Nuuskommentaar: Renosters en korrupsie

Die vonnis van 40 jaar wat ‘n Thaise burger onlangs weens sy leidende rol in die smokkel van renosterhoring opgelê is, moet as waarskuwing dien dat Suid-Afrikaners ernstig voel oor die voortbestaan van die enkele renosterspesies en subspesies wat nog bestaan. Of dan Suid-Afrikaners wat nie voor die korrupsiemonster swig nie.

In Suid-Afrika is vanjaar reeds aansienlik meer renosters gestroop as verlede jaar se rekord van 448 – iets wat reeds die buitelandse media gehaal en nog ‘n swart kol op die land se beeld oorsee gelaat het. In 2007, toe die renosterstropery begin aandag trek het, is net 13 renosters in die land gestroop.

In Suid-Afrika het die fokus egter in die stadium toe die buitelandse media op die nuwe rekord gewys het, op ‘n ander aspek geval – pas na ‘n wildboer by die owerhede toestemming gevra het om renosters te verskuif, het stropers begin toeslaan. Die suggestie was duidelik dat amptenare in die departement wat verantwoordelik is vir die welsyn van renosters, met die stropers kop in een mus is. Ongelukkig is dit nie die eerste keer dat amptenare geïmpliseer word nie, en was daar opnuut bewerings dat van die amptenare in die Krugerwildtuin ook met die stropers saamwerk.

Onkundigheid onder die amptenare is soms ook verbysterend. Toe ‘n Vrystaatse boer ‘n nuwe plaas aan amptenare van die departement van omgewingsake wys om vir die vestiging van renosters goed te keur, vra een amptenaar vir die boer of die paar springbokkies wat op die grond wei genoeg kos vir die renosters is.

Terselfdertyd neem die druk toe dat dit vir renosterboere moontlik gemaak moet word om onder beheerde omstandighede met renosterhoring te kan boer. Die gedagte is dat horing jaarliks van lewende renosters geoes word, en horing wat van dooie renosters verkry word, verkoop word. Enersyds verkry die renosterboere ‘n inkomste wat vir die bewaring van die spesies benut kan word, en andersyds word die mark waarskynlik so oorstroom dat pryse daal en dit vir die ringkoppe agter die smokkelbedryf nie meer lonend is nie.

Trouens, ‘n wildboer het met ‘n regsaksie begin om die regering te probeer dwing om daaraan beslag te gee.
Terwyl die stropery voortduur, is daar inhegtenisnemings en ‘n hele aantal stropers is doodgeskiet in skermutselings met die polisie en bewaringsinstansies.

Hoewel gierigheid, veral van die base, en Suid-Afrika se reputasie oor korrupsie ‘n groot rol speel, speel armoede ook ‘n groot rol. ‘n Plan tot bewaring, nie net van renosters nie, maar wild oor die algemeen en seebronne soos perlemoen, verg dus ‘n holistiese benadering. Die gewese Rhodesiese natuurbewaarder, Ron Thomson, se evaluasie en voorstelle kan dus dalk in die pot van moontlike oplossings ingeroer word. Hy koppel wildstropery aan die armoede as gevolg van die skerp bevolkingstoename in Afrika suid van die Sahara. Hy stel voor dat wildbewaring in bewaringsgebiede gekommersialiseer word, en dat gemeenskappe in die omgewing geldelike voordeel trek uit ‘n gemeenskapskas wat uit ‘n deel van die opbrengs befonds word. Vind daar wildstropery plaas, of strikke gevind, word bedrae afgetrek van dit wat oorbetaal word. Hoe waardevoller die dier wat gestroop word, hoe meer word afgetrek.

Thomson se voorstelle sal waarskynlik weens die internasionale verbod op kollektiewe straf, en die feit dat dit waarskynlik boendoehowe sal aanmoedig, nooit van die grond kom nie. Dit help ook min as ‘n gemeenskap aan die Suid-Afrikaanse kant van die Krugerwildtuin self renosterstropery vasvat, maar aan die Mosambiekse kant bestaan so ‘n gemeenskapskas nie en oorgrensstropery duur voort, of daar vind ‘n groot stroom onwettige immigrasie plaas om saam uit die gemeenskapskas te kom skep.

Die feit is dat die situasie ook nie kan voortduur soos dit nou aangaan nie. Suid-Afrika se pogings om die stropery van renosters te keer is duidelik nie genoeg nie, en Suid-Afrika het vanjaar reeds ‘n geelkaart by die WWF gekry.
Suid-Afrika sal ook duidelik meer teen korrupsie moet doen. Die Staatsdienskommissie het pas bevind dat korrupte staatsamptenare in driekwart van die gevalle nie vervolg is nie. Binne ’n jaar was daar ’n toename van 346% in die koste wat finansiële ongerymdhede meebring. Dié bedrag het gestyg van R100,1miljoen in 2008-2009 tot R346,5miljoen in 2009-2010.

En dit is waarvan die kommissie weet.

En dan is daar ‘n persepsie van ‘n president wat praat wanneer hy liefs moes swyg, en swyg wanneer hy moes praat (soos oor renosterstropery) – en Nkandlagate.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae