of winkels geplunder nie. wat is die probleem. jaloesie omdat ons nie tot op die ander groepe in die land se vlak gedaal het om als te verniel en vernietig wat voorkom nie. as ander soos i klomp mal goed te kere gaan is dit ok maar as ons… Lees meer »

Waaksaam

uuuhmmmm duh – Steve Hofmeyer was NIE een van die organiseerders nie !

Net Ekke

Ek hoop hierdie optogte groei van krag tot krag.

Robert Sharp.

Ek wil dit net duidelik stel dat Sunette Bridges en haar ondersteuners hulle baie goed van hul taak gekwyt het. Hul het reg aan hulle kant. Die sogenaamde Mainstream Media word lankal nie meer vertrou om nuus regverdig en feitelik korrek te rapporteer nie.
Robert Sharp.

Johleine

Gegewe die publisiteit wat die Rooi Oktober van Me Bridges ontvang was dit duidelik ‘n baie geslaagde projek! Sy en ondersteuners van die projek wou bewustheid skep en duidelik HET hulle. ;)