Nuuskommentaar: Reik na die sterre met knieë op die grond

Die Curiosity-verkenningstuig

Selde, indien ooit sedert die eerste maanlanding, was die mensdom so in vervoering oor ‘n menslike ruimteprestasie soos nou.

Haas ongelooflike tegnologiese en wetenskaplike prestasies is behaal om die Marstuig, Curiosity veilig op die rooi planeet neer te laat.

Die ruimteprogram se hoë koste laat voortdurend vrae oor die voortbestaan daarvan, en onder die ideale wat dreig om onder kostedruk te swig, is die moontlikheid om iewers in die toekoms mense op Mars te laat land. Verskeie Amerikaanse presidente, waaronder pres. Barack Obama, het sulke ideale aan datums gekoppel, maar dit alles kan onder kostedruk swig.

Om die Marsprogram lewend te hou, is die mensdom, en veral die Amerikaners se positiewe ingesteldheid hieroor van groot belang, en min dinge hou die mens se belangstelling so gaande as die vraag of hy alleen in die heelal is.
Met die tegnologie om ander sterrestelsels te bereik nog ondenkbaar, is die fokus op ons eie sonnestelsel gerig, en hier is daar net een kandidaat wat moontlik eens ‘n vorm van lewe sou kon onderhou het – Mars. Die aarde se susterplaneet, Venus, se oppervlak is nog so warm dat lood daarop sal smelt, en die atmosfeer so dik dat dit ons pap sal druk – trouens, die toestande herinner aan toestande op die aarde miljarde jare gelede op aarde betreklik kort na die vorming van ons planeet. Volgens alle logika is lewe daar uitgesluit.

Die oë word dus na Mars gerig, wat nou te koud is en ‘n te dun atmosfeer het om lewe soos ons dit ken te onderhou. Die magneetveld wat lewe op aarde teen erge kosmiese bestraling beskerm is grootliks afwesig op Mars.

Omdat Mars kleiner as die aarde is, en dus ‘n baie ligter aantrekkingskrag het, sou toestande soortgelyk aan dit wat ons nou op die aarde beleef veel vroeër in sy geskiedenis ontstaan het. Die planeet sou minder hitte weens sy eie gravitasie opwek, en ‘n kors sou vroeër kon ontwikkel. Waterdamp uit vulkaniese uitbarstings en moontlik waterdraende komete sou vinniger kon kondenseer, en riviere en oseane op ons kleiner buurman vorm. Rofweg gereken sou toestande geskik vir lewe soos ons dit ken, sowat 500 miljoen jaar duur, met moontlike korter periodes daarna weens ‘n toeloop van baie omstandighede wat onder meer met die inklinasie van die rotasieas en die planeet se elliptiese wentelbaan te make het.

Wetenskaplikes stem nie almal heeltemal saam oor wanneer die eerste, mees primitiewe lewe op aarde verskyn het nie, maar die aanduidings is dat dit sowat 3,5 miljard jaar gelede kom wees, dus sowat ‘n miljard jaar na die aarde ontstaan het. Sowat 2,8 miljard jaar gelede het ‘n meer komplekse bakteriese organisme verskyn wat deur ‘n tipe fotosintese die suurstofvlakke in die atmosfeer kon verhoog.

Sou daar lewe op Mars bestaan het, sou dit vroeër gewees het as op aarde, en waarskynlik reeds verdwyn het voor die aarde die eerste tekens van lewe kon toon. Die tydperk was ook waarskynlik te kort vir die ontwikkeling van meersellige lewensvorme. Curiosity is ook nie toegerus om fossiele te soek nie, en kan slegs koolstof in grond- en rotmonsters soek om aanduidings te kry dat daar eens lewe soos ons dit ken, kon bestaan het. Die hooffokus is om Mars se watergeskiedenis na te speur, maar die laboratorium aan boord sal ook veel ander toetse kan doen.
Hoe raak hierdie verwikkelinge die gelowige?

Die een wetenskaplike sal getuig dat hoe meer hy deur die wetenskap te wete kom, hoe meer staan hy in vervoering oor die wonder van die Skepper, en hoe meer word sy geloof in God se almag versterk. Die ander sal die bestaan van God wegredeneer.

Vir nog een skep die wetenskap en die wetenskaplike kennis wat ingespan word probleme vir sy eie Bybelverstaan. Vir die ander gee dit juis diepte aan sy geloof. Die wyse Salomo het immers in Spreuke by herhaling op die bates van wysheid en kennis gewys.

Die Christen weet alles – die heelal en die wetenskaplike kennis – is deur God geskep: IN die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. (Uit Johannes 1, 1953-vertaling)
Lees gerus 1 Korintiërs 13 om perspektief te kry:

Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword. Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.

Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak. Want ons ken maar gedeeltelik, en ons profeteer maar gedeeltelik, maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees. Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind. Maar noudat ek ‘n man is, is ek klaar met die dinge van ‘n kind. Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!

Die Christen sal, terwyl hy kennis soek, nie vergeet van sy medemens om hom wat in bitter nood verkeer nie.
Maar belangriker nog, die Christen is vervul met sy wete van sy afhanklikheid van God, en sy geloof sal nie wankel nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae