Nuuskommentaar: “Regterlike Droogmaakkomissie (RDK)”

Adv. Izak Smuts SC Foto: Brenton Geach, IOL

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het in die voortgesette debakel rondom die Regterlike Dienskommissie (RDK) ‘n uitgediende term wat nooit die lig moes sien nie, “omgekeerde rassisme” afgestof.

Per definisie is die beskouing dat daar so iets soos “omgekeerde rassisme” kan wees reeds rassisties omdat dit impliseer dat daar ‘n verskil kan wees tussen rassisme deur wit, en rassisme deur swart.

Rassisme is rassisme. Al wat regtig “omgekeer” kan word, is ‘n voorwerp, soos die Volla wat op die draai omgeval het en op sy dak beland het.

Die voormalige beleid van apartheid, en die ANC se beleid van neo-apartheid, is ewe veel of min rassisties.

Deurdat Mogoeng vir die RDK se standpunt dat ras belangriker as meriete is in die bresse tree, plaas hy by implikasie ‘n reuse vraagteken oor die meriete van sy eie aanstelling as hoofregter. In die debakel rondom sy eie aanstelling is harde vrae gevra oor sy eie geskiktheid vir die pos, en is sy aanstelling in wese net deur eerw. Kenneth Meshoe, leier van die ACDP, gesteun. Meshoe se steun het niks te make gehad met Mogoeng se meriete nie, maar die feit dat Mogoeng ook ‘n lekeprediker is, wie se vreemdsoortige godsdienstige opvattings tot minstens een vreemde uitspraak gelei het.

Meshoe se beoordeling moet verder beskou word teen die agtergrond dat sy oordeel hom in die verlede ook in die steek gelaat het. Na die Ivoorkus se algemene verkiesing waar die toe dienende president, Laurent Gbagbo, die verkiesing verloor, en daarna gesteel het, het Meshoe ‘n afvaardiging na die Ivoorkus gelei en sy steun aan Gbagbo, teen die wenner Alassane Ouattara, toegesê. Sy “maatstaf” was klaarblyklik dat Gbabgbo ‘n Katoliek, en Ouattara ‘n Moslem is.

As hoofregter is een van sy belangrikste take om die bekwaamheid en integriteit van die regbank bo verdenking te plaas. Teen dié agtergrond is sy pleidooi vir enige ander maatstaf as net die beste minstens omstrede. Sy kritiek dat mense wat sy, of die RDK, se uitgangspunt as onvanpas vind, eintlik ‘n aanval op die regbank loods, is sleg bedenklik, en word nog meer bedenklik met die kinderagtige uitlatings wat daarop gevolg het.

Die Regterlike Dienskommissie het verklaar dat dit die bedanking van ‘n senior lid, dr. Izak Smuts verwelkom deur te sê:.. “as hy nie tevrede is oor die wyse waarop die kommissie bestuur word nie, is dit beter dat hy bedank.” Hieroor ds. Theunis Botha, leier van die Christen-Demokratiese Party:   “Die CDP vind die wyse waarop die Regterlike Dienskommissie die saak hanteer in uiters swak smaak. Smuts het ‘n ernstige aangeleentheid aangespreek wat vir baie Suid-Afrikaners wat reeds soos vreemdelinge in hul geboorteland voel van kardinale belang is, en is toe die kop gewas. Om sy bedanking te verwelkom voel soos om op die grafte van baie lojale Suid-Afrikaners te dans. As die RDK nie meer daartoe verbind is om die grondwet te dien in die ideaal om ‘n nie-rassige samelewing te skep nie, moet hy nie verbaas wees as hy voor die hof gesleep word, soos oud-regter Johann Kriegler aangedui het hy beplan om te doen nie. Die grondwet maak eenvoudig nie vir tweedeklas burgerskap weens velkleur voorsiening nie.”

Mogoeng se uitlating voor die konferensie van regslui uit statebondslande dat “sensitiewe kwessies soos die transformasie van die regbank” versigtig hanteer moet word, of dat ge-“hamba kahle” moet word, is ‘n kwalik versluierde poging om fatsoenlikheid aan ‘n kwessie te gee wat waarskynlik deur die regbank self besleg moet word, en verkieslik voor die regbank ook deur regters oorstroom word waar hul bekwaamheid sekondêr gestaan het.

Hoe anders kon die kwessie van Engels as enigste taal van die hof, wat ooglopend ongrondwetlik is, hoegenaamd in die RDK onder bespreking gekom het?

Teenoor Mogoeng en die RDK se houding staan adv. Smuts se standpunte, soos gestel in Politicsweb, soos ‘n pilaar van waardigheid uit. En hy maak nie net stellings nie, hy noem spesifieke voorbeelde van kundiges wie uitsonderlike bekwaamhede nie tot die regbank gevorder het nie omdat hulle weens die RDK-maatstawwe uitgegooi is. Mense soos Cachalia, Budlender, van der Linde, Paterson, Gauntlett en Plasket.

Mogoeng se meerderwaardige houding dat sy interpretasie al een is wat reg is, word nie gedeel deur die gerespekteerde oud-regter Kriegler nie, terwyl die mede-argitek van die grondwet, prof. Marinus Wiechers ook vir Kriegler in die bresse getree het.

As Mogoeng probeer om die woord “transformasie” heeltemal te diskrediteer en as ‘n boetie van apartheid te skets, slaag hy nou baie goed daarin. Dit sal interessant wees om te sien of ander bekende transformasiedrywers soos prof. Jonathan Jansen tot hierdie debat gaan toetree, of besluit dis ‘n gawe plek om te makeer. Dié week vind Kovsies se gradeplegtighede plaas, en Jansen benut hierdie geleentheid tradisioneel om sy stem dik te maak oor sy strewe na akademiese uitnemendheid, met weinig, indien enige, klem op velkleur. So lank Mogoeng se beskouing nie aangespreek word nie, sal dit onvanpas bly om uitnemendheid as belangrikste doel in dieselfde asem te noem.

En bly dit ‘n geldige vraag of Mogoeng se eie aanstelling die produk van transformasie of uitnemendheid was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Kyk, die ou se aanstelling was alreeds ‘n geval dat die beste kandidaat nie aangestel was nie. Die regte kandidaat was nie wit nie maar swart en almal het hom gesteun. Mogoeng is dus ook ,n aanstelling sonder meriete en waarom sal hy so stelsel nie steun nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.