Nuuskommentaar: Relevansie van Afrikaans

Rapport se rubriekskryfster, Sonja Loots, raak in haar bydrae, Brief wys skrywers moet die vuis lig, aan ‘n interessante aspek, naamlik hoe relevant Afrikaanse skrywers is om foute van die regering aan te spreek, veral as dit in Afrikaans gedoen word.

Loots haal onder andere vir Antjie Krog aan wat met sinisme verklaar dat … “bad English is our main language.”

Wat hier aan die bod gestel word, is die vraag of Afrikaanssprekendes, meningsvormers inkluis, hoegenaamd gehoor word? En of dit op minagting deur die regering neerkom, en of dit werklik daaroor gaan dat Afrikaans so onbekend is onder regeringslui dat Afrikaanssprekendes hulself isoleer en irrelevant maak om hulle in hul moedertaal uit te druk?

Hoekom, as dit die geval is, is ministers uit wie se monde nog nooit Afrikaans gehoor is nie, skielik heel vaardig met die taal wanneer dit na-aan verkiesings kom?

Die Afrikaanssprekende is oor die algemeen goed toegerus om gehoor te word. Die meeste is goed tweetalig, en heelwat drie- of meertalig. Daar is dus maniere om ook die stem te laat hoor in die media wat wél die regering se aandag trek, soos die departement van basiese onderwys wat hul sterte in ‘n krul gepluk het oor ‘n gedig (in Engels) wat Marlene van Niekerk as brief in ‘n Engelstalige koerant geplaas het.

Dit beteken egter nie Afrikaanssprekendes moet Afrikaans verwaarloos nie. En hieroor kom die vraag: Betaal dit om Afrikaans te wees, of betaal ‘n mens om Afrikaans te wees?

Media 24 se dagblaaie, Volksblad, Beeld en Die Burger, het onlangs ‘n betaalplatform geword.

Raak die lys van voorregte wat nie-Afrikaanssprekendes (nog) gratis ontvang, maar Afrikaanssprekendes nou voor moet opdok, nie al so lank dat dit skadelik raak nie? Die volledige artikel wat hierdie aspek onder die loep neem, kan hier gelees word.

Is die politieke doofheid waarmee die regering geslaan is wanneer die meningsvormer of ander burgers geïgnoreer word ‘n geval van minagting? Onlangs het dit aan die lig gekom dat Solidariteit vir ‘n DKD-beampte optree omdat die beampte dit durf waag het om sy personeelevaluering in Afrikaans in te dien, en daarom nie vir bevordering aangeslaan word nie.

Gaan die nuwe taalwet wat ook maar deur regsaksie ‘n werklikheid geword het enigsins die posisie van Afrikaans verbeter? As die regering so met die grondwetlike taalbepalings omgegaan het dat Pansat vroeg na dit ingestel is, reeds bevind het die regering self is die grootste oortreder van die grondwetlike taalbepalings … wat sal maak dat die regering nou hom veel aan ‘n wet gaan steur?

Op SABC-TV lyk dit omtrent of Afrikaanssprekende kundiges soos natuurkundiges en omgewingskundiges almal moes geëmigreer het, soos voorkeur – ook in die Afrikaanse nuus – aan Engelssprekendes gegee word. Dit word skynbaar gedoen omdat baie van die joernaliste wat die onderhoude moet voer, nie Afrikaans kan, of wil praat nie. Daar was selfs gevalle waar Afrikaanssprekendes in die Afrikaanse nuus die rooi taal moes inspan. Dit, terwyl daar vir vandag saam op die vier oop TV-kanale, ongeveer vyf programme in Afrikaans is, wat die tweetalige Sewende Laan en sy herhaling, en die  Afrikaanse nuus met Engelse insetsels insluit. Slegs Voetspore (‘n herhaling) is werklik Afrikaans.

Uiteindelik is die vraag ook of Afrikaanssprekendes self die rug styf kan maak oor hul taal. Sal ‘n politieke party wat sy mediaverklarings slegs in Engels uitreik ooit ‘n titseltjie in Afrikaans belê as hy weet die Afrikaanssprekendes gaan in elk geval vir hom stem?

Gaan die bank en ander instellings waarmee ‘n mens sake doen ooit ‘n poging aanwend om Afrikaans selfs net ‘n bietjie beskikbaar te hê as Afrikaanssprekendes maar by Engels inval? Al is die “Engels” wat die instelling gebruik ook hóé “bad English”?

Dat sake ook nie kan aangaan soos nou nie, is ook ‘n gegewe. Afrikaanssprekendes skep via die ‘n verskeidenheid media, en ook die kuberruim, ‘n groot inligtingspoel, en daarin word sekere opvattings dikwels verdiep. Dié standpunte verskil dikwels erg van standpunte wat in die “Engelse ruim” ingeneem word en daar ‘n geldende norm word. Twee wêrelde ontstaan langs mekaar. So word Engels die taal van transformasie, terwyl dit in die ander niks anders as ‘n vloekwoord en euwel word nie. Die een ruimte fokus op een kant van die grondwet, en die ander op die ander kant, sodat daar onlangs selfs snuiter-uitsprake was dat die “ander ruimte” ongrondwetlik optree.

Danksy Afrikaanssprekendes se tweetaligheid is Afrikaanssprekendes dikwels ook binne die “Engelse ruimte” doenig en dit lei gereeld tot erge ongure woordewisselings, wat die beeld van Afrikaanssprekendes skaad, al is dit ‘n klein groepie wat onfatsoenlik optree. Maar, dis ‘n tweesnydende swaard. Die Afrikaanssprekende hét baie om te bied, en die grondwet sê hy mag dit in Afrikaans bied.  En wat is die nut van ‘n grondwet as dit slegs op papier regte bied? Realistiese ordentlike maniere kan ‘n paar myl goedgesindheid koop.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

H J Bester ·

Dis jammer, maar ‘n groot waarheid is dat ‘n groot deel van die agteruitgang van Afrikaans as omgangstaal in Suid-Afrika, toegedig kan word aan Afrikaanssprekendes self. Die rede is eenvoudig – te veel Afrikaanssprekendes het die geneigheid om, ongevraagd of sonder enige noemenswaardige rede, oor te slaan na Engels wanneer hulle in ‘n onderneming bedien word sonder om eers te “toets” of hulle wel in Afrikaans bedien kan word.

In meeste gevalle is die bediener wel Afrikaans magtig en gee ook nie om om die publiek in Afrikaans te bedien nie. Immers is enige besigheid verleë oor besigheid en sal alles in sy vermoë doen om die publiek tevrede te stel – al moet ook die kliënt taal, hoe skeef of krom ookal, gebesig word. Die beste gebaar daarop, is om dankbaarheid te toon en die bediener aan te prys vir die poging om Afrikaans te praat.

Om Afrikaans te probeer verskans deur op taalwette en dergelike aan te dring, is ‘n vermorsing van tyd en sal slegs weerstand teweeg bring. Praat die taal oral en so dikwels moontlik en gou sal agtergekom word hoeveel positiewe reaksie daar is op die gebruik van Afrikaans. Afrikaans sal nie met wette gevestig kan word nie – slegs met spontane gebruik.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.